Al is daar nie ‘n poskantoor, vulstasie of OTM op ‘n Suid-Afrikaanse dorpie nie, sal daar ALTYD ‘n kerk wees. Ons land is bespikkel met dié argitektoniese meesterstukke wat so ‘n groot deel van ons herkoms vorm. Ek het bietjie rondgesnuffel en op ‘n paar pragfoto’s van kerke in Suid-Afrika afgekom.

Hopefield

Dié pragtige NG Kerk is onmiskenbaar wanneer jy die dorpie tussen Malmesbury en Vredenburg binnegaan. In 1851 was die eerste gemeente, Zouterivier, hier bedrywig.

Napier

Die NG Kerk is in die hoofstraat van Napier geleë en is in die vorm van ‘n Griekse kruis gebou in 1928. Die kerk spog ook met ‘n beeldskone orrel van soliede geelkoper.

Oudtshoorn

Die fyn kerfwerk in die sandsteen moet van naby af gesien word om gewaardeer te word. Dié gebou is na ‘n groot gesukkel in 1879 ingewy met 1403 gemeentelede. Die bouwerk het in 1861 al begin, maar toe die bouers en die argitek (Wallis) vassit, is Carl Otto Hager ingeroep om die gebou teen 1879 te voltooi.

Riebeek-Kasteel

Riebeek-Kasteel is een van die oudste dorpies in Suid-Afrika en het ook rondom dié gemeente ontstaan. Die NG Kerk is in 1915 gebou.

Clanwilliam

Dié NG Kerk is in 1864 gebou en is in 1973 as Nasionale Gedenkwaardigheid ingehuldig. Carl Otto Hager het dit ontwerp.

Calvinia

Dié NG Kerk met sy Neo-Gotiese styl is in 1899 ingewy. Die gemeente bestaan tans uit 390 lede.

Bredasdorp

Dié dorp het in 1838 op die plaas Langefontein ontstaan, maar hierdie kerkgebou is eers in 1917 opgerig. Bredasdorp is vernoem na Michiel van Breda, die eerste burgermeester van die dorp.

Swellendam

Hierdie sprokiesagtige gebou is in 1911 opgerig. Dié NG Kerk se fee-agtige voorkoms is te danke aan die mengelmoes van style wat in die argitektuur van die kerk te vinde is. Die gebou het Kaap-Hollandse gewels, die vensters is Goties met ‘n Renaissance-styl ingang en ‘n Barok-kerktoring. Die Swellendam gemeente is al vanaf 1798 bedrywig.

Barrydale

Dié bekoorlike plattelandse kerk se hoeksteen is in 1908 neergelê. Die NG Kerk is die middelpunt van die dorpie Barrydale wat in die skilderagtige omgewing van die Langeberg lê.

Stellenbosch

In 1710 het ‘n groot brand deur Stellenbosch gewoed wat die meeste van die huisies en die destydse kerk afgebrand het. In 1723 is die Moederkerk (soos ons haar vandag ken) aan die buitewyke van die dorp gebou om te voorkom dat dit weer gebeur. Dié studentedorp het sedertdien so ontwikkel dat die kerk nou basies in die middel staan.

Paarl

Die Paarl se Toringkerk is in 1907 ingewy en het eikehoutbanke vanuit Egipte wat genoeg sitplek vir 1800 mense bied. Die bekende toring staan 57 m hoog en is deur Sherwood, Pitts en Wood ontwerp. Die kerk se horlosie benodig gewigte van 2,5 ton om die wysers  te trek.

Richmond

Hierdie kerk is deur J.L. Leeb ontwerp en is die geestelike middelpunt waarom dié dorp in 1847 ontstaan het.  

Piketberg

Dié NG Kerk in ‘n Neo-Gotiese styl is in 1880 gebou en is vandag ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid. Carl Otto Hager het die kerk ontwerp.

Franschhoek

In 1847 is die kerk in die hoofstraat gebou nadat Martin Turk dit ontwerp het. In 1972 is dit as Nasionale Gedenkwaardigheid ingehuldig.

Ladismith

Carl Otto Hager het hierdie kerk in Ladismith ontwerp, en dit is in 1874 gebou. Dit het in 1976 status as Nasionale Gedenkwaardigheid bekom.

Ficksburg

Dié NG Kerk is deur Walter Donaldson ontwerp en is in 1905 gebou. Donaldson het ook die stadsaal in Ficksburg ontwerp. Hierdie bekoorlike kerk staan al vir langer as ‘n eeu vas in sy fondamente.

Hoopstad

Hierdie beeldskone sandsteenkerk is in 1881 ingewy. Richard Wocke het dit ontwerp.

Aberdeen

Dié NG Kerk spog met die vermeende hoogste kerktoring in Suid-Afrika en dit lê 18 cm skuins – ons eie Toring van Piza. Aberdeen se kerk is in twee fases gebou, die eerste fase is in 1864 voltooi en die tweede fase in 1908.

Nieu-Bethesda

Die kerk is in 1875 in hierdie gemeente aan die voet van die Sneeuberge gebou. Die naam, Nieu-Bethesda, het ‘n Bybelse herkoms en beteken: “plek van vloeiende water”.

Vryheid, KZN

Die NG Kerk toring hoog bo Vryheid, ‘n myn- en plaasdorpie in die noorde van KwaZulu-Natal, uit. Die kerk is tussen 1893 en 1894 gebou.

Daar word vandag nog dienste in al die kerke gehou. Soos julle kon sien is minstens die helfte van dié kerke deur Carl Otto Hager ontwerp. Hierdie Duitse argitek, skilder en baanbrekerfotograaf het bekendheid verwerf deur al die kerke wat hy in Suid-Afrika ontwerp het.  Hy het ‘n reuse bydrae gelewer tot die Neo-Gotiese boustyl. Hy het ook baie ander geboue, soos die Kweekskool en Ou Hoofgebou van die Universiteit in Stellenbosch, ontwerp.

Het jy ook mooi foto’s van ‘n kerk in ‘n Suid-Afrikaanse dorpie? Wys vir ons!