LekkeSlaap het gedink die beste manier om die dag te begin, is om ’n bietjie meer uit te vind oor hierdie hemelse drankie: Koffie. Miskien vra jy jouself af: “Wat het dit nou eintlik met reis en vakansie uit te waai?” Die antwoord is baie eenvoudig: “Alles!” Ek dink dis veilig om te sê die Groot Trek sou waarskynlik maar ’n Kleinerige Trek gewees het, as dit nie was vir die bekers boeretroos wat ons voorsate soggens die moed (en energie!) gegee het om die osse in te span nie. Ons ossewaens is nou wel deesdae effens meer gesofistikeerd, maar daardie Wimpy-cappuccino bly ’n absolute lafenis na 4 ure met die leisels in die hand. En is daar ’n beter manier om te staan en kyk hoe die bosveld stadig ontwaak as met ’n stomende koppie koffie in die hand? Wat is beter as vars seelug op jou oggendgesig, ’n uitsig oor die eindelose oseaan en die smaak van koffie op jou verhemelte?

Coffea arabica (die “soet” koffie) en Coffea robusta (die “sterk” koffie) is, naas ruolie, die produkte wat die meeste verhandel word op die wêreldmark. Koffie kom natuurlik in Etiopië voor, maar as mens die geskiedkundiges kan glo, is koffie, soos wat ons dit vandag ken, die eerste keer in die middel van die 15de eeu deur soefi’s in Jemen gebrou. Vandag word koffie in meer as 70 lande in die sogenaamde “tropiese gordel” verbou, en in 2010 is sowat 7 miljoen metrieke ton koffie geproduseer. Die Skandinawiërs drink die meeste koffie (meer as 8 kilogram koffie per persoon per jaar). Tog is dit te danke aan die Italianers se sosiale aard en ingenieursvernuf (Angelo Moriondo het die eerste espressomasjien ontwerp) dat ons vandag ’n koffiewinkel op elke hoek het.

Suid-Afrikaanse koffiedrinkers is deesdae in die sewende hemel te danke aan die koffierewolusie wat die afgelope jare stil-stil in ons stede plaasgevind het. ’n Weermag van maer, bebaarde manne met swartraambrille het êrens in ’n baie gekultiveerde guerilla-kamp geleer hoe ’n  mens koffie ordentlik rooster en brou. En vandat hulle die stede in gestuur is, is die soektog na ’n behoorlike espresso of cappuccino aansienlik verkort. Uitstekende baristas sorg dat elke koppie koffie ’n kunswerk is en die, somtyds arrogante, hipsters wat die rooster van koffiebone tot ’n kuns verhef het, word beskou as vakmanne in hul eie reg.

Begin só jou dag met goeie koffie (die lewe is heeltemal te kort om slegte koffie te drink):

1. Koop ordentlike koffie. Nie koffie wat meer as ’n jaar gelede in Milan (lees Lavazza en Illy) of Amsterdam (lees Douwe Egberts) gerooster is nie. Ondersteun jou plaaslike hipster – sy koffie sal altyd vars gerooster wees (koffie wat langer as 4 weke terug gerooster is, het weinig geure oor).

2. Moenie jou geld mors op ’n goedkoop koffiemasjien nie. Koop vir jou ’n goeie koffiemeul (Severin, Porlex of Krupps – vermy Russel Hobbs soos die pes). Niks kom naby varsgemaalde koffie nie.

3. Stof jou dompelkoffiepot (dis die Afrikaans vir plunger) af, of koop vir jou ’n mokapot. Dit bly twee van die beste (en goedkoopste!) maniere om goeie koffie te maak.

4. Gebruik gefiltreerde water sodat die koffie se geure nie met die kalk en die chloor in jou kraanwater hoef te kompeteer nie.

5. Moenie kokende water gebruik nie. Sit die ketel af sodra dit begin kook en laat dit afkoel vir ’n paar minute (dis ’n goeie tyd om die koffie te maal).

Te lui om self die ketel aan te sit? Bederf jou wederhelf by een van hierdie koffiewinkels:

Aandag alle koffieliefhebbers in Kaapstad, lees ook dié oulike blog oor 10 Bekoorlike koffiewinkels in Kaapstad.

Bronne: Wikipedia en The Coffee Mag