Bêre die XBox en sleep die kinders weg voor die TV ─ dis tyd vir ’n nuwe avontuur! Hierdie jaar hoef jy nie Paashaas te speel en eiers weg te steek nie, want daar is klaar ’n magdom skatte om jou en LekkeSlaap gaan jou wys hoe om op ’n hedendaagse skattejag te gaan!

Geocaching is ’n wêreldwye netwerk wat vinnig besig is om uit te brei en deesdae het jy nét jou slimfoon nodig om te deel in die pret!

1.Wat is Geocaching?

Geocaching, 'n  nuwe skattejag. Foto's verskaf: Geogaching.com
Geocaching, ’n skattejag in lewende lywe!

Geocaching is ’n avontuurspel wat in lewende lywe aangepak word. Die idee is dat jy met behulp van GPS-koördinate ’n versteekte “skat” (oftewel ’n “geocache”) opspoor. ’n Geocache is gewoonlik ’n houer met ’n notaboek waar jy jou naam, die datum en tyd kan aanteken.

Die eerste geocache is in 2000 in die VSA geplaas, maar dié tendens het baie vinnig versprei en daar is tans sowat 2,8 miljoen aktiewe geocaches wêreldwyd wat wag om ontdek te word! Daar is reeds meer as 13 000 aktiewe geocaches nét in Suid-Afrika.

#PretFeit: Die heel eerste geocache in Suid-Afrika is op 14 Januarie 2001 geplaas – net 8 maande na die eerste een in Amerika. Dit was die 163ste geocache in die wêreld. Die tweede Suid-Afrikaanse geocache (GC185) is vier dae later op 18 Januarie 2001 geplaas. Dié cache is die oudste aktiewe geocache in Suid-Afrika en jy kan dit steeds in die Silwermyn-area van die Tafelberg Nasionale Park gaan soek!

Geocaching in Suid-Afrika het die afgelope paar jaar baie vinnig gegroei, veral met die bekendstelling van die Geocache-toep wat dié stokperdjie baie meer toeganklik vir Jan Alleman maak. Die nuwe, opgegradeerde Geocaching-toep is pas bekendgestel en is gratis, maar jy moet ’n Premium-lid wees om die meer uitdagende geocaches op te spoor. Om as ’n Premium-lid aan te sluit sal jou $9,99 (sowat R160) vir 3 maande of $29,99 (sowat R470) per jaar uit die sak jaag. Jy kan wel deur middel van die webtuiste meer gevorderde geocaches in jou omgewing opspoor.

2.  Hoe werk dit?

'n Kaart van Kaapstad en al die plaaslike geocaches. Foto's verskaf: Geocaching.com
’n Kaart van al die geocaches in Kaapstad en ’n slimfoon wat die koördinate aandui.

Daar is verskillende maniere om te werk te gaan. Die toep maak dit lekker maklik, want dit dui sommer tjop-tjop al die omliggende geocaches op die kaart aan. Elke cache het ook ’n kode wat jy kan insleutel en dan kan jy dit met behulp van jou GPS-toestel of slimfoon opspoor. Sedert 2000 is GPS-stelsels só akkuraat dat dit jou letterlik tot binne 10 m vanaf ’n cache kan neem.

3. Wat het ek nodig om te begin?

'n Slimfoon met die Geocaching-toep, 'n GPS-toestel by GCYBTZ , en 'n amptelike geocache.  Foto's: Geocaching.com (links en regs) en JP Meintjes (middel).
’n Slimfoon met die Geocaching-toep, ‘n GPS-toestel by GCYBTZ , en ’n amptelike geocache.

Al wat jy nodig het is ’n GPS-toestel of die GPS op jou slimfoon. Deesdae kan jy die Geocaching-toep aflaai en dadelik sien watter en hoeveel geocaches daar in jou onmiddellike omgewing te vinde is. Dis verstommend om te sien hoe baie daar werklik is! Die basiese toep is gratis beskikbaar en jy sal al die makliker of meer basiese geocaches in jou omgewing daarmee kan opspoor. Die gratis opsie is egter baie beperk so kranige geocachers sal definitief wil opgradeer.

Sodra jy op die webtuiste of die toep geregistreer het, is jy reg om te begin.

4. Waarna soek ek?

Verskillende geocaches, klein en groot. Foto's verkaf: Geocaching.com
’n Geocache kan verskeie vorms aanneem, maak nie saak hoe groot of klein nie!

Hier is ’n paar geocache-tipes waarvoor jy kan uitkyk:

  • Traditional Cache – ’n Tradisionele cache is gewoonlik ’n wind- en weerbestande houer met (minstens) ’n notuleboek binne-in. Die grootte kan wissel van ’n 20 liter-drom tot so klein soos jou vingerpunt.
  • Puzzle Cache –  Met ’n raaisel-cache moet jy ’n raaisel of probleem oplos om die koördinate van die geocache uit te vind.
  • Multi-cache – Hiér moet jy inligting in die omgewing van die geocache gebruik om die koördinate van die geocache uit te vind. (Amper soos ’n tradisionele skattejag.)
  • Event Cache – Só ’n cache is ’n sosiale byeenkoms van 2 of meer geocachers. Suid-Afrika se volgende “Mega Event”, waar daar 500 of meer geocachers bymekaar sal kom, vind op 1 en 2 Oktober 2016 in Kaapstad plaas.
  • Earth Cache – Hierdie tipe cache is op ’n interessante geologiese plek geplaas en dit het nie eintlik ’n houer nie. Om dié tipe geocache op te spoor, moet jy ’n paar eenvoudige vrae oor die omgewing beantwoord.

Elke cache word volgens 2 moeilikheidsvlakke (op ’n skaal van 1 tot 5) gegradeer. Die een gradering is vir die terrein en die ander is vir die moeilikheidsgraad van die cache self. ’n Terreingraad van 1 is rolstoelvriendelik, maar vir ’n cache wat 5 gegradeer is, sal jy toerusting soos ’n roeiboot, ’n leer of toue benodig om dit te bekom. Volgens hierdie graderingstelstelsel is die moeilikste geocache wat ’n mens kan “jag” ’n 5-uit-5-geocache.

(Links) Op soek na 'n skat! Foto van Geocaching.com. (Regs bo) JPMZA se eerste geocache, GC17K00. Foto: Jp Meintjes. (Regs onder) 'n Kleiner geocache. Foto: Geocaching.com.a
(Links) Op soek na ’n skat! (Regs bo) JP Meintjes eerste geocache, GC17K00.. (Regs onder) ’n Piepklein geocache.

#PretFeit: Sommige geocaches bevat klein skatjies wat jy kan hou, maar net as jy iets van dieselfde of meer waarde kan terugsit. Daar is ook ’n reeks opspoorbare items (trackables) wat jy regoor die wêreld kan volg soos wat ander geocachers dit vind en in die volgende geocache plaas. Sommige mense het tot tatoeëermerke van sogenaamde trackables wat jy op jou toep kan afmerk wanneer jy dit teëkom.

5. Wat van reëls?

Houers kan enige grootte wees. Foto's: Geocaching.com en JP Meintjes
Houers kan enige grootte of vorm wees.

Geocaching het nie regtig enige reëls nie. Al wat jy hoef te doen is om niks behalwe jou voetspore agter te laat nie, jou naam in die notaboek te skryf, jou vonds op die toep of webtuiste af te merk en die cache terug te sit presies waar en presies soos jy dit gekry het vir die volgende geocacher. Maak wel seker jy lees die terme, voorwaardes en vrywaring op die Geocaching-webtuiste.

6. Wat sê die kenners?

LekkeSlaap het by JP Meintjes (met die gebruikersnaam JPMZA), ’n regsadviseur en gesoute geocacher, gaan aanklop om meer uit te vind.

6
JP Meintjes se leeutjie, Simba, gaan saam op elke soektog. Hy het reeds 193 000 km afgelê.

– Hoe lank neem jy al aan Geocaching deel?

Ek het op 6 Januarie 2009 my eerste geocache gevind. Ek sal nooit die gevoel vergeet nie! Ek was van die eerste oomblik af verslaaf. Meer as 8 jaar later knyp ek nog gereeld tyd af om geocaches op interessante plekke te soek.

– Hoeveel het jy tot dusver opgespoor?

Tot dusver het ek 1564 geocaches gevind. iPajero is die Suid-Afrikaanse span wat al die meeste geocaches gevind het, hulle het meer as 13 000 vondse op hul kerfstok!

Kompasberg van bo. Foto: JP Meintjes
Kompasberg, net buite Nieu-Bethesda in die Oos-Kaap, bied beeldskone uitsigte van bo.

– Wat is die vreemdste cache wat jy al gekry het?

Die bekoring van geocaching is die feit dat dit my na plekke neem wat ek nie andersins sou besoek het of selfs nie eers sou geweet het bestaan nie. Te danke aan geocaching was ek al bo-op Kompasberg net buite Nieu-Bethesda (Kompasberg GC3T6TP) en was ek al op die hoogste punt in Afrika (suid van Kilimanjaro) in Lesotho (Thabana Ntlenyana GC3EC7M). Maar ’n mens hoef nie noodwendig na verafgeleë plekke te reis nie. Nog ’n gunsteling is Pta City View 5 (GCZN3D) wat ’n asemrowende uitsig op die Uniegebou in Pretoria bied.

– Wat was jou moeilikste vonds?

Ek het op 18 Desember 2010 die geocache All the Fives (GC23RQN) net buite Bloemfontein gevind. Die cache was sowat 4 m bo die grond in ’n groot populierboom weggesteek. Ná ek die wegsteekplek bereik het, moes ek boonop nog uitwerk hoe om die kombinasie van 4 magnete korrek uitmekaar te haal om die notaboek te teken!

– Het jy al buite Suid-Afrika gespeel?

Ek maak altyd tyd om ’n geocache te vind in elke land wat besoek. Ek het tot op hede geocaches in Engeland, Frankryk, China, Indië, Singapore, Lesotho, Swaziland, Zimbabwe en Mosambiek gevind. As ek gelukkig genoeg is om na ander lande te reis, hoop ek om hierdie lys aan te vul!

Van JP se vondse: (REgs) GC5CW9M - MEGA Surprise – "Hierdie geocache was die grootste wat ek ooit gevind het. Die “houer” was een van daardie “storage units” en die Mini wat in die area parkeer was, was die log. Elkeen wat die geocache gevind het, het op die Mini self die vonds aangeteken." (Regs bo) GC1RD8D Diggers Treasure en (regs onder) GCZN3D Pta View 5.
(Links) GC5CW9M, Mega Surprise, die grootste cache wat JP Meintjes ooit gevind het. Dit was in ’n stoor-eenheid en die Mini was die notaboek! Elkeen wat dit gevind het, het op dit op die Mini self aangeteken. (Regs bo) GC1RD8D Diggers Treasure en (regs onder) GCZN3D Pta View 5.

#PretFeit: JP se leeutjie, Simba, “the Great Cache Tracker”, gaan oral heen saam en het tot op hede reeds 193 000 km getoer op soek na geocaches.

JP se wenke vir ander geocachers.

1. Lees die riglyne van die spel op die Geocaching-webtuiste wanneer jy besluit om te begin deelneem.
2. Plaas die houer presies terug waar jy dit gevind het.
3. Skryf so ’n sinnetjie of twee wanneer jy die cache afmerk. Dis deel van die pret om die terugvoer van ander spelers te lees wanneer jy die geocache vind.
4. Wees versigtig en tref altyd die nodige voorsorg wanneer jy in ’n onbekende area rondbeweeg.
5. Geniet Geocaching en al die wonderlike plekke wat jy danksy die spel kan ontdek.

En wat pak hy altyd in? “My Leatherman en ’n pen of ’n potlood! Ek het al telkemale by ’n geocache aangekom net om te besef ek moet teruggaan om ’n pen te kry sodat ek die notuleboek kan teken!”

7. Leer die lingo:

BYOP: “Bring your own pen/pencil”.
TFTC: “Thanks for the Cache”. ’n Term wat algemeen gebruik word om die eienaar van die cache te bedank.
TNLF: “Took nothing, left nothing”. Gewoonlik iemand wat deel is van die spel, maar nie ruil-items het om terug te plaas in die cache nie.
FTF: “First to Find”.
Spoiler: Wanneer ’n geocacher te veel inligting skryf in die notaboek, wat die ervaring vir ander spelers bederf.

Daar is verskeie ander terme op die Geocaching-webtuiste beskikbaar.

GCQ1V1 – Danie Theron Memorial en GC31NVX Colour Coded. Foto's: JP Meintjes.
GCQ1V1 – Danie Theron Memorial en GC31NVX Colour Coded.

Nou’s dit jou beurt!

Noudat jy ’n idee het van wat om te verwag, is dit tyd om weg te spring! Laai sommer nóú die toep af en begin beplan solank jou wêreldwye skattejag …

Die webtuiste, Geocaching.com, word deur die maatskappy Groundspeak in stand gehou. Kliek gerus hiér om meer oor Geocaching en die storie agter dié stokperdjie te lees.

 
 
Inligting van: 
The complete Idiot’s Guide to Geocaching (Third Edition).
Geocaching.com
Geocachingsa.com
Ekstra inligting deur JP Meintjes (JPMZA).
 
Foto’s: JP Meintjes en Geocaching.com.
Logo: Die Geocaching-logo is ‘n geregistreerde handelsmerk van Groundspeak, Bpk. en dis met toestemming gebruik.