LEKKE
PLEKKE
LEKKE
PRYSE
LEKKE
VEILIG

Kaapse Roete 62

 by Kaapse Roete 62 | LekkeSlaap
+1

Beskrywing

“Hier is net ’n ligte bries wat waai, dis onder waar die droë warrelwinde draai. Dalk is dit my siel wat nou bedaar, berge en dale ontmoet mekaar” sing Laurika Rauch, en dié lirieke pas die prentjiemooi Roete 62 soos vellies aan 'n Karooboer. Tussen Oudtshoorn en Robertson kan jy die versteekte skatte van die Kaap ontdek terwyl jy deur 'n ongerepte landskap van berge en vlaktes reis. Die pad is 'n uitstekende alternatief om die besige N2 tydens Desembermaande te vermy, maar moenie dié roete te haastig aanpak nie. Raak rustig en kunssinnig in Calitzdorp, proe Montagu se muskadel en verloor jou hart op die pragtige Barrydale. Pak 'n vertoefreis aan en beleef die saligheid van Roete 62 ? hier lê die ware avontuur nie in die eindbestemming nie, maar in die reis self.

Tydens Desembermaande is die Tuinroete dikwels 'n miernes van bedrywighede. Die paaie raak 'n vertoonvenster van nommerplate, die mense is volop en die stilte is skaars. Alhoewel die Tuinroete se pragtige strande en magiese landskap vir die skares vergoed, voel dit dikwels asof jy nog 'n vakansie kort sodra jy op die N2 klim op pad huis toe. Mik dan na George en draai af na Oudtshoorn ? hier is die landskap ongerep en die atmosfeer ontspanne. Die Kaapse Roete 62 strek deur vlaktes en kronkel deur valleie, en dan en wan word jy verras met 'n kostelike plattelandse dorpie. Oudtshoorn, Calitzdorp, Zoar, Amalienstein, Ladismith, Barrydale en Montagu is almal unieke dorpe waardeur die roete strek. Dit is egter net dié dorpe wat reg langs die roete geleë is en daar word dikwels gedebatteer oor waar Roete 62 se invloed en streek werklik stop. Die klimaat langs die pad is oorwegend tipies van die Klein Karoo: dit kan snikkend warm word deur die dag en snerpend koud wees in die aande. Maak gevolglik seker jy bespreek 'n warm slaapplekkie vir die aand sodat jy na 'n dag van verkenning kan rus in 'n kostelike Karoo-gastehuis van klipmure en met 'n behoorlike stoep.

Die Kaapse Roete 62 begin amptelik in Oudtshoorn, waar jy meer as 'n middag benodig om al die aktiwiteite te geniet. Oudtshoorn is 'n plek van eerstes en avontuur – verken manjifieke grotte, wees braaf en ry op 'n volstruis se rug en gaan kuier by meerkatte. Die Kango-grotte is omtrent 25 km van Oudtshoorn af geleë en is een van Suid-Afrika se oudste en bekendste toerismebestemmings. Die grotte is 'n plek met 'n ryk natuurlike geskiedenis en geheimsinnige atmosfeer. Alhoewel daar geen natuurlike bron van lig is nie, is daar 'n vreemde rotstekening in die grotte. Wanneer jy dié rotstekening van een kant af kyk, sien jy 'n olifant en van die ander kant af verskyn daar 'n eland. Indien jy die grotte wil besoek op 'n begeleide standaard- of avontuur-toer, is dit noodsaaklik om te bespreek, want hulle kan slegs 'n paar mense per toer binne laat om sodoende die grotte te bewaar. By De Zeekoe Gasteplaas kan jy 'n meerkattoer bespreek, of jy kan 'n draai maak by die Cango-volstruisplaas waar jy op die volstruise kan ry of op volstruiseiers kan staan.

Toer vanaf Oudtshoorn na Calitzdorp, 'n nederige plekkie wat Suid-Afrika se port-hoofstad is. Hier kan jy 'n donkierit deur die platteland onderneem vanaf Calitzdorp na Die Hel. Die eintlike rit is 'n roete van 25 km wat oor 3 dae plaasvind, en jy stap dan saam met 'n begeleide gids terwyl 'n donkie die pakkasie dra. Indien dit eerder soos 'n marteling as 'n avontuur klink, kan jy ook net die natuurskoon rondom Calitzdorp waardeer of 'n snuisterywinkel besoek. Die hele Kaapse Roete 62 is 'n uitstekende landskap vir fotograwe, veral die unieke, rooi rotsformasies wat teen sonsondergang langs 'n pas uittroon. Stop, rek jou bene en neem kiekies van die wonderskone omgewing. Vanaf Calitzdorp toer 'n mens na Ladismith. Ry 'n bietjie in die dorpie rond en droom oor jou eie plekkie op die platteland. Teen middagete moet jy by Kanna Kombuis gaan aanklop: die pizza's sit enige grootstadse restaurant ore aan. Jy gaan 'n woefkardoes moet saamneem vir die langpad!

Van Calitzdorp na Ladismith ry mens deur Zoar waarvandaan jy kan afdraai op die Seweweekspoortpad. Dit is omtrent 'n versameling van vreemde name! Zoar se naam is vir baie Suid-Afrikaners onbekend, maar die plekkie het 'n ryk geskiedenis as 'n sendingstasie. Vanaf Zoar reis jy na Barrydale, 'n prentjiemooi dorpie wat vinnig besig is om sy kunssinnige vere te wys. Al langs Roete 62 is daar kostelike winkeltjies en vrolike padstalle met beloftes van varsgebakte brood en heerlike wyn. Voor Barrydale, in die middel van die verlate vlaktes en koppies, sal jy die bekende Ronnie's Sex Shop aantref. Dié vrolike kroeg is vol geplak met reisplakkers en die mure is geteken deur mense van regoor die wêreld. Die naam sou oorspronklik net Ronnie's Shop wees, maar die eienaar se vriende het die bykomende woord as 'n poets by geverf. Barrydale is geleë in die land se kleinste wyndistrik, die Tradouwvallei. Hierdie streek verskyn soos 'n oase in die Karoolandskap, en hier kan jy uitstekende wyn en brandewyn proe. Die Tradouwpas is ook 'n prentjiemooi roete wat deur valleie kronkel. Parkeer gerus jou kar op 'n piekniekplek langs die pas, want hier gaan jy topklasfoto's kan neem.

Na Barrydale sal jy Montagu aantref ? 'n versteekte skat in 'n vrugbare vallei. In hierdie bekoorlike dorpie is daar pragtige, ou geboue en kinders wat nog met hulle fietse in die straat ry. David Kramer het nie verniet gesing: “Montagu ek drink jou muskadel” nie, want in hierdie kontrei sal jy topklas-muskadel aantref. Montagu word ook toenemend 'n naweekwegbreek-bestemming vir bergfietsryers vanweë die talle bergfietsroetes wat jy in die omgewing sal aantref. Indien jou idee van ontspanning eerder op'n luilekker trant verloop, is daar die bekende warmwaterbronne om te geniet. Sit jou flikkerlig aan wanneer jy net na Montagu deur die poort ry en draai af voor die bordjie “Old English Fort.” Die fort is byna versteek op die koppie. Klim die natuurlike kliptrappies uit na die fort en geniet die asemrowende uitsigte van bo. Moenie bekommerd wees as jou tekkies te diep in die kattebak weggebêre is nie; 'n mens kan sommer die koppie kaalvoet of met visplakkies aanpak as jy versigtig is.

Roete 62 is meer as net 'n teerpad. Dit simboliseer 'n reis van saligheid en natuurskoon, en verras reisigers met 'n hele paar versteekte skatte al langs die pad. Moet nie nét die roete aanpak wanneer jy jaarliks gaan tent opslaan by die KKNK nie, of Desembervakansies wanneer die N2 te besig raak nie. Beskou die pad as jou eindbestemming: klim in jou kar, of nóg beter jou motorfiets, en kom raak rustig, want Roete 62 vereis 'n behoorlike vertoefreis en rustige reisiger.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Kaapse Roete 62 te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Kaapse Roete 62 te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.
Stem vir ons in die World Travel Awards!

Stem vir ons in die World Travel Awards!

stem
stem