Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Mbombela (Nelspruit)

+4

Beskrywing

In die hartjie van die Laeveld, tussen sitrusboorde en golwende heuwels, lê een van Suid-Afrika se mooiste stede. 'n Plek waar mens in die strate ry en altyd bewus is van die omliggende bosveld en die pieke van die Krokodilpoortberge. Nelspruit is die ideale oorblyplek op pad na die Krugerwildtuin en Mosambiek – die stad staan ook bekend as die poort na hierdie areas. Die stad bied talle winkelsentrums en toeristebestemmings en die area se staproetes is ideaal vir voël – en wildkyk. Kom smul aan lemoene en avokado's, word wakker met die reuk van die ryp oggendgeur en ervaar 'n stad inni bos!

Die Laeveld en Mpumalanga is propvol besienswaardighede soos die Krugerwildtuin en die Panorama-roete wat Pelgrimsrus, Graskop, Sabie, Mac-Mac, Blyderiviercanyon en God's Window insluit. Baie reisigers wat deur die Malelane-poort na Mosambiek reis, stop ook in Nelspruit vir kruideniersware en 'n nagrus. Nelspruit is die hoofstad van Mpumalanga. Die streek het 'n subtropiese klimaat met gematigde, droë wintermaande en warm, klam somermaande. Hierdie klimaat dra by tot die pragtige landskap en vrugbare valleie wat daarvoor sorg dat Nelspruit veral bekend staan as 'n uitvoerder van sitrusvrugte, avokadopere en neute. Die stad se ligging het 'n diverse kulinêre erfenis geskep, soos tradisionele mopaniewurms en peri peri-sous.

Jy kan van die land se beste en mooiste besienswaardighede rondom Nelspruit kry. Die Krugerwildtuin is slegs 50 km van die stad af geleë en hier kan besoekers die legendariese Groot 5 sien. Talle wildreservate langs die Sabierivier bied intieme vakansies in die bosveld en ongelooflike geleenthede vir fotograwe. Die Panorama-roete is ongeveer 90 km vanaf Nelspruit en sluit die skilderagtige God's Window, Burke's Potholes en die Blyderiviercanyon in. In Mpumalanga kan jy een van die oudste grotte in die wêreld aantref – die Sodwala-grotte. Dié grotte is geleë tussen Nelspruit en Sabie (ongeveer 'n halfuur per motor vanaf Nelspruit). Behalwe dat dit 'n natuurwonder is, word daar ook gereeld musiekopvoerings hier gehou. Kinders sal mal wees oor die Dinosouruspark langs die Sodwala-grotte. Hier is lewensgrootte dinosourus-modelle, en 'n subtropiese woud met apies.

Nelspruit het 'n groot winkelsentrum en kasino. Vir 'n intieme ervaring kan jy soos in toeka se tyd na 'n fliek gaan kyk by die Boulevard-bioskoop. Jy kan selfs op Dinsdae- en Donderdae-aande jou eie DVD saambring en met lekker springmielies op die diepsitsofas ontspan. Die gewilde Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees word jaarliks in Nelspruit gehou. Die kunstefees het 'n prettige program propvol musiekvertonings en partytjies en bied aan feesgangers die geleentheid om Nelspruit se besienswaardighede te ontdek. Soos reeds vermeld het die stad 'n diverse kulinêre erfenis. Smul aan heerlike Portugese geregte by Adega Restaurant of proe kontemporêre Franse kos by Zest. 'n Lekker plek vir ligte etes is Suikerbossie Teetuin, 'n restaurant waar vriende kan kuier in 'n ontspanne, buitelug-stemming.

Natuurliefhebbers sal in hulle element wees in Nelspruit. Hier is 'n verskeidenheid voël- en boomspesies, so maak seker dat jy jou verkyker inpak en behoorlik tyd in die natuur deurbring. Die Laeveld Botaniese Tuine is een van Nelspruit se grootste skatte. Staproetes kronkel verby bosse,'n waterval en 'n klomp stil plekkies wat besoekers noop om piekniek te hou. Wanneer avontuur jou naam roep, trek jou tekkies aan! Kanovaart, vierwielmotorfietsritte, bergklim, rekspring, kloofswem, valskermspring, warmlugballonvlugte, mikrovliegtuigritte en kunsvlieghengel is maar net 'n handjievol voorbeelde van die opwindende aktiwiteite in Nelspruit se omgewing.

Of jy nou in Nelspruit slaap as 'n om 'n lang reis te onderbreek, op 'n sakereis is of die stad verken op 'n luilekker vertoefsreis, LekkeSlaap het net die plekkie vir jou. Word in die oggend wakker met 'n warm koppie koffie en die geroep van tarentale en fisante. Slaap sag in 'n rustige omgewing en hoor hoe die skaam, grootoog nagapie huil. Saam met LekkeSlaap kan jy Laeveldse gasvryheid en natuurskoon behoorlik ervaar.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Mbombela (Nelspruit) te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Mbombela (Nelspruit) te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.