Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Mpumalanga

+23

Beskrywing

“Jy het nie 'n graad nie en jy het nie 'n kredietkaart nodig nie ... om in die agterplaas soos 'n kind te baljaar en in die verte van 'n krans af te staar. Die gelukkigste wat ek ooit was - op die naat van my rug in 'n natuurreservaat” sing die Heuwels fantasties, en dié woorde weerklink in Mpumalanga. 'n Provinsie waar aardse bekommernisse verdwyn in die aangesig van natuurwonders. Staan verstom voor die Blyderiviercanyon se uitsigte van watervalle en groen berge en ontdek die wêreld se oudste grotstelsel. Stop sprakeloos by 'n trop leeuwyfies in die Krugerwildtuin en beleef 'n sonsopkoms oor die bosveldhorison. Pak jou tas en ry die Longtompas, loer deur God's Window en sit stil in die skadu van 'n kremetart. Kom geniet 'n Hakuna Matata-vakansie in Mpumalanga, en bly sorgvry saam met LekkeSlaap.

Mpumalanga beteken “die plek waar die son opkom,” en in dié provinsie is die natuurskoon divers - van groen valleie en woude tot eindelose vlaktes, dit is enige natuurliefhebber se paradys. Die provinsie se ligging naby aan die Indiese Oseaan gee dit 'n subtropiese klimaat, en besoekers kan dwarsdeur die jaar kom kuier. Die wildtuin is veral gewild tydens die wintermaande, maar die somer is die beste tyd vir voëlkyk. Die twee bekendste toeriste-aantreklikhede is die Krugerwildtuin en die Panorama-roete wat deur die Blyderiviercanyon strek. Behalwe vir die gewilde toeristebestemmings, is daar talle natuurreservate wat intieme wildritte bied. Mpumalanga is ryk aan historiese monumente, vriendelike mense en avontuur, dit is moeilik om te glo dat dit Suid-Afrika se tweede kleinste provinsie is!

Die Panorama-roete met sy asemrowende uitsigte, is 'n moet in Mpumalanga. Die roete begin by die klein dorpie Graskop en loop dan deur die Blyderivier-canyon natuurreservaat. Langs die pad kan jy oor die prentjiemooi landskap van God's Window tuur, die Bourke's Luck Potholes besoek en na die Drie Rondawel-kranse kyk. Die Blyderiviercanyon is een van Afrika se indrukwekkendste natuurwonders. Dit is die wêreld se grootste groen “canyon” met ruwe plantegroei teen die kranse en oorvloedige natuurlewe wat hier voorkom. God's Window is 'n hoogtepunt langs die Panorama Roete – letterlik en figuurlik. Vanaf dié uitkykpunt kan jy oor die laeveld kyk en op 'n mooi dag kan jy selfs die Krugerwildtuin in die verte sien. Besoek ook Burke's Luck Potholes – pragtige rotsformasies by die plek waar die Treurrivier en die Blyderivier saamvloei.

Die Krugerwildtuin is ook 'n plek wat jy ten minste een keer in jou lewe moet besoek. As jy eers hier kom vakansie hou, gaan jy dit 'n jaarlikse instelling wil maak. Mpumalanga is aan die suidekant van hierdie park wat van hier strek tot verby Limpopo, Zimbabwe en Mosambiek – dit is een van die grootste natuurreservate in Afrika. Behalwe vir die Krugerwildtuin, is daar ook talle privaat wildsreservate, byvoorbeeld die pragtige Sabi Sands-wildreservaat, waar mens die Groot 5 kan sien. LekkeSlaap bied ook akkommodasie in 'n ongerepte bergwildernis-reservaat op die Panorama-roete, en verblyf by al die ingangspoorte van die Krugerwildtuin, insluitend Marloth Park en Komatipoort. Daar is vir natuurliefhebbers ook verskeie staproetes in die provinsie. Op die Nelshoogte-natuurreservaat se roete kan jy die prentjiemooi laevelde verken, en op die Num-Num-roete stap jy deur 'n inheemse woud en verby manjifieke watervalle.

In Mpumalanga kan jy een van die oudste grotte in die wêreld aantref – die Sodwala grotte! Dié grotte is geleë tussen Nelspruit en Sabie (ongeveer 'n halfuur van Nelspruit met die kar). Behalwe dat dit 'n natuurwonder is, word daar ook gereeld musiekopvoerings hier gehou. Kinders sal mal wees oor die Dinosouruspark langs die Sodwala-grotte. Hier is lewensgrootte dinosourus-modelle, en 'n subtropiese woud met apies. Tussen Sabie en Lydenburg is die Longtompas, een van die mooiste en hoogste passe in die land. Maak gerus langs die pad 'n draai by die Hops Hollow-brouery en die Gustav Klingbiel-natuurreservaat, en stop by die replika van die Long Tom-kanon wat aan die pas sy naam besorg het. Nadat jy die Longtompas verken het, kan jy een van die talle 4x4-roetes in die omgewing aanpak. Die Riverwild 4x4 Trails is naby aan die Sodwala-grotte geleë en bied 'n lekker uitdaging aan avontuurlustiges.

Mpumalanga is 'n provinsie waar mens die natuur behoorlik kan geniet en waardeer. Van die Krugerwildtuin tot die Panorama-roete – die provinsie spog met 'n die mooiste landskappe. Dit is 'n bestemming met pragtige uitsigte, avontuur en wild, en bied die geleentheid vir 'n sorgvrye vakansie te geniet. Ry terug huis toe met 'n glimlag op jou gesig.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Mpumalanga te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Mpumalanga te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.
World Travel Awards
Stem vir ons in die World Travel Awards!
Stem vir ons in die World Travel Awards!
stem
stem