In ’n fraaie vallei in die Overberg skuil ’n plaasdorpie wat veral bekend is vir sy vrugtebome, wingerde en geil graanlande wat soos ’n lappieskombers oor die berge lê. Villiersdorp het in 1943 ontstaan toe veldkornet Pieter De Villiers toestemming gekry het om ’n dorpie op ’n gedeelte van sy plaas, Radyn, uit te lê. Hy sou nooit kon raai dat dié dorpie eendag as een van die mees vername sagtevrugte-produsente in die land gevestig sou word nie!

Bloeisels in die lente | Foto: jen137_ (instagram) Dis appels net waar jy kyk | Foto: zanderernst (instagram)

Of jy Villiersdorp nou vanaf die Franschhoekpas of Sir Lowryspas nader, die rit tot hier bied besonderse uitsigte! Met die eerste oogopslag lyk dit nie asof daar veel in dié dorpie aangaan nie, maar net ná 9:00 op ’n Saterdag bars die hoofstraat omtrent uit sy nate. Plaaslike inwoners nooi jou hartlik by hul winkels in en vertel spontaan staaltjies uit die verlede. Dis plattelandse gasvryheid op sy beste!  

Villiersdorp is minder as 100 km vanaf Kaapstad, so dis die perfekte plekkie vir ’n vinnige naweekwegbreek. Daar’s hope pret en plesier vir jonk en oud, en heelwat skatte om te ontdek. So, bring die hele gesin en verken vrolike Villiersdorp saam met LekkeSlaap!

Die fraai vallei | Foto: candsmanthey (instagram) Die pragtige NG Kerk in die Hoofstraat | Foto: clockworxmouse (instagram)

1. Eet ontbyt by Kelkiewyn:

Die Kelkiewyn-restaurant. Langsaan is Villiersdorp-kelder se oulike proelokaal.

Loer sommer vroegoggend in vir ’n koppie boeretroos en ’n smullekker sakpas-ontbyt by Kelkiewyn Café in die hoofstraat. Zelda Zondagh het hierdie sinkdak-restaurantjie pragtig ingerig en sy trakteer al vir vier jaar besoekers met stewige, tradisionele plaasontbyte en interessante ontbyt-tramezzini’s.

By dié restaurant sal jy behoorlik smul! Die plaasontbyt is 'n móét.

Die rakke kreun behoorlik onder tuisgemaakte konfyt en ander ingelegde lekkernye, so maak seker jy skaf vir jou ’n potjie of twee aan voor jy weer in die pad val. Daar is ook ’n groot grasperk waar boetie en sussie hul gate uit kan geniet terwyl ma en pa klaar koffie drink. 

2. Proe wyn of druiwesap by Villiersdorp-kelder:

Villiersdorp se bekende Slowine.

Net langs Kelkiewyn is Villiersdorp-kelder se immergewildeproelokaal waar gaste meer te wete kan kom oor hul befaamde Slowine. Die Slowine-reeks sluit onder meer ’n Rosé, Chenin Blanc en Shiraz in en moet verkieslik stadig en rustig saam met vriende en familie geniet word.

Villiersdorp-kelder se kostelike treintjie in lewende lywe (links); Die geliefde Treintjiewyn (regs).

As jy lief is vir soetwyn, moet jy beslis met ’n bottel Hanepoot Treintjiewyn huis toe gaan — op die etiket is daar ’n prentjie van die kostelike swart en rooi treintjie wat voor die proelokaal staan. Dié wyn is die perfekte pasmaat vir ’n kaasbord. Vir die kleinspan is ’n wynproe by Villiersdorp-kelder nét so opwindend — hulle word met heerlike druiwesap bederf!

3. Gaan op ’n 4×4-avontuur by Kroonland:

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Erin Innocenzi (@erininnocenzi) on

Laai die kroos in die kar en durf die Kroonland-4×4-roete op die Kaaimansgatplaas aan! Dié roete is plek-plek nogal uitdagend, maar die asemrowende uitsigte oor die vallei en die Theewaterskloofdam is die beste beloning ooit! Jy kan ook jou bergfiets saambring of die berge en dale te voet aanpak. Daar is oorgenoeg pragtige rusplekkies wat ook ideaal is vir gesinsfoto’s.

4. Hou piekniek by die Stettyn-wynplaas:

Stettyn-wynplaas se proelokaal | Foto: daleenventer1 (instagram) Stettyn se bobaas-kaasbord | Foto: daleeventer1 (instagram)

Dié wynplaas 15 km noord van Villiersdorp op die R43 is gemáák vir ’n onvergeetlike gesinspiekniek. By Stettyn sal een van die vriendelike eienaars sy kennis oor die omgewing en die plaas mildelik deel en jy kan jou eie piekniekmandjie saambring om in die koelte op die uitgestrekte grasperk uit te span. Hulle bedien ook ’n massiewe, dekadente kaasbord met verskillende kouevleis, konfyt en heerlike blatjang wat op die plaas gekook word. Die kinders kan die plaas na hartelus verken en selfs Wagter is welkom — dis voorwaar ’n gesins- en troeteldiervriendelike lushof!

5. Bekyk ’n alpakka by Helderstroom:

Dierbare alpakkas | Foto: calciumlithium (instagram) Wollerige alpakkas met die Helderstroom-plaashuis in die agtergrond | Foto: calciumlithium (instagram)

Daar is min dinge ouliker as ’n wollerige alpakka en op die Helderstroomplaas kan jy dié guitige diere in lewende lywe te sien kry. Die eerste alpakkas op dié plaas is vanaf Chile ingevoer en vandag is hier sowat 40. Plaaslike werkers word in diens geneem om die alpakkas te skeer en dan veselstof met die hand te spin en stylvolle, warm en gemaklike kledingstukke te brei of te weef. Bring die jongspan en reël ’n uitstappie om meer oor dié interessante diere te leer!

6. Slaap salig by Rietspruit Country Cottage:

Rietspruit Country Cottage

As jy klaar ’n paar foto’s saam met die alpakkas geneem het, kan jy salig gaan slaap by Rietspruit Country Cottage oorkant die pad. Hiér sal die dierbare Di en John jou gulhartig ontvang en oorlaai met vriendelikheid en omgee. Daar is 2 gesinseenhede wat elkeen slaapplek vir 4 gaste het en die kinders sal veral gaande wees oor hulle oulike solderkamer wat via ’n wenteltrap bereik word. Daar is bobaas-braaigeriewe langs die prentjiemooi dam en die twee inwonende bokke sal oud en jonk bekoor. Hier heers ’n ware plaasgevoel en jy kan selfs ’n perdrit op die plaas langsaan onderneem. Dis nou wat ’n mens ’n gesinsvriendelike blyplek noem!

Rietspruit Country Cottage

Nog pret en plesier vir die jongspan:

– Naaldwerkklasse vir laerskool- en hoërskoolleerders by Appelief Designs in Victoria-straat.

– Lapverf- en porseleinpopklasse by die Pop & Lap Wolwinkel in die Hoofstraat.

– Museumbesoek by die Dagbreek Museum in Graaffstraat.

– Kersmark met Liefde by die Veteraan Trekkerstoor: 28 November tot 2 Desember.

– Dorpsmark Saterdae voor die Dagbreek Museum.

Die mooie Villiersdorp is beslis ’n besoek werd!

Kom verken dié juweel in die Overberg saam met die hele gesin, en bring sommer vir Wagter ook saam!

Let wel: Weens die droogte in die Wes-Kaap is die Theewaterskloofdam baie leeg. Onthou ook om water spaarsamig te gebruik as jy dié vakansie in die Wes-Kaap kom kuier. 

Foto’s deur Daleen Venter tensy anders vermeld.