Net 30 kilometer vanaf die bedrywige Kaapse middestad skuil Noordhoek – ’n idilliese, lowerryke kusbuurt en die rustigheid self. Hiér is die stad se gejaag en verkeer net ’n vae herinnering. Vars lug, ’n plattelandse leefstyl en ’n gesellige klein-dorpie-atmosfeer wag op jou. Stertswaai-brakke wandel doodtevrede aan hulle eienaar se sy en motoriste hou kort-kort stil vir perde en bedreigde paddas wat oor die pad hop-gallop.

Noordhoek se ligging, luilekker-leefstyl en gesinsvriendelike doendinge maak dit die ideale wegbreekplek as jy en jou gesin van die stad wil ontsnap, maar nie te ver wil ry nie. En as julle juis die stad wil besoek en nie kans sien vir die hordes mense en voertuie nie, is dit nét die plek vir julle!

LekkeSlaap het ’n naweek in dié Kaapse kusparadys deurgebring en wys vir jou waar om te bly en wat om te doen.

Eet hiér

Van varsgebak, fynproewerskos en laatmiddag-kosmarkies tot skemerkelkies op ’n dakdek, Noordhoek het alles wat jou hart (en maag) begeer.

The Foodbarn and Deli is ’n uitstekende opsie vir ontbyt. Met Chef Frank Dangereux van La Colombe-faam aan die stuur kan jy verseker wees dat hiér nie sommer net enige roereier bedien word nie! Jy kan ook in die deli rondsnuffel vir heerlike plaaslike wyne, kouevleise en interessante kosverwante produkte en ’n vars brood of ’n soetding by die bakkery koop. Let net dat jy nie plek kan bespreek nie en dat die Foodbarn redelik besig is oor naweke. So, spring maar vroeg as jy jou boeretroos hier wil geniet.  

 

View this post on Instagram

 

A post shared by The Coffee Route (@the_coffee_route) on

Vir middagete stel ons die ma-en-seun-onderneming, Jakes on the Common, voor. Dié lugtige restaurant spog met treffende, moderne afwerkings en ’n spyskaart met ’n groot verskeidenheid opsies sodat Kleinboet met sy langtand én Grootsus met haar spesiale dieet beslis iets lekker sal kan kry. Daar is ook ’n oulike fotohoekie en speelplek as die kinders nie meer wil stilsit nie.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Dineplan (@dineplan_app) on

Die sonsondergang oor Long Beach is beslis iets om te beleef en as jy nie jou tone vol sand wil hê nie, stel ons voor jy geniet die sonsondergang en ’n skemerkelkie op The Red Herring se dakdek. Hulle piña coladas is om oor huis toe te skryf!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Lambert van Rijsewijk (@lambertvanrijsewijk) on

Indien jy op soek is na ’n romantiese eetplek onder ’n blaredak vol feetjieliggies kan jy die Monkey Valley-pad tot by Thorfynns volg en aan een van hulle heerlike disse smul vir aandete. The Toad in the Village is jou beste opsie vir lekker pizza, kroeg-kos of ’n bier. En, as jy na musiek wil luister terwyl jy aan ’n heerlik maaltyd smul is Café Roux met sy lewendige musiekvertonings die plek vir jou. Onthou net om vooraf te bespreek om teleurstelling te vermy.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by BE®️NICE (@bernice73) on

As jy gedurende die week in Noordhoek is kan jy Woensdagaande by Noordhoek Village se kosmarkie aanklop vir ’n informele aandete en Donderdagaande by die Cape Point Vineyards-markie gaan draai vir sy soel someraand-geselligheid en lekker kosstalletjies.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Patrick (@para.klet) on

Proe hiér

Komplimenteer jou heerlike maaltye met ’n hele rits plaaslike proesessies. Van wyn, kouevleis en kaas tot boetiekbier, daar is iets vir elke gier in Noordhoek.

The Red Herring Trading Post | Beach Road, Noordhoek

Wine & Swine by the Red Herring Trading Post is Chef Paul, wat die kuns van charcuterie of vleisveroudering wou leer, se blink idee. Vandag kan besoekers by dié knus proe-lokaal ’n verskeidenheid wyne, uitgesoekte kase en kouevleise wat op die perseel verouder word proe en bestel.  

'n Gesellige proesessie by Wine & Swine | The Red Herring Trading Post

Aegir, ’n onafhanklike bierbrouery op dieselfde perseel, is Rory Lancellas se lieflingprojek. Kom proe dié boetiekonderneming se 5 biere en gee sommer die vriendelike inwonende rifrug, ook genaamd Aegir, ’n kopkrappie omdat hy so ’n dierbare brak is!

Aegir Project-brouery | The Red Herring Trading Post

Indien jy eerder wil wynproe met ’n uitsig oor die see, is Cape Point Vineyards se proesessie net die ding vir jou. Jy kan sommer ’n bietjie langer by die restaurant sit en kuier en ’n bottel bestel!

Koop hiér

Vir diegene wat altyd op soek is na kosbare kopies, het Noordhoek ’n handjievol snuisterywinkels met produkte wat jy nie sommer elders sal opspoor nie. Die meeste van dié winkels is in die Noordhoek Farm Village.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by the farm village (@thefarmvillage) on

Maak ’n draai by Tenga Tenga (‘Koop Koop’ in Shona) vir gehalteprodukte deur plaaslike ontwerpers en by Pandora’s Box met sy muur vol outydse lekkers in flesse.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Rebecca Wilson Parry (@rwparry) on

By die Red Herring Trading Post is daar nog ’n kostelike winkel, Oshun, wat outentieke versamelstukke vir die huis en tuin van regoor die wêreld invoer en verkoop.

Uitgesoekte versamelstukke vir die huis en tuin by Oshun | The Red Herring Trading Post

Haal jou dieremaniere hiér uit

Laat ’n wollerige lyfie of ’n waggelende stappie jou hart vinniger klop? Dan het Noordhoek en sy onmiddellike omstreke lekker diereplesier vir die hele gesin.

Gaan kuier by die koddige Afrika-pikkewyne by Boulder’s Beach in Simonstad, net 15 minute se ry van Noordhoek af. Hiér kan jy selfs sekere tye van die jaar saam met die pikkewyne swem en die toegangsfooi word vir die versorging van hierdie oulike seevoëls gebruik.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by SouthAfrica (@southafrica) on

Net om die draai van Noordhoek, in Kommetjieweg, is Imhoff Farm met sy troetelplaas Higgeldy Piddeldy. Hier kan die kroos vir net R20 die alpakkas, bokke, varkies, hasies en ander plaasdiere besigtig.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by El Clouds🇿🇦 (@elclouds_) on

Noordhoek is bekend vir sy perdrykultuur en plaaslike ondernemings soos Sleepy Hollow Horse Riding bied rustige perderitte onder toesig van ervare gidse op die strand. Perde en hul ruiters is dus ’n algemene gesig as jy op Noordhoek se strand is!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Wholehearted Coach | Mentor (@martinesorthe) on

Stap hiér

Met Chapmanspiek aan die een kant en Ou Kaapseweg aan die ander kant, is die omgewing rondom Noordhoek werklik iets spesiaal om te voet of per fiets te verken.

Elephant’s Eye is ’n maklike sirkelroete in die Silvermine Natuurreservaat wat sommer in ’n oggend voltooi kan word. Dit het ’n grot wat soos die oog van ’n olifant lyk as middelpunt en ’n uitsig oor die Suidelike Voorstede en die Kaap. Op pad terug na jou motor kan jy regs draai en eers in die enorme reservoir afkoel, teen die wal piekniek hou of langs die koue, swart water braai. Jy kan bykans ’n hele dag in die buitelug tussen die fynbos deurbring op dié manier!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Tom Kennedy (@tkennedysa) on

Aan die ander kant van Noordhoek lê die bekende Chapmanspiek ─ sekerlik een van ons land se bekendste roetes. Dié indrukwekkende bergpas wat Noordhoek aan Houtbaai verbind kan per motor of fiets aangepak word. As jy dit te voet wil doen, stel ons voor jy volg die paadjie van Long Beach af teen die steilte op wat jou tot op die pas sal neem. Dit is ’n behoorlike steilte, so reël liefs dat iemand jou bo kom oplaai, tensy jy Ysterman is.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Bucket List South Africa ⚡️ (@bucketlistsouthafrica) on

Die immergewilde Long Beach is 8 kilometer lank en strek van Noordhoek tot by Kommetjie met die Slangkop-vuurtoring in die verte. Die strand is ook die tuiste van die SS Kakapo-skeepswrak. Neem gerus jou hond saam vir dié wandeling op die strand verby die wrak. Die sand is lekker hard langs die water so jy kan maklik hier draf.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Carmen Lorraine Photography (@carmenlorrainephotography) on

Bly hiér

Maar waar kry jy dan ’n rustige nagrus te midde van soveel doendinge?

Haven Point is die ideale plek om agteroor te sit en Noordhoek se skouspelagtige sonsondergange in te neem ─ hetsy dit op die enorme pouffe-kussing in die kuierarea, in die hangmat op die dek of langs die swembad is. Haven Point is veral geskik vir ’n groep van tot 11 gaste waar paartjies of individue hul eie slaapkamers wil hê, of vir gesinne met ouer kinders. Dit bied ’n uitsig oor die fynbos en die dorp in Long Beach se rigting en gaste kan rustig op die dek braai en kyk hoe die son sak.

Die uitsig vanaf die swembaddek by Haven Point

Daar is 4 aparte en suite-slaapkamers wat elkeen toegang tot die swembaddek bied. Die slaapkamers het gehaltebeddens met vars wit linne en dit kan as koninggrootte-beddens of 2 enkelbeddens opgemaak word. Handdoeke word voorsien. Al die kamers het gedeelde DStv, pakplek en ’n stort of ’n bad en ’n stort. 

'n Salige nagrus, 'n lekker bad, 'n mooi uitsig en veilige parkeerplek wag op jou by Haven Point!

Die sentrale vermaakarea bied ’n moderne oopplan-kombuis wat volledig toegerus is, ’n groot binnebraai, rusbanke voor die platskerm-TV en skuifdeure wat heeltemal oopskuif om die vars lug in te nooi. Daar is ’n groot etenstafel met genoeg sitplek binne asook buite op die swembaddek.

Nadat jy kos gemaak het in die ontwerperskombuis, kan jy op die pouffe-kussing, voor die TV of in die hangmat ontspan.

Gaste kan met geruste harte slaap aangesien die huis in ’n veilige buurt geleë is en daar parkeerplek op die perseel langs die huis is. Die vriendelike eienaars woon ook op die perseel en is beskikbaar om te help met enigiets wat nie in die handige gasteboekie staan nie. Daar is ook WiFi teen ekstra koste en ’n basiese skoonmaakdiens vir jou gerief.

Dié selfsorgeenheid doen beslis sy naam gestand as ’n rustige hawe in ’n rustige dorpie.

Haven Point kyk uit oor 'n klein vlei en fynbos tot by Long Beach.

As jy op soek is na ’n idilliese ruskans naby Kaapstad waar jy die stadsrumoer kan ontduik, is Noordhoek met sy plattelandse leefstyl dié plek vir jou! Waarvoor wag jy?

Noordhoek se strand, Long Beach | Haven Point

Met dank aan Amandie en Werner van Haven Point vir hulle gasvryheid.

FOTO-ERKENNINGS:

* Al die foto’s in hierdie blog wat nie vanaf Instagram verkry is nie, is deur Adriëtte le Roux geneem tensy anders vermeld.
* Hooffoto: The Tack Shop, Equibox.
* Haven Point-foto en finale foto: Alles foto’s vanaf LekkeSlaap-profiel, deur Amandie, of deur Adriëtte le Roux.