Dis die ideale vakansie: Jy lê iewers op die strand met ’n mengeldrankie in die hand en die son bak vuurwarm op jou rug terwyl jy die ander toeriste om jou lui-lui van agter jou sonbril bekyk. Maar dan skop die realiteit in ─ die vakansie is verby en jy staan maar swaar uit jou bed op om betyds vir jou eerste dag terug by die werk te wees. Ons almal ken daardie gevoel wanneer die post-vakansiemismoed inskop, maar jy hoef nie te bekommer nie ─ met hierdie lys wenke wys LekkeSlaap jou presies hoe jy van hierdie mismoedige gevoel ontslae kan raak.

1. Maak een keer per week ’n afspraak met ’n vriend ─ dit sal jou aandag aftrek en jou iets gee om na uit te sien.

2. Vakansie gaan gewoonlik met baie eet en drink gepaard, so maak weer ’n slag van jou gimnasium-kaart gebruik en laat daai endorfiene vry!

3. Maak seker jy kry snags genoeg slaap. Moegheid laat ’n mens uitgeput voel en dit lei tot terneergedruktheid en hartseer.

4. Drink ten minste twee liter water per dag. Souterige kos, alkohol en hitte lei tot dehidrasie en dit dra tot moegheid by.

5. Probeer om kunsmatige stimulante te vermy. Ek weet ’n dag sonder koffie klink onmoontlik, maar kaffeïene en ongesonde kos is jou vyand gedurende hierdie “rou-periode”.

6. Kry daagliks genoeg vars lug en maak seker jy doen elke dag iets in die buitelug. Of jy nou in die tuin werk, met die honde speel, of net ’n entjie gaan stap ─ vars lug, sonlig en reuke soos blomme en vars gesnyde gras verlaag stresvlakke en laat jou ontspanne voel.

7. Maak iets wat jou gedurig aan daai vakansie-gevoel herinner. Laat druk ’n paar van jou gunsteling-foto’s en plak dit teen die yskas, of maak ’n platelys van jou gunsteling-vakansieliedjies en luister dit op pad werk toe. Dis beter om goeie herinneringe te koester, eerder as om dit opsy te probeer skuif.

8. Hou ’n verlofdag of twee oor vir ná die vakansie sodat jy tyd het om weer tot verhaal te kom voordat jy terug werk toe hoef te gaan.

9. As daar ’n spesifieke element van jou vakansie is waaroor jy gaande was, kan jy probeer om dit by jou daaglikse roetine in te werk. Leer die taal aan of durf ’n paar plaaslike disse in jou kombuis aan ─ só bring jy ’n stukkie vakansie saam huis toe.

10. Bring ’n vakansie-souvenir saam kantoor toe. Dit sal jou nie net aan die vakansiegevoel laat dink nie, maar ook sommer jou lessenaar opkikker!

11. As daar één wenk is wat jy beslis moet onthou, is dit hierdie een: Begin so gou moontlik aan jou volgende vakansie beplan, sodat jy weer iets het om na uit te sien! Hiér is ’n paar gunstelinge om jou wenslysie te inspireer:

Oceans Wilderness | The Stables and Loft @ Glenogle Farm | Namib’s Valley Lodge

Onthou: Moenie van Ore vergeet nie ─ troeteldiere pas ook moeilik weer aan wanneer hulle eienaars terug werk toe gaan. Gee vir hulle ’n kledingstuk met jou reuk en los die radio aan.

Daarsy! Volg dié wenke en bespreek jou volgende vakansie deur LekkeSlaap.co.za. Watter van hierdie wenke help jou die meeste? Weet jy van nog wenke wat ons kan help om van die mismoed ontslae te raak? Laat ons weet in die blokkie hieronder!

Hooffoto: Oceans Wilderness