LekkeSlaap is genooi vir die amptelike bekendstelling van dié jaar se Klink Awards. Elke jaar stel dié toekennings die wynliefhebber op straat in staat om aanlyn sy sê te sê oor die beste wynbestemmings in die land. Daar is verskillende unieke kategorieë, soos “Family Day” en “Wild Card”, waarin jy kan stem vir daardie wynplaas of restaurant wat heel bo aan jou lysie is. Kom kyk solank hoe lyk ’n sonskyndag by drie van die Franschhoekvallei se beste wynplase terwyl jy wik en weeg oor jou gunstelinge!

Grande Provence

www.grandeprovence.co.za

Dié jaar se bekenstelling het afgeskop by Grande Provence, waar wyn, fynproewerskos, kuns en weelderige akkommodasie verweef word om al jou sintuie te betower. Grande Provence spog met ’n geskiedenis van 300 jaar en 47 hektaar se wingerd wat rank tot by die ruwe berge in die verte.

grandeprovencecollage
Heerlike canapés en fluweelsagte wyn by Grande Provence, ons eerste bestemming.
Dax7(GP)
Die mediaverteenwoordigers staan tussen die kunswerke op Grande Provence se pragtige grasperk en wag om opgepik te word. So tussen al die tweets en foto’s op Instagram het ons darem nou en dan ’n blaaskans gevat om die uitsigte te bewonder!

Rickety Bridge

rickety collage

Franschhoek se ouwêreldse wyntrem het ons na Rickety Bridge karwei, waar die fyn borreltjies en subtiele bessie-geure in hul Brut Rosé soos feetjies op ons smaakknoppies gedans het. Hierdie pragtige wynplaas was oorspronklik deel van La Provence, die plaas wat aan die eerste Franse Hugenote toegeken is. Na meer as 300 jaar weet dié mense hoe om druiwesap, eikehout en tyd saam te snoer om wynjuwele te skep.

 Leopard’s Leap

Die gróót bederf het by Leopard’s Leap op ons gewag. Die kos- en wynparing wat Eugene van Zyl, keldermeester, en Pieter de Jager, sjef, op die planke bring, laat ’n mens dink aan ’n duet deur twee talentvolle tenore. Eugene klink soos ’n digter wanneer hy die wyne beskryf en Pieter is meer kunstenaar as sjef. Hierdie tweemanskap toor behóórlik met die eindelose geurkombinasies in die kos en die wyn. Ek kon amper nie glo dit is moontlik om die nasmaak van die boeuf bourguignon (’n Franse bredie) te verbeter nie, dis nou tot ek ’n slukkie van die Cabernet Sauvignon geneem het … Die resultaat was ’n tweestemmige melodie op my tong wat vir my ’n vlugtige kykie op die Paradys gegee het. Leopard’s Leap se kos- en wynparing is ’n bewys dat die geheel heelwat meer kan wees as die som van die dele, selfs al is elke deeltjie hemels in eie reg.

leopardsleapcollage

Is jy ’n wynliefhebber? In watter hoekie van die Kaap skuil die wynhemel volgens jou? Die Klink Awards bied jou die geleentheid om jou lyf wynmeester te hou. Kliek hier en sê jou sê!

Foto’s: www.relax-with-dax.co.za;  www.bread-and-bubbles.co.za; www.eatout.co.za; www.flickr.com; www.chefmag.co.za