Die Franschhoek Wine Tram is ’n uiters gewilde toeriste-aantreklikheid in Suid-Afrika se wynlande – en met goeie rede! Die Wine Tram bied ’n unieke en gerieflike manier om die mooie Franschhoekvallei en sy bekende wynlandgoedere, vol geskiedenis en tradisie, te verken. In hierdie blog wys ons jou hoe dit werk, ’n paar dinge om te onthou voor jy by die tremstasie arriveer, en natuurlik, waar jy ná ’n dag op die wynlandgoedere salig agteroor kan lê.

Die Wine Tram is ’n opklim-afklim-ervaring wat besoekers op ’n skilderagtige reis deur die pragtige wingerd en golwende heuwels van die vallei neem. Die trem sluit besoeke aan van die beste wynlandgoedere in die omgewing in, waar besoekers ’n wye verskeidenheid wêreldklaswyne kan proe en koop. Die landgoedere spog ook met uitstekende restaurante wat fynproewerspieknieks en vyfster-maaltye insluit.

Die spoor waarop die trem loop is oorspronklik in 1904 gebou om as plaasvervanger vir ossewaens vir boere wat hul produkte wou verkoop, te dien. Stoomenjins het op die spoor geloop totdat dieselenjins in die 1970’s oorgeneem het, waarna die begeerte vir treinvervoer in die 1990’s verminder het en die spoorlyn heeltemal doodgeloop het. Die spoorlyn was vir meer as ’n dekade onaktief totdat die Franschhoek Wine Tram in 2012 bekendgestel is. Die nuwe trem is volgens 1890 se Brill-trems met oop sykante ontwerp en dit gebruik die nuutste bio-dieselenjintegnologie om kweekhuischemikalieë en ander skadelike besoedelingstowwe te verlaag om dit ekovriendelik te maak.

Hoe werk dit?

Die Wine Tram bied tien verskillende sirkelroetes om van te kies. Elke roete sluit ’n spesifieke aantal wynlandgoedere, unieke ervarings en ’n kundige gids aan boord in, sodat besoekers die roete kan kies wat die beste by hul belangstellings sal pas.

Kaartjies: Jy kan jou kaartjie aanlyn of persoonlik by die kaartjiekantoor in Franschhoek koop. As jy dit aanlyn gekoop het, kan jy by die kaartjiekantoor by die tremstasie aanmeld om jou fisiese kaartjie op te tel.

Vertrek: Jy kan by die Franschhoek-tremstasie op die trem klim, of, indien jou gekose roete dit toelaat, by die Groot Drakenstein-tremstasie opklim. By beide hierdie stasies sal jy ’n kaart en ’n rooster van die verskillende stilhouplekke op jou gekose roete ontvang.

Let wel: As jy die Pers-, Vlootblou-, Wynrooi- of Oranje-roetes gekies het, het jy die opsie om by die Groot Drakenstein-tremstasie op te klim. Die vertrektyd vir al die roetes is egter op die Franschhoek-tremstasie se vertrektyd gebaseer, so as jy kies om direk by die Groot Drakenstein-tremstasie op te klim, moet jy onthou om 30 minute by die vertrektyd te voeg.

Wynproeë: Die trem stop by ’n verskeidenheid wynlandgoedere waar jy kan afklim en ’n wynproe geniet. Elke wynlandgoed bied ’n unieke ervaring — van wynproe-ervarings en keldertoere tot fynproewerspieknieks en vyfsterrestaurante.

Opklim en afklim: Jy kan opklim en afklim by enige van die tremhaltes op jou gekose roete. Die trem het ’n rooster en stop op spesifieke tye by elke halte, so gebruik die kaart en rooster wat jy ontvang het om jou dag te beplan.

Hoe lyk die roetes?

Daar is altesaam tien roetes wat in pare verdeel word: die Blou- en Groenroete, die Pers- en Oranjeroete, die Pienk- en Grysroete, die Rooi- en Geelroete en die Vlootblou- en Wynrooiroete. Elke paar besoek dieselfde wynlandgoedere, net ’n ander volgorde.

Oor die algemeen fokus die Blou- en Groenroete op boetieklandgoedere met majestueuse berglandskappe, die Rooi- en Geelroete op die internasionaal bekende landgoedere met skilderagtige valleiwingerd, en die Vlootblou- en Wynrooiroete op die landgoedere na Simondium en Stellenbosch se Helshoogtepas se kant toe. Op hierdie roetes stop die trem een keer per uur by elke landgoed, maar die intervalle is korter op die Pers-, Oranje-, Pienk- en Grysroete en die trem stop elke halfuur. Dié roetes is ideaal as jy meer buigsaamheid benodig en so veel landgoedere moontlik wil besoek.

Watter roete moet ek kies?

Ons stel voor jy doen vooraf ’n bietjie navorsing oor elke roete se reisplan en wynlandgoedere en kies dan die een wat die beste by jou belangstellings pas. Elke lyn het sy eie unieke bekoring en bied ’n ander ervaring. Wanneer jy ’n roete gekies het, kan jy die rooster gebruik om jou dag te beplan. Hou in gedagte dat jy nie al die landgoedere op die roete sal kan besoek nie. Ons stel voor jy probeer drie landgoedere besoek as jy een van die vroeëre vertrektye bespreek het. Let ook daarop dat nie alle wynlandgoedere langs die spoor geleë is nie – by sommige van die landgoedere is die wynproelokaal ’n hele entjie van die spoor af. ’n Trembus word dan gebruik om jou na die wynproelokaal te neem, maar dit kan soms tot 15 minute neem.

Ons het die Persroete gekies en by Boschendal, Plaisir de Merle en Noble Hill afgeklim. Boschendal was eerste aan die beurt en ons was baie beïndruk. Die personeel was uiters vriendelik en behulpsaam. Hulle is baie bewus van die besoekers wat op die trem reis en maak beslis seker almal word betyds gehelp vóór die vertrektyd. Ons het ons onder die enorme eikeboom tuisgemaak en die Under the Oaks-wynproe geniet. Ons het ook die Boschendal Charcuterie-bord en die kaasbord bestel, en dit was uit die boeke!

Daarna het ons by Plaisir de Merle gaan kuier. Hiér het ons vooraf ’n tafel bespreek omdat dié wynlandgoed ook ’n gewilde kosmark het en dit rondom middagete-tyd nogal besig raak. ’n Musiekkunstenaar het ons in die proelokaal met pragtige liedjies vermaak, terwyl ons aan die Express Tasting se wyne geteug het. Tussendeur die wyn en die musiek het ons langsaan by die kosmark gaan middagete bestel. Hiér verkoop hulle heerlike eetgoed, soos ontbytbroodjies, pizzas, burgers en slaaie, asook koffie, lekkernye en gebak. Watertand pizzas is by ons tafel bedien en ons het behoorlik gesmul – gereed vir die volgende stop!

By Noble Hill het ons die Estate Tasting bestel en heerlik onder die bome op die stoep gesit en gesels. Die wynlandgoed het ook ’n restaurant, Cosecha, waar jy vars Latynse kookkuns kan geniet, terwyl jy die uitsig oor die wingerd bewonder.

Hoe moet ek voorberei?

Met so baie wynlandgoedere om te besoek en al die uitstekende wyn wat hulle produseer, kan dit ’n lang, maar prettige dag raak. Maak seker jy eet ’n groot ontbyt en drink baie water deur die dag. As jy steeds honger is, verkoop albei die tremstasies koffie, water, Franse snuisterye en geroosterde toebroodjies. Besluit vooraf by watter wynlandgoed jy middagete gaan eet en maak seker jy sit genoeg tyd daarvoor opsy. Onthou om sonroom aan te smeer en ’n hoed in te pak vir die son, gemaklike skoene aan te trek, en hou ’n baadjie byderhand, want die trembus het oop sykante. Maak ook seker jou selfoon is gelaai — die Wine Tram dien as ’n uitstekende foto-agtergrond!

Wenk: As jy van plan is om verskeie bottels wyn te koop, stel ons voor jy koop een van die drasakke by die tremstasies. Hierdie drasakke is nie net handig om al jou aankope in te dra nie, maar dit sluit ook ’n afslagkoepon in wat jy by sekere wynlandgoedere kan gebruik. Jy kan dan ook jou wyn aan die gasheer op die trem oorhandig. Jy en jou wyn-aankope sal ’n plakker ontvang, wat jy dan aan die einde van die dag kan inhandig om jou aankope op te tel voor jy weer huiswaarts keer.

Waar kan ek oorbly?

Omdat Franschhoek so ’n gewilde toeristebestemming is, is daar talle verblyfopsies om van te kies. Daar is verskeie luukse hotelle wat wêreldklasgeriewe en -dienste bied. Ons hou veral van Franschhoek Country House & Villas omdat dit so lekker naby die tremstasie geleë is. Daar is ook verskeie gastehuise en B&B’s wat gerieflike en dikwels meer bekostigbare verblyf-opsies bied. As jy op soek is na meer privaatheid is daar ’n rits selfsorgverblyf-opsies beskikbaar, soos woonstelle, kothuise en villa’s. Hierdie opsies is ideaal vir gesinne of groepe vriende wat saam reis om die Wynlande te kom verken.

Maar dit maak nie saak watter tipe verblyf jy in Franschhoek kies nie, jy sal vir seker ’n gerieflike en onvergeetlike wegbreek in hierdie pragtige deel van die land ervaar.

Die Wine Tram is ’n baie gewilde besienswaardigheid in die Franschhoekvallei en ons raai jou aan om kaartjies vooraf te bespreek, veral gedurende die spits-toeristeseisoen. Dit is regtig ’n uitstekende manier om die skoonheid en rykdom van ons land se wynlande te ervaar en ’n moet-besoek-bestemming vir elke Suid-Afrikaner – nie net wynentoesiaste en toeriste nie!

Hooffoto: Werner Bayer op Flickr