Verlang jy terug na die dae van prentjiemooi treinritte tussen dorpe en stede? Hoe jy en jou gesin vir ’n paar dae tyd in ’n piepklein kamertjie deurgebring het op pad na jul bestemming? Dit mag dalk iets van die verlede wees, maar The Red Caboose net buite McGregor bied jou die geleentheid om ietwat van ’n soortgelyke ervaring te hê, maar hierdie treinwa staan doodstil en julle gaan baie meer gerieflik wees!

The Red Caboose with wood-fired hot tub and fire pit
Die houtvuurwarmbad en vuurput bied die mooiste uitsig oor die plaas en op die berge.

The Red Caboose is ’n 1941 SAS Caboose-treinwa, ook bekend as The Matchbox onder trein-entoesiaste, wat in Maart 2017 deur Stephanie en Dustin op Gumtree gekoop is. Die treinwa met al sy oorspronklike afwerkings was onder die Good Hope Centre-brug geparkeer en, natuurlik, in ’n vervalle toestand. Dit het egter nie die eienaars afgeskrik nie en hulle het besluit om die kolossale projek om die treinwa te koop en na hulle plaas buite McGregor te skuif, aan te pak en haar op te knap sodat sy as gasteverblyf op die platteland kan dien. Groot voorbereidings is op die perseel buite McGregor getref om die treinwa daar te kan huisves en hulle het selfs ’n gedeelte van ’n treinspoor gebou waarop die treinwa permanent kan staan. Sy is toe vanaf Kaapstad-stasie deur Ceres Rail al die pad Ceres toe vervoer en van Ceres af is sy op ’n trok na haar nuwe tuiste buite McGregor gebring. Die treinwa weeg ’n allemintige 23 ton, so dit was omtrent ’n storie om haar met ’n hyskraan op haar nuwe plek te kry. Sy is sedert Junie 2017 ’n kenmerk soos jy die stil dorpie binnery en julle kan uiteindelik sien wat alles binne aangaan. 

The Red Caboose has a kitchenette and dining nook
Die kombuisie is volledig toegerus en daar is ’n eethoekie.

Die massiewe opknappingsproses het begin toe hulle die treinwa heeltemal uit mekaar uit gehaal het en met sowat 21 000 los skroewe gesit het. Alles, van die houtpanele en vensterrame tot die blindings en ligte, is noukeurig gerestoureer om die historiese elemente te behou. Daar is klein veranderinge gemaak en alles is weer oor ’n tydperk van ses jaar aanmekaar gesit. Die ou stoorkamer is in die eethoekie omskep en wat oorspronklik die sitarea was, is nou die hoofslaapkamer met ’n dubbelbed. Die kamer met die twee enkelbedjies was die oorspronklike kompartement soos gesoute treinpassasiers dit ken. 

Bedroom and hallway in The Red Caboose
Die hoofslaapkamer het ’n dubbelbed.

Die opgeknapte treinwa neem jou terug na ’n vervloë era met haar rooi en wit buitepanele, houtvensterrame, leersitplekke en oorspronklike badkamer. Sy bied gemaklike slaapplek aan twee volwassenes en twee kinders in twee aparte slaapkamers en het haar eie kombuisie met alles wat julle nodig het vir selfsorgverblyf, ’n badkamer met ’n toilet, bad en ’n wasbak, en ’n eethoekie wat dit omtrent sal laat voel asof julle op ’n trein reis. Wat die verblyf uniek maak, is dat julle buite ook kan kuier en nie net in die trein vasgevang hoef te wees nie. Daar is ’n pragtige vuurput waar julle kan braai en die ongelooflike omgewing inneem, en ’n houtvuurwarmbad of plonspoel vir ure se genot. 

Original bathroom of The Red Caboose
Die oorspronklike badkamer sal jou terugneem in tyd.

McGregor is ’n lieflike dorpie waar julle nog die stil strate te voet kan verken en daar is lekker eetplekke, koffiewinkels en ’n Saterdagmarkie met tuisgemaakte produkte en plaaslike items. Die kunstenaarsdorpie het nie ’n tekort aan kunsgalerye en ateljees om by in te val en na mooi en unieke kuns te kyk nie. Daar is ook talle wynplase in die omgewing om heerlike wyn te proe en julle kan nie ’n besoek aan Eseltjiesrus Donkey Sanctuary net buite die dorp misloop nie. 

As jy ook nou soos ons lus is vir ’n unieke wegbreek in ’n treinwa, is dit die perfekte tyd om jou gesin met ’n stilstaande naweek by The Red Caboose te bederf!


Lees nóg van ons blogs:

Vreemde (maar fantastiese) blyplekke

Nóg vreemde (maar fantastiese) blyplekke

Hooffoto: The Red Caboose (LekkeSlaap)