Almal ken Clarens — of altans, almal weet van Clarens. Dit is die naaste wat baie van ons aan ’n Europese vakansie sal kom, maar dis beslis nie ’n minderwaardige sakpasweergawe nie! Dié juweel van die Vrystaat is slegs drie ure vanaf Johannesburg en is dus om goeie rede onder die stedelinge bekend, maar ons wil dié wat verder moet reis daarvan oortuig dat dit ongetwyfeld die vliegkaartjie werd is. 

Alhoewel die Wes-Kaap nou my tuiste is, is ek eintlik self ’n Vrystater, en alhoewel ek al die drumpel by sommige plekke in dié dorp deurgetrap het, het ek ander nog nooit van binne bekyk nie. Daarom wou ek byna uit my vel spring toe ek kon teruggaan om ’n paar ou bekendes, sowel as nuwe gunstelingplekke, te besoek sodat ek almal behoorlik lus kan maak om self ’n verkenningstog aan te pak.

Staak jou soek na koffie in Clarens hiér

Ek hoef nie twee keer te dink, of te wonder waar ons ’n koppie boeretroos gaan geniet nie, want die koning van koffie, Chris, het ons die kans gegun om met hom oor sy koninkryk, of moet ek sê boninkryk, te gesels. Highland Coffee Roastery rooster nie net hul eie bone nie, maar voorsien ook voorraad aan verskeie restaurante in die omgewing en neem bestellings van regoor Suid-Afrika deur hul webtuiste. 

Chris het sy kennis oor koffie oor die jare opgebou en vandag kan hy met sekerheid sê dat hy meer weet as toe hy begin het — ons heerlike koppies koffie met kunsstukke op, beaam dit. Ons leer dat waar die koffiebone vandaan kom, waar dit groei, hoe dit gerooster word, hoe lank dit met water in kontak is en selfs wie jou koppie koffie maak alles ’n invloed op die uiteindelike smaak kan hê — wie sou kon raai? Of die smaak maandeliks kan verander of nie, een ding is seker — die cappaccino wat hier gemaak word, is nie sonder rede die gewildste item op die spyskaart nie.

Coffee in Clarens

Daar is iets na elkeen se smaak — warm koffie, koue koffie, koffie met allerhande melke, koffie met kondensmelk en sommer ook ’n reeks gegeurde stroop om van te kies. As jy steeds nie vir hierdie geroosterde boondrankie kans sien nie, kan jy maar ’n koppie rooibostee bestel, maar soos die spyskaart sê: “but really?”

Verder is daar verskeie skilderye van ’n plaaslike kunstenaar, asook interessante kunsstukke van sy vrou in die winkel te koop. Kom kuier gerus binne die winkel as jy deur die heerlike aromas omring wil word of maak jou buite die winkel onder ’n sambreel tuis en bewonder die sprokiesagtige uitsig op die berge. 

Boer ’n bietjie by die brouery

Beer in Clarens

Clarens Brewery se deure het in 2005 oopgemaak en sedertdien het dit sinoniem met die Clarens-ervaring geword. Die indrukwekkende verskeidenheid geldnote teen die kroegarea wat deur internasionale besoekers wat iets van hulself wil agterlaat, geskenk word, getuig van die brouery se gewildheid onder ’n ieder en ’n elk wat hier ’n glasie kom klink. 

Of jy bier drink of nie, hiér moet jy maar jou kieskeurige palet by die huis los en alles proe wat jy moontlik kan — gin ook! Daar is twee verskillende bierproe-opsies beskikbaar. Die eerste is die “easy tasting” met biere wat makliker is om te drink en sluit onder andere die alombekende Blonde in. Die tweede opsie is die “variety tasting” en dis vir die meer ervare en avontuurlustige palet, maar selfs ek wat glad nie bier drink nie het onder hierdie vier glasies ’n nuwe gunstelingbier ontdek nadat ek op aandrang van ons toergids tog my tong natgemaak het. “Clarens goes Nuts” of “Nuts” is oorspronklik in 2016 spesiaal vir die jaarlikse bierfees gemaak en was só gewild dat dit nou permanent op die spyskaart pronk. 

Beer in Clarens

As jy van gin hou, hoef jy nie bekommerd te wees dat jy ’n afgeskeepte proe-ervaring sal hê nie, want al is dit ’n brouery is daar ’n groot verskeidenheid geure gin waarvan die een heerliker as die ander is. Net om die draai van die brouery aan die einde van die gangetjie, skuil Junipers, ’n gin-kroeg met allerhande ditjies en datjies sodat jy sommer tuis met jou eie kombinasies kan eksperimenteer of gou-gou ’n geskenkboks vir iemand kan gryp. Verskeie nie-alkoholiese opsies is ook beskikbaar.

Gin in Clarens

Die spyskaart wat deur Lindsey, ’n gekwalifiseerde sjef, uitgewerk word, spog met ’n verskeidenheid disse wat saam met spesifieke biere aangebied word om die beste eetervaring aan elkeen wat hier aansit te bring. Dieselfde spyskaart is ook by die gin-kroeg beskikbaar. Verder lewer hulle ook byna landwyd binne drie dae af, indien jy deur hul webtuiste bestel. Hiér word iets gebrou waarvan elkeen sal hou!

Dis ’n mis met die vis — kies dié dis

Clementines Restaurant Clarens

Na ’n propvol dag is ons so honger soos wolwe teen die tyd wat ons ons volgende bestemming bereik, maar dit was die wag werd, want Clementines het uitgehaal en gewys. Die restaurant staan vandag waar die ou spoorwegskuur eens was en die trein mense van Clarens na Bethlehem geneem het. 

Die eienares, Shelley, glo dat ’n mens gaan uitkry wat jy insit en daarom belê sy nie net in haar personeel nie, maar ondersteun ook die Cluny Animal Trust, ’n plaaslike organisasie. Clementine, die restaurant se kat, kruip in almal se harte in en samel sodoende geld vir dié organisasie in. 

Clementines Restaurant in Clarens

Die restaurant is slegs vir middag- en aandetes oop en ’n mens kan duidelik sien dat alles, van die dekor en die uitleg tot die spyskaart, haarfyn beplan is sodat elkeen met die intrapslag nie anders kan as om alles oopmond te bewonder nie. Die sinkgebou herinner aan ’n plaasstoor en die houtvloer en klipkaggel binne sal jou terugneem na jou kinderdae op die plaas. 

Aandete in Clarens

Daar heers ’n heerlike, hartlike atmosfeer wat deur verskillende tipes ligte, liggies wat soos kerse flikker en sagte musiek geskep word. Dit is te moeilik om te besluit wat ons wil bestel, want die verskeidenheid disse met hul kleurvolle beskrywings is byna oorweldigend. Gelukkig spring die eienares in om te help en sonder om te blik of te bloos, beveel sy die biefstuk, lamskerrie en varkpens waarvoor hulle blykbaar bekend is aan, en berispe ons speels dat ons vis in die Vrystaat durf oorweeg het. Haar voorstelle stel nie teleur nie! ’n Paar dae later is ons steeds nie uitgepraat oor die heerlike geure wat ons monde steeds laat water nie.

’n Kuiertjie propvol pret op ’n pragtige plaas

Cheese in Clarens

By Baris Monger is die bokke baas! Al wat Esteé geweet het is dat sy minder bang vir bokke as vir koeie of perde is en dit was vir haar genoeg om in te spring en haar eie boerdery te begin. Met niks meer buiten ’n geweldige groot wil en ’n bakkie nie, maak sy ’n weg toe sy en haar ma, ’n week na die besluit geneem is, die eerste lot bokke plaas toe bring. Later word ’n paar vragte hout byna impulsief by ’n veiling opgetel en dié is deur haar pa, wie se hande duidelik vir niks verkeerd staan nie, in tafels en stoele omskep waar talle besoekers vandag heerlik sit en na die kruietuin kyk terwyl hulle aan unieke versnaperinge smul. Hierdie restaurantjie sowat twaalf kilometer buite Clarens, wat vandag te pragtig met sy klipmure voor die tuin pronk, is ’n produk van ’n hele gesin se harde werk. 

Cheese platter in Clarens

Dit is byna terapeuties om na die tuin te kyk en ons kon ons oë nie daarvan afhou terwyl ons oor ’n heerlike kaasbord vol bokmelkkaas en varsgebakte brood met Esteé gesels nie. Sy deel haar storie soos wat sy vir ons verduidelik wat elke kaassoort op die bord is en hoe dit gemaak word. Die spyskaart word klein gehou sodat daar deurgaans vars bestanddele beskikbaar is en hulle kan voortgaan om die heel beste tuisgemaakte en plaaslik vervaardigde produkte te bedien. Laaste, maar beslis nie die minste nie, is die kaaskoek wat te danke aan haar ma se kaaskoekresep en chèvre — ’n sagte bokmelkkaas — gebore is. Sedertdien het dit een van die gewildste items op die plaas geword en moet dit beslis op jou nagereglys wees wanneer jy hier kom aanklop. 

Vir salige slaapplek, Stay! In Clarens

Verblyf in Clarens

Die kenmerk van Vrystaatse gasvryheid is ’n elektriese kombers wat in Oktober nog op ’n bed rus. Dié wat weet, het self al óf hierdie kombers in die somermaande benut óf bibberend lê en wens daarvoor — dis altyd ’n bietjie winter hier en die koue kan jou sonder waarskuwing bekruip. Lindi, die raakvat-gasvrou van Stay! In Clarens, weet dit duidelik goed. Ons word vriendelik verwelkom en na ons ruim kamer, wat meer soos ’n woonstelletjie voel, geneem waar ons rustig uitpak en heerlik ontspan soos wat ons die pragtige dekor van die unieke kamer inneem.  

Ons kamer is een van drie kunstig versierde eenhede op die perseel en binnekort sal die hoofhuis ook bespreek kan word. Daar is aan die fynste besonderhede aandag geskenk en vars blomme uit die tuin verwelkom ons soos ons instap. Gasvryheid is vir Lindi baie belangrik en geen moeite word ontsien nie. Saam met haar man het sy die hele tuin in ’n voëltjie-utopie omskep waar mense ook welkom is om die uitsig op die berg agter die tuin te bewonder en dis presies wat ek doen terwyl sy my van hierdie transformasie vertel. 

Verblyf in Clarens

Tuinmaak is nie haar enigste talent nie en die kunswerke in die kamer is óók haar eie handewerk. “Ons wil net hê dat dit mense se verwagtinge moet oortref,” sê Lindi. Hierdie gastehuis doen dit beslis en bied nie net slaapplek aan gaste nie, maar ’n wonderlike, unieke ervaring. 

***

As jou hart nou terugverlang na vele Vrystaters se gunstelingplek, of jy bloot nie meer jou nuuskierigheid kan beteuel nie, raai ons jou aan om sommer nou jou naweekverblyf te bespreek sodat jy self hierdie besonderse ontdekkingsreis kan aanpak en sien waaroor almal so opgewonde raak. Klim die vliegtuigtrappies vinnig of spring in jou motor en kom verlustig jou vir ’n wyle in ’n fantastiese ervaring ver weg in die Vrystaat.

Hooffoto: Terry Carew op Flickr

Alle ander foto’s, tensy anders vermeld: Liezl Hollis