Noord-Kaapse naamgenote: dié provinsie lê die hele wêreld vol met naamgenote in die VSA, Skotland en selfs in Kanada!

Askham

Askham is ‘n vreeslike klein dorpie so 200 km noord van Upington. Die dorpie is ook die tuiste van een van die wêreld se oudste stamme, die !Khomani San. Min mense weet daar is ook ‘n dorpie met die naam Askham in die Eden Distrik van Cumbria in Engeland.

Carnarvon

Carnarvon is ‘n dorp in die Sentrale Karoo en is vernoem na die Britse Koloniale Sekretaris en die Markies van Carnarvon, Henry Howard Molyneux Herbert. Dié dorp het egter ‘n naamgenoot in Kanada op die grens tussen Alberta en British Columbia, en die Carnarvon-meer wat hier geleë is, spog ook met dieselfde naam.

Concordia

Dié dorp is 22 km noordoos van Springbok geleë en is oorspronklik in 1852 as ‘n Rhenish Sendingstasie gestig. Concordia is wel ook ‘n stad in Argentinië aan die westelike oewer van die Uruguayrivier.

Copperton

Hierdie klein myndorpie is 60 km suidwes van Prieska in die hartjie van die Karoo. Copperton se naamgenoot is in die staat Utah in die VSA geleë. Die dorp is in 1926 gestig as residensiële gebied vir die mynwerkers van die Utah Kopermaatskappy.

Dingleton

Dingleton is naby aan die Sishen-myn geleë en is in 1953 deur Yscor gestig as blyplek vir die mynwerkers. Maar dis nie die enigste Dingleton in die wêreld nie, daar is ook ‘n dorpie met die naam Dingleton in Melrose, Skotland.

Douglas

Douglas is ‘n dorpie naby aan die samevloeiing van die Oranjerivier en die Vaalrivier. Daar is wel nog ‘n Douglas op ons pragtige planeet – die hoofstad van die Isle of Man!

Fraserburg

Fraserburg is noord van die Nuweveldberge geleë en is in 1851 op die plaas Rietfontein gestig. Die dorp is vernoem na die Skotse immigrant, ds. Colin Fraser. Die naamgenoot van hierdie dorpie is ook Skots! Fraserburgh in Aberdeenshire, Skotland, is die tuiste van die grootste skulpvishawe in Europa.

Richmond

Hierdie dorpie in die Karoo is in 1843 gestig. Die inwoners wou graag die dorp vernoem na die Goewerneur van die Kaap, Sir Peregrine Maitland, maar hy het voorgestel dat hulle dit eerder na sy skoonpa, die Hertog van Richmond, vernoem. Dié Karoodorpie se naamgenoot is naby aan Londen, aan die oewer van die Teems, geleë.

Warrenton

Warrenton is ‘n landboudorpie 70 km noord van Kimberley langs die Vaalrivier. Die dorp is vernoem na Sir Charles Warren. In Fauquier County, Virginia is daar nog ‘n Warrenton! Met sy talle wynplase is dit ‘n gewilde bestemming vir die stadsjapies van Washington.

Williston

Hierdie dorp is so 100 km noordoos van Calvinia geleë en het ontstaan uit die sendingstasie, Amandelboom, wat in 1919 hernoem is na Kolonel Hampden Willis. Die ander Williston is die sesde grootste stad in Noord-Dakota in die VSA.

Wil jy weet watter naamgenote daar in jóú provinsie is? Volgende week kyk ons na naamgenote in Mpumalanga!