Op ’n bewolkte someroggend in Pretoria, vat ek en my gesin die pad in die rigting van Hartbeespoort. Dié vakansiedorpie is sowat 40 kilometer wes van die Jakarandastad in Noordwes en, as Kapenaars wat nog nooit in dié geweste was nie, is ons kinderlik opgewonde oor wat voorlê. Ons bereik die Hartbeespoortdam aan die voet van die Magaliesberge en is net betyds om te sien hoe ’n motorboot, wat ’n tjoep sleep, verbyskiet. Watersport is egter niks nuuts as ’n mens in die Moederstad woon nie en ons nuuskierigheid oor die onbekende kry die oorhand. Ons vaar Harties se strate in ─ die einste strate waarin die bakker op sy fiets in die Afrikaanse musiekfliek, Liefling, rondrits.

Toentertyd in Tan’ Malie se Winkel

Tan’ Malie se Winkel lê net voor die damwal en is eerste aan die beurt. Dié allerleiwinkel herinner aan ’n eertydse handelspos en was in die 1920’s die ingenieurskantoor toe die dam gebou is. Die reuk van bokkoms begroet ons met die intrapslag en dit voel byna of ons weer aan die Weskus vakansie hou. Buiten die mengelmoes reuke wat die lug vul, is dié vertrek enige kind se droom: Elke lekkerny uit toeka se dae is hier te koop, van helderkleurige stokkielekkers, kougom en stringe swartdrop, tot gesiggies, appelkosies en Wilson-toffies. Die vertrek langsaan se rakke kreun onder vars brood en beskuit, tuisgemaakte konfyt, ingelegte vrugte en ’n verskeidenheid souse en speserye. Ons skaf ’n paar pakkies klapperys aan en stap na die aangrensende restaurant waar jy ’n plaasontbyt en ’n koppie moerkoffie kan geniet.

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Elaine Groenewald (@elaine_groenewald) on

Die hoogtepunt is egter Tan’ Malie se Braairestaurant buite waar jy self jou vleis, sosaties en wors uitsoek wat saam met slaai, vars brood en plaasbotter bedien word. Al wat jy hoef te doen is om braai-instruksies te gee en in die plaasatmosfeer te ontspan. Malvalekkertert en tradisionele melktert is op die nageregspyskaart as jy nog ’n gaatjie vir iets soets het. Daarna kan jy die perseel verder verken ─ daar is selfs ’n outydse mampoerstookketel wat waarskynlik destyds tot menige vrolike kuier bygedra het.

Franse flair by French Toast Koffie Kafee

’n Besoek aan Harties is nie volledig sonder om ’n draai by French Toast Koffie Kafee te maak nie en omdat ons tot dusver net aan klapperys peusel, begin die hongerpyne knaag. Dié restaurant is voorwaar ’n stukkie Parys in die hartjie van Afrika en dis boonop ’n filmstel wat besoekers van regoor die wêreld lok. Al speel die Afrikaanse fliek, French Toast, se buitetonele in Montmartre, Parys af, is die Café Alexandre-tonele binne-in hierdie restaurant verfilm. Dit gee ons die geleentheid om middagete op ’n filmstel te nuttig!

Alles op die spyskaart klink hemels in Frans en ons sukkel om te besluit. Daar word hamburger au pain doré (hamburgerfrikkadel op Franse roosterbrood), sandwich paulet (hoender-en-mayonnaise-toebroodjies) en tarte aux pommes á la cannelle avec crumble (kaneel- en appelpastei) bestel ─ en die porsies is groot! Dis maar goed ons het weggebly van die gewildste dis, die Eiffel-burger: Drie snye Franse roosterbrood met twee hamburgerfrikkadelle, ’n eier, spek, kaas, gekaramelliseerde uie, tamatie, blare en ’n geurige sous wat soos die Eiffeltoring opgestapel word en menige smulpaap laat besef sy oë is groter as sy maag. Die soetgoed is ook nie te versmaai nie en ’n paar van ons teug sielsgelukkig aan ’n melktert-melkskommel met ’n tikkie skop.

Buite kan jy jou verbeel jy wandel deur Parys se strate terwyl jy foto’s voor die 12,5 meter hoë Eiffeltoring neem en ’n slot met jou en jou liefie se name op aan die slotbrug hang om jul liefde te verewig ─ á la Pont des Arts. Die Franse tema skep ’n romantiese atmosfeer en dié restaurant is ideaal as jy jou geliefde na Frankryk wil wegvoer, maar jou beursie dit onmoontlik maak. Bekende kunstenaars, soos Kevin Leo, Jannie Moolman en Corlea Botha, tree dikwels by French Toast Koffie Kafee se buitelugarea op en flieks word ook hier gewys.

Heeltyd speeltyd in Pretville

Die lugdruk is swaar terwyl ons Pretville via ’n turksvylaan binnestap en die plaaslike inwoners sê dit gaan binnekort begin hael. Ons verkyk ons aan die outydse motors, ’n swart-en-wit polisiekar en die groot muur wat met bekende gesigte versier is ─ kom kyk self wie jy hiér herken. Daar is ook ’n tronk, ’n straat met die naam Lieflingsingel en ’n haarsalon. Alles dien as fotohoekies en voer ’n mens weg na ’n tyd voor tegnologie, toe rock ’n roll koning gekraai het. ’n Massiewe hamburger dui die restaurantjie aan waar jy aan ’n hamburger en pienk melkskommel kan smul. Verder is daar ’n teater waar Pretville en French Toast gewys word en ’n rolskaatsbaan waarop die jongspan kan kerjakker.

Pretville is nie nét ’n bron van vermaak nie, maar ook ’n groot filmstel. Die rolprentvervaardiger en fotograaf, Paul Kruger, wou graag ’n Afrikaanse rock ’n roll-fliek maak wat in die 1950’s afspeel. Nadat die draaiboek en musiek geskryf is, het hulle nog nie ’n stel gehad om die fliek op te verfilm nie en Carltonville, Cullinan en Pelgrimsrus is oorweeg. Geen bestaande plek sou egter voldoende wees nie en die span het besluit om self ’n dorpie te bou ─ minwetend dat dit een van die gewildste toeristebestemmings in Harties sou word. Dis ook een van die enigste filmstelle waar jy die fliek wat op die stel verfilm is op die stel kan kyk! Intussen is dié fliekdorpie al gebruik om Bloedbroers en Vir die Voëls te verfilm en Snotkop het van sy musiekvideo’s hier geskiet.

Pretville is slegs op Saterdae, Sondae, openbare vakansiedae en gedurende skoolvakansies oop. Toegangsfooie is R70 per volwassene en R40 per kind. Dit sluit ’n fliek in die teater en toegang tot die rolskaatsbaan in.

Pure plaas by Jasmyn Plaaswinkel

Ons laaste stilhouplek is Jasmyn ─ ’n grasdakplaaswinkel waar jy sommer ’n hele week se inkopies kan doen. Dié oopplan-winkel het sy deure in 2004 geopen en verkoop byna alles onder die son. Organiese groente en vrugte, vars plaasprodukte, tuisgebakte brood en suiwelprodukte laat jou mond water. Jy kan ook blomme, kunsvlyt en geskenkies aanskaf en daar is selfs ’n hoekie propvol kruie en boererate wat enige skeet of kwaal sal genees! My sussie koop Turkish Delight waarna sy al lank soek en ons kry nog peuselgoed vir die pad huis toe.

Daar is ’n boekwinkel langsaan en as jy, soos ek, ’n boekwurm is, kan jy ongestoord daarbinne gaan rondsnuffel. Die Windmeul-restaurant is oorkant Jasmyn en bedien ligte maaltye, stroopsoet koek en boeretroos ─ alles met ’n Hollandse tema. Die lowerryke tuin, waterstroompies en Hollandse windmeul skep ’n salige atmosfeer en as ons nie steeds trommeldik ná ons middagete was nie, sou ons beslis langer hier wou bly.

***

Ons keer laatmiddag terug na Pretoria en haal die huis net betyds ─ die Hoëveld-hemel bars oop en bring broodnodige verligting ná ’n bedompige dag. Ons word bederf met ’n donderstorm wat my na die Kaapse winters uit my kinderdae laat verlang. Die reëndruppels tamboer op die sinkdak en dit lyk asof die naghemel ’n fotosessie hou. Ons sluit ’n onvergeetlike dag met ’n potjie poker af en luister na Moeder Aarde se mooiste melodie.

Droomland toe in Harties

Hartbeespoort is ’n immergewilde naweekbestemming onder Gautengers omdat dit minder as ’n uur se ry van Johannesburg en Pretoria af is. Boonop is daar net te min ure in die dag om by alles wat dié prentjiemooi area bied uit te kom. Daarom stel LekkeSlaap oornag- en naweekverblyf in Harties voor om seker te maak jy benut jou besoek behóórlik!

Mkholo Olive Farm | Rivendell House | Twin Greens | Three Oaks and an Aloe | Magalies Park | Magaliespark

Hooffoto, French Toast Koffie Kafee-, Pretville- en Jasmyn Plaaswinkel-foto’s: Annemarie Burger (Artery Designs)