Ons almal het die ideale prentjie van die Weskus in ons gedagtes ─ witgekalkte vissershuisies en eindelose strande met meeue wat oor jou kop swiep op soek na iets te ete. Maar as jy die nuwe West Coast Way volg, sal jy ’n hele ander kant van die Weskus te sien kry. Daar is só baie versteekte juwele in die klein dorpies wat soos ’n halssnoer al langs die R27 en N7 lê ─ jy moet net in jou motor klim en ry!

West Coast Way is ’n toerisme-organisasie wat die onbekende dele van die Weskus onthul met hul 4 pragtige roetes.

West Coast Way het ons onlangs genooi om die #CultureAdventureWay saam met hulle te verken. Dié roete het afgeskop by die wonderskone Crystal Towers in Century City, waar ons in ’n luukse bussie geklim het en die pad Mamre toe aangedurf het.

Ons is met tee, skons en ope arms by die koffiewinkeltjie (Tori Oso) verwelkom en Antie Mertia het ons vermaak met staaltjies oor haar kinderdae op die werf. Daarna het Whaden Johannes, oftewel “Die Boesmanklong”, ons met sy liedjie “Karookind” bekoor. Die erfenis-staptoer op Mamre Werf was volgende aan die beurt. Dié toer begin by die oulike koffiewinkeltjie en loop verby pragtige ou geboue wat al meer as 300 jaar hier staan. Whaden het ons met sy ma se tuisgebakte broodjies bederf en ons het weer in die pad geval.

Tripod (die kat) en Charles Withington (die wynkenner) het ons ingewag by Darling Wine Shop en reggestaan met ’n blinde proesessie wat bestaan uit 2 rooiwyne en 2 witwyne. Dié klein winkeltjie bevat al die wyne van die Darling-streek en ook ’n paar van Charles se gunstelinge wat van elders af kom. Charles is baie passievol oor die wynbedryf, so dit was baie lekker om te hoor wat hy te sê het oor die wyne in sy winkel. Sy informele aanslag laat jou op jou gemak voel, selfs al is jy nie die wêreld se grootste wynkenner nie. Hoewel ons kuiertjie op Darling verby gevlieg het, is ons ’n paar bottels wyn en nuwe wysheid oor die wynwêreld ryker.

Die laaste stilhouplek op die toer is op ’n koppie langs die R27. !Khwa ttu is ’n kulturele opvoedingsentrum wat die San-mense se interessante geskiedenis hier aan die Weskus vertel. Ons het eers ’n draai gemaak by die restaurant om ons energie te herwin vir die aktiwiteite wat nog op ons gewag het. Ek beveel beslis die tuisgemaakte Eland-burger aan ─ dit kom direk van die plaas af en word saam met heerlike aartappeltjips bedien!

’n Gids het ons voorgestel aan al die “klieks” wat in die verskeie variante van die San- en Khoi-tale gebruik word. Hy het ons ook so ’n bietjie vertel van die staptoer wat volgende op ons lysie was. Op dié staptoer leer mens oor die wyse waarop die San spoorgesny het, lokvalle gestel het, en watter plante hulle in die alledaagse lewe gebruik het. Dit alles terwyl die springbokke, elande en ander diere in die verte wei. Die staptoer eindig by ’n nagemaakte kraal met huisies in die ewebeeld van vervloë jare.

Na ’n paar onsuksesvolle vuurmaakpogings het ons maar weer in die bussie geklim en na die uitkykpunt op een van die hoë koppies op die plaas gery. Op ’n mooi dag kan jy al die pad tot in Langebaan sien en Tafelberg troon ook mooi oor die baai uit. Ons kon vir ’n tydjie rustig in die sonnetjie sit en ’n drankie geniet terwyl ons die uitsig bewonder. As hulle my net daar gelos het, sou ek heeltemal gelukkig gewees het! En só kom ons #CultureAdventureWay-toer toe, hopeloos te vinnig, tot ’n einde.

Maak seker jy bespreek nóú jou toer aanlyn!

***

Baie dankie aan West Coast Way, Mamre Werf, Darling Wine Shop en !Khwa ttu wat die toer so lekke gemaak het!