Dié dorpie aan die suidpunt van die Kamdeboovlakte is ’n baie spesiale plek, soos ons gou sal uitvind, want dit is die tuiste van ’n leërskare engele en, bly jy ’n rukkie, ervaar jy hulle gulhartigheid eerstehands.   

Die wêreld is vaal en stil, en buiten ’n handjievol turksvybome wat vooroor buig van die dors, is daar nie ’n koelteboom langs die N9 te sien nie. Soos ons in Willowmore afdraai, maak die bleek vlaktes egter plek vir helder sinkdakke, soutbosheinings en vriendelike dorpenaars op pad na hul naweekbestemmings. Dié dorpie aan die suidpunt van die Kamdeboovlakte is ’n baie spesiale plek, soos ons gou sal uitvind, want dit is die tuiste van ’n leërskare engele en, bly jy ’n rukkie, ervaar jy hulle gulhartigheid eerstehands.   

Skuins oorkant die Engen-vulstasie staan twee nederige langore met blommekransies by ’n spoggerige groen en geel waentjie ingespan. Dís nou die Willow Limo, die donkiekar waarmee besoekers in ware Karoo-styl ’n vyftien minuut-verwelkomingsgallop deur die dorp kan geniet. 

Kort voor Wehmeyerstraat grondpad raak, is ons tuiste vir die aand, The Willow Historical Guest House, aan die linkerkant. Dis ’n indrukwekkende Victoriaanse gebou met ’n pragtuin waarin die gesnoeide rose en bome al liggroen bot om die lente te verwelkom. The Willow was op sy dag ’n pastorie, pakstoor, losieshuis en ’n meisieskoshuis, maar vir El-Anne, die bestuurderes, is dit maar nog altyd haar hartsplek ─ eers as die gesinshuis wat haar pa, Pepi van der Merwe, vol Karoo-versamelstukke gemaak het en vandag as die driester-gastehuis wat sy en haar hoërskoolliefde by Pepi oorgeneem het. 

The Willow Historical Guest House se agtertuin.
Selfs The Willow Historical Guest House se agtertuin is ’n lente-lushof.

El-Anne vertel hoe sy en haar sibbe kleintyd gewonder het hoekom hulle huis altyd met “ou goed” gevul moes word.

El-Anne vertel hoe sy en haar sibbe kleintyd gewonder het hoekom hulle huis altyd met “ou goed” gevul moes word. Nou sien sy die waarde wat haar pa se versamelstukke tot die gastehuis voeg. ’n Mens kan vir ure rondloop en jou aan die oudhede vergaap. Die toppunt van Pepi se versameling is die kroegie langs die eetkamer waar verskeie skatte van geskiedkundige waarde uitgestal is. Dié watergat het egter te klein geraak vir die toeloop, dus is daar nou nóg ’n oog op die perseel langs die swembad, waar El-Anne se man ruimhartig drankies skink en drie vriendelike honde gemoedelik witvoetjie soek.

The Willow Historical Guest House
Van voorportaal tot eetsaal, The Willow Historical Guest House is deurtrek van pragtige versamelstukke. Die kroegie by die eetkamer (heel regs) het baie items van geskiedkundige belang.

In my kamer prop ek vinnig my kopkussing-sjokoladetjie in my mond voor ons The Willow vir eers groet, want ’n 4×4-rit by Finchley Farm wag op ons. Net buite die dorp ontmoet ons vir Joanne en Michael Kroon wat al 23 jaar hier boer. Kort voor lank sit ek en Hestè saam met Joanne voor in die bakkie vir die 27 kilometer-rit teen Aasvoëlberg op. Op pad na die kruin sien ons steenbokkies, koedoes en ’n groep oujongkêrel-donkies. Die laaste, steilste ent is gerieflik met sement geplavei en, soos ons vorder, verander die Karoo-plantegroei plek-plek in kusfynbos ─ ’n pragtige en eienaardige verskynsel vir twee Kapenaars in die Karoo. Bo-op die kruin, verduidelik Joanne met vernuf wat elk van die torings op die berg doen en ek vind uit hoekom my selfoon nooit sein het nie. Dóér onder lê Willowmore, nou so klein dat ek dit met my duim kan toedruk. 

Dóér onder lê Willowmore, nou so klein dat ek dit met my duim kan toedruk. 

Aasvoëlberg, Finchley Farm, Willowmore
Op Aasvoëlberg se kruin kan jy die Karoo van alle kante bekyk. Plek-plek groei daar ook kusfynbos kenmerkend van die Kaapse berge.

Terug by die plaashuis blink Joanne se oë toe sy vra of sy ons iets in die dorp kan wys. Soos ons tydens die Karoo se roosgoud-uur deur die dorp ry, vertel sy ons met trots van Willowmore se Verfraaiingskomitee en wys die talle dorpstuintjies en projekte wat die komitee al aangepak uit. Dié groep weldoeners sorg dat die dorp onderhou word ondanks die verskriklike droogte wat dié streek in sy greep het. Maar dit is nie nét die hoofdorp wat verfraai word nie. In Lovemore, ’n buurt aan die verste punt van die dorp, is daar ook orals bome geplant en kinders sit doodluiters in die skadu en speel.

Willowmore
Elke hoekie van Willowmore word pragtig versorg deur sy inwoners en selfs in die systrate is daar geen gebreekte vensters of skilfermure nie. Regs onder hou ’n standbeeld van ’n angorabok, kenmerkend van dié streek, wag oor die dorp.

Willowmore se bome is die nalatenskap van ’n spesiale jong man wat hom sowat tien jaar gelede voorgeneem het om teen 2020 ’n duisend bome in sy tuisdorp te plant.

Willowmore se bome is die nalatenskap van ’n spesiale jong man wat hom sowat tien jaar gelede voorgeneem het om teen 2020 ’n duisend bome in sy tuisdorp te plant. Selfs toe hy weg is hoërskool toe het hy en sy vriende naweke elke boom wat hulle kon vind in die dorp kom plant. Toe hy in 2017 tydens sy eerstejaar op universiteit in ’n gewapende rooftog oorlede is, het die begrafnisskare ter ondersteuning van sy passie vir sy gemeenskap sowat driehonderd bome gebring om in die sportstadion, strate en buurt te plant. Dit is in hierdie verhaal waar die Verfraaiingskommittee se wortels begrawe lê en vandag groei die jong man se nalatenskap oral in die dorp waar dit koelte bied vir enigeen op soek na beskerming teen die versengende Karoo-son.

Lovemore, Willowmore
In die woonbuurt, Lovemore, bied die Verfraaiingskomitee se bome koelte aan Karoo-kinders.

Terug by The Willow is dit tyd vir aandete. Ons geniet eers ’n drankie en ’n paar stories by die kroeg voor ons in die eetkamer by vleiende lig en ’n wit gedekte tafel aansit. Vars brood en botter word deur ’n gevulde hoenderborsie op basiliepesto-pasta vir my en ’n stomende kerrie vir Hestè gevolg. Die gastehuis se restaurant is oop vir ontbyt (as jy voor tienuur aansit) én vir aandete, en gaste kan gerus ’n bespreking maak om van Mirinda en Thelma se smullekker etes te geniet. Die mense in die kroeg is só gesellig dat ons ’n nagsopie geniet voordat ons na ons kamers terug keer en tussen kraakvars linne inskuif.  

The Willowmore Historical Guest House
The Willow se pragtige eetkamer (links), drie vriendelike brakke groet ons by die kroeg (middel), en my heerlike aandete (regs).

Toe ek die Luna-ontbyt versoek, giggel die kelnerin en vra, “Maar gaan jy dan nou vir my eet?”

Saterdagoggend eet ons ontbyt by Sophie’s Choice, ’n koffie- en antiekewarewinkel in die hartjie van die dorp. Sophie is, soos haar man, Pepi, ’n top-skatteversamelaar, maar haar spesialiteit blyk kandelare en tafelware te wees. Ek verwonder my aan die goue kelkie waarin botterkrulle pronk en die sout- en peperhouertjies van gesnede glas waarmee ons tafel gedek word. Toe ek die Luna-ontbyt versoek, giggel die kelnerin en vra, “Maar gaan jy dan nou vir my eet?” Sy wys trots na haar naambordjie: Luna staan in krulskrif daarop. Sophie verduidelik later dat sy die ontbyt na Luna vernoem het omdat dié so ’n voorslag is, veral met die heerlike sadebrood waaraan ek so smul. Ons sit voor teen die straat sodat ons kan sien hoe die dorp ontwaak en drink rustig ons koffie klaar terwyl ons met Sophie gesels.

Sophie's Choice, Willowmore
Of jy vir ontbyt wil aansit, jou aan luisterryke antiekeware wil vergaap of in the stil feetjietuin wil wegkruip, ’n besoek aan Sophie’s Choice is ’n móét as jy in Willowmore is.

Wanneer dit tyd is vir ons dag om te begin, rol Hestè haar oë vir my, want Sophie het ons ingelig dat die dorpsboetiek, Linky’s, ’n uitverkoping het en ek kan nie my geluk glo nie. Ons bring baie meer tyd in dié eksentrieke klerewinkel deur as wat ons moet en moet eers by die motor stop om my pakkies te bêre voor ons aanstryk …

Linky's, Willowmore
As jy lief is vir helder kleure, borduursels en eksentrieke klere en keramiek, maak by Linky’s ’n draai.

… wat my aandag trek, is die rak vol kruiedoepas, kleurvol verpak en duidelik gemerk volgens plant en kwaal, sodat jy nie ’n oordosis Karoo vat nie ─ as so iets moontlik is.

Maar Linky’s is nie al waar die kasregister klap nie. De Oude Apteek het, soos my ouma sou sê, alles van ’n trekker tot ’n gulpsknoop. Daar is oudhede, kruideniersware en ’n regte egte lekkergoedtoonbank, maar wat my aandag trek, is die rak vol kruiedoepas, kleurvol verpak en duidelik gemerk volgens plant en kwaal, sodat jy nie ’n oordosis Karoo vat nie ─ as so iets moontlik is. Dan moet ek eers vir my ma ’n paar bolle sybokhaarwol by die Mohair-winkel koop. Die Oos-Kaap-Karoo is die wêreld se grootste vervaardiger van dié luukse, gesogte vesel omdat angorabokke, wat soos hippies met hul tooiinghare lyk, in dié klimaat aard. 

De Oude Apteek, Willowmore
Kry ’n bietjie “natural healing” en sommer ook jou kruideniersware by De Oude Apteek.

Teen 10:00 ontmoet ons vir Nathan van Karoo Angels voor hulle nuwe perseel oorkant die vulstasie. Die Karoo Angels het as ’n projek om die gemeenskap in Vondeling te bemagtig begin en later het ’n groep kunsvlytwerkers van Rietbron ook bygekom. Vandag word die bekoorlike Karoo-engeltjies van gehekelde draad, kraletjies en vere reg oor die wêreld verskeep. Elke engeltjie in die reeks is na een van die kunstenaars se geliefdes vernoem. Alhoewel die nuwe perseel nog onvoltooid is, kan die engeltjies tans oor die internet bestel word, of jy kan dit by die Belly Deli se geskenkwinkel in die dorp koop. Hestè koop sommer vir elk van haar susters een, want dis die perfekte kersgeskenk en daar hang ’n tipe towerkrag aan die fyn figuurtjies.

Karoo Angels, Willowmore
Die Karoo-engeltjies is deur kunsvlytwerkers van Vondeling en Rietbron gemaak. Vat ’n bietjie van hulle towerkrag saam met jou huis toe!

Dan is dit eers tyd vir iets wat die manne sal geniet. Ons maak ’n draai by die ou Blackstone-kragstasie wat tot 1984 sowat driehonderd huise in Willowmore van krag voorsien het. Die ses Lister-Blackstone-dieselkragopwekkers is pragtig onderhou ─ die grootste een werk nog! ─ en kan deur besoekers besigtig word as hulle die sleutel by die toerismekantoor optel. Daniel Hommies, die wag by die kragstasie, straal van trots oor die museum wat hy help bewaar en vertel ons dat die kragopwekkers destyds só geraas het dat ’n skoolklok binne die stasie opgesit is om van buite af met die operateurs te kommunikeer. 

As jy net aan die lah-di-dah gholfbane van die stad gewoond is, moet jy een of ander tyd by Willowmore se Karoo-gholfbaan kom toets of jy regtig jou sout werd is.

Aan dieselfde kant van die dorp is Willowmore se gholfbaan. As jy net aan die lah-di-dah gholfbane van die stad gewoond is, moet jy een of ander tyd by Willowmore se Karoo-gholfbaan kom toets of jy regtig jou sout werd is. Dié baan het grassetperke, maar die skoonveld is grond ─ Karoo-grond ─ en sal wys of jy regtig ’n hardebaard-speler is. Die baan is heel week oop en spelers mag maar vir hulle ’n ou stukkie kunsgras saambring om op af te slaan. 

Blackstone-kragstasie (links) en Willowmore se gholfbaan (regs)
Daniël Hommies, die Ou Blackstone-kragstasie se wag verduidelik vir ons van die kragopwekkers (links) en Willowmore se gholfbaan sal jou sout as gholfspeler toets.

Terug in die dorp ry ons verby Kapoet Padstal, ’n gepaste naam vir hoe ons in die middaghitte voel. Die suurlemoengeel sambrele voor dié oulike padstal en die yskoue Cream Sodas wat Rona, die bestuurderes, vir ons bring, kikker ons darem op. Kapoet was eens ’n vervalle gebou wat deur Hennie Lötter van Boer Soek ’n Vrou-faam opgeknap is. Deur die week kan jy ’n heerlike sny koek of ’n ligte middagete hier geniet en Sondae word ’n buffet-ete bedien. Wanneer Rona ons groet, stop sy ons ’n pak droëwors en biltong in die hand vir die pad. My tipe Karoo-engel. 

Kapoet Padstal, Willowmore
Kapoet Padstal bars uit sy nate van lekkernye.

Ons heel laaste draai vir die dag is om ons hongerpyne behoorlik by die Belly Deli te stil. Met sy helderkleurige, batiek-styl plekmatjies, vriendelike kelners en ruim, onopgesmukte porsies, is dit nét wat ons nodig het. Die deli se houtvuur-pizzas en hoenderpasteie is hul spesialiteit, maar ek geniet ’n biefburger ─ die grootste burger wat ek al met die blote oog gesien het ─ en ’n glas tuisgemaakte gemmerbier daarby, want dis vrek warm. 

Belly Deli, Willowmore
Ons sluit ons Willowmore-kuier met ’n burger en ’n yskoue glas gemmerbier by Belly Deli af.

Dan moet ons Willowmore groet. Ons draai die motor se wiele traag terug op die N9, want ons sou graag langer wou bly om Willowmore se engele te beleef. Of dit nou die krale-engeltjies by Karoo Angels, die jong boomplanter met ’n hart vir sy gemeenskap, of een van die talle inwoners is wat hulle dorp met soveel oorgawe met ons gedeel het, daar kan nét goeie herinneringe wees van ’n dorp met soveel engele. 

Willowmore
Ons groet Willowmore en sy Karoo-engele met ’n swaar hart.

____________________________________________

Baie dankie aan Jane Zaayman vir die reëlings rondom ons kuier, aan El-Anne van The Willow Historical Guest House vir jou uitsonderlike gasvryheid, aan Joanne en Michael Kroon dat julle ons die mooiste dele van die dorp en sy mense gewys het, en vir Sophie’s Choice, Belly Deli en Kapoet-padstal dat julle ons met soveel flair onthaal het. 

Hooffoto: The Willow Historical Guest House (Adriëtte le Roux)