Kyk, om te kamp in die winter klink seker nie vir almal na pret nie, maar daar is ’n hele paar kampkonings daar buite wat dit al onder die knie het. Ons het ’n paar basiese kampwenke wat enige kamp-uitstappie, reën of mooiweer, in ’n KAMPioen-wegbreek sal omskep. So, kies vir jou ’n kampplekkie, pak vir jou ’n serpie en laat wiel … Die winter wag op jou!

JOU TENT

Wat is ’n lekke kamp-avontuur sonder ’n tent?

▲Slaan jou tent op en maak seker dat julle al die tentpenne en -pale het. Dit is veral belangrik as die tent al vir ’n geruime tydjie in die motorhuis lê. Maak ook seker dat daar geen gate of skeurplekkies in die tent is nie.

▲ Dit werk ook goed as die tentpenne in verskillende sakkies wat duidelik gemerk is, gebêre word sodat dit maklik bekombaar is wanneer jy die tent by die bestemming opslaan. Wie wil nou in die koue staan en sukkel?

▲ Maak ook altyd seker die tentpenne en -pale is skoon en droog wanneer jy dit bêre sodat dit nie roes nie.

▲ Bêre jou tent so:

▲ Bêre jou slaapsak so:

PAKLYSIE

Buiten jou normale paklysie, is daar nog ’n paar dinge waarsonder jy nie in die winter kan kamp nie.

▲ Pak ’n mussie, dik sokkies, ’n warm baadjie, ’n serp, handskoene, komberse en waterstewels in sodat jy heerlik kan kamp sonder die winterkoue wat byt.

▲ Pak ’n ekstra kombersie in om binne-in jou slaapsak te sit wanneer jy gaan slaap. Dis ’n maklike manier om jou slaapsak warmer te maak sonder om die beursie te rek en ’n nuwe een te koop. Daarenteen is dit eintlik minder effektief om jou kombers bo-oor die slaapsak te gooi, want dit druk die spesiale vesels wat hitte behou plat.

▲ Bring ook ’n lekke dik kombers om oop te gooi onder jou opblaasmatras. Dit sal voorkom dat jy in die middel van die nag wakker word met yskoue boude en dit is ook lekke gemaklik.

▲ ’n Skoppie en besempie is baie handig wanneer jy die modder vinnig van die tentvloer moet afvee en ook na die tyd wanneer jy die tent wil oppak.

ADVIES

▲ Hou liewer die tentdeur en -vensters toe. ’n Oop tent nooi die koue na binne en maak jou slaapsak nat, dan moet jy later yskoud in jou papnat slaapsak klim.

▲ Vat maar ’n ou botteltjie sjerrie saam, want dis altyd ’n wenner saam met geselsies om die kampvuur.

▲ Slaap met ’n mussie aan en pak jou tasse bo by jou kop. Dit sal voorkom dat jy hitte deur jou kroon verloor.

▲ Probeer om nie jou tasse en klere in die hoeke van die tent te bêre nie – dit word die vinnigste nat daar.

▲ ’n Grondseil of 2 is jou beste vriend op só ’n winter-kampekspedisie. Sit sommer een binne-in jou tent (bo-op die ingeboude grondseil). Dit maak die skoonmaaksessie na die tyd baie makliker en hou jou ’n bietjie warmer en droër.

▲ ’n Matjie voor die ingang sal jou ’n hele klomp kopsere en vuil beddegoed spaar!

▲ Bring ’n paar ou roomysbakke en hul deksels saam en sny klein gaatjies daarin. Sit dan die koppelpunte wat die krag na jou staanplek toe dra in die bakke om kortsluitings te voorkom.

▲ Lees ook hier oor ’n paar kitskure vir jou winter-kampkwale.

BERGE

Is jy ’n winter-KAMPioen? Watter wenke gebruik jy wanneer jy die winterweer in jou tent trotseer? Laat weet ons gerus hieronder. ▲

 Hooffoto: Phil en Pam Gladwell – Flickr