Clanwilliam lok met goeie rede al vir derduisende jare elke hierjy en herder om te kom kuier en kamp opslaan. Dié “hoofstad van die Cederberg” se eeue-oue aantrekkingskrag is sigbaar in die streek se groot konsentrasie rotstekeninge en in sy pragplase wat al vir generasies in dieselfde families is ─ van die jare toet tot vandag toe wil diegene wat hier kom bly, nie sommer weer waai nie, en, sou jy hier kuier, sal jy óók nie wil huiswaarts keer nie.

Clanwilliam is nou wel die tiende oudste dorp in Suid-Afrika en die grootste dorp in die Cederberg, maar ’n rit deur die hoofstraat maak dit baie duidelik dat dié dorp nie vol airs is nie en steeds sy plattelandse karakter behou. Hier sit die plaaslike inwoners graag vir jou ’n koppie rooibostee voor, die strate is skoon en die dorp se ryk kulture en natuurlike erfenis word met groot liefde bewaar in outydse straatlampe, erfenisgeboue en die jaarlikse Blomskou wat die inwoners se borse van trots laat swel.

Met behulp van die plaaslike toergids, Destination Cederberg, het LekkeSlaap eerstehands gaan uitvind waarom Clanwilliam, net sowat twee en ’n halfuur se ry vanaf Kaapstad, ’n besoek werd is.

Maak die Velskoendraai Padstal jou eerste stopplek

Die Velskoendraai Padstal is jou heel eerste verwelkoming op links as jy van die N7 afdraai. Dié padstal is sedert 2017 onder die bestuur van Louise Nortje, ’n plaaslike inwoner met ’n gasvrye aanslag en ’n kop vir besigheid.

Velskoendraai padstal Velskoendraai farmstall clanwilliam
Die Velskoendraai Padstal het ’n netjiese kinderspeelarea en ’n paar hoenders wat die jongspan sal bekoor. | Foto: Lisa Croeser

Velskoendraai het iets vir almal: Daar is rakke wat onder talle uitstekende, plaaslike produkte kreun, ’n wynhoekie met plaaslike wyn en bier, ’n spyskaart vol maaltye met gul porsies, en die opsie om rooibostee, die streek se wyne, asook Cederberg Wines se Boggom en Voertsek-bierreeks te proe. Ons verkyk ons aan al die rooibosteeprodukte, braais wat uit biervate gemaak is, glutenvrye produkte en plaaslike parfuum en balsem wat tót dassiepis as bestanddeel het (dit ruik baie lekkerder as wat jy dink, hoor!). Nelda van Zyl, die eienaar van die plaaslike besigheid, Destination Cederberg, het ook haar toerismetoonbank by dié padstal en jy kan baie verrykende toere van hier af bespreek. 

velskoendraai padstal farmstall clanwilliam
Links: Louise gesels met ons terwyl ons tee proe. Regs: Die Velskoendraai se ingang. | Foto’s: Adriëtte le Roux en Lisa Croeser

Wanneer ek, ’n botterliefhebber, merk dat ek sommer twee botterhouertjies per roosterbroodjie toegestaan word, sê Louise met ’n glimlag: “Ja! Mens moet die mense genóég kos gee!” Nou toe, dit som die oop hand en hart van die Velskoendraai Padstal goed op.

Meer as net geskiedenis by die Ou Tronk Museum

As een van die oudste dorpe in die land, kan jy maar wéét Clanwilliam is propvol geskiedenis en al hierdie geskiedenis word by die dorpsmuseum, wat in die ou tronk by die Hoofstraat se vurk gehuisves word, tentoongestel. Toe Nederlandse ontdekkers in 1666 na dié streek gestuur is, het die vallei waarop hulle afgekom het propvol olifante gestaan ─ vandaar die naam Olifantsriviervallei. Die Ou Tronk Museum spog egter met leersame aanbiedings en artefakte wat hierdie olifante, maar ook uiteenlopende temas soos rooibostee, C. Louis Leipoldt, Sederbome en Tolla van der Merwe saamvat. 

Ou Tronkmuseum Town Museum Clanwilliam
Die ou Tronkmuseum. | Foto: Adriëtte le Roux

Herschil Pieters, ’n jong toergids wie se familie al vir generasies in die streek woon, bied vir ons ’n kaleidoskopiese toer van die ou tronk se selle aan, elke kamer ’n netjiese, tematiese geheel. Sy jeugdige aanslag tot die geskiedenis beteken dat oud en jonk by só ’n toer sal aanklank vind soos die museum se blink, ou perdekar met ’n Ferrari en boeretwak met hedendaagse kougom vergelyk word. Het jy geweet as jou doodkis van sederhout gemaak word, die wurms jou blykbaar nie sal eet nie? Of watter grootte skoen die top-storieverteller Tolla van der Merwe gedra het? Of dat die bekende digter en mediese dokter C. Louis Leipoldt al op twaalf jaar oud ses tale kon praat? As jy by Clanwilliam se dorpsmuseum kom draai, sal jy al hierdie interessante feite en nog vele meer leer.

Natuurlike prag en praal by die Ramskop Natuurtuin en Blomkerk

Waar die dorp se kulturele erfenis in die dorpsmuseum vasgevang word, word Clanwilliam se natuurlike erfenis in die Ramskop Natuurtuin en die Blomkerk, ’n historiese kerkgebou wat jaarliks tydens die Veldblomskou vir plantuitstallings ingespan word, gevier.  

Ons ontmoet vir Daleen Schoombee, ’n passievolle, plaaslike amateur-botanis en voorvatter in die dorp se tuine, by die Ramskop Natuurtuin. Sy verduidelik dat hierdie 68 hektaar-natuurtuin besig is om ’n opgedateerde, vars gesig te kry onder die hand van privaat vrywilligers in samewerking met die munisipaliteit. Ondanks die groot werk wat voorlê, is Daleen opgewonde oor die vars skilderdoek waarop sy en haar regterhand, Petrus, kan werk. Wanneer ons in Maart 2022 besoek aflê, is die tuin nog nie naastenby in volle blom nie, maar die paadjies is skoongesny, die uitsig oor die Clanwilliamdam is onverbeterlik en die potensiaal is tasbaar. Hier en daar pruik ’n blommetjie tóg tussen die struike en Daleen wys interessante plante soos die bloedlelie, poeierkwas en olifantsvoet aan ons uit. “Ek ‘like’ die stories agter die plant,” verklaar Daleen wanneer ons haar groet. Ek besef baie vinnig dat ek ’n blomtoer vir die komende lente moet bespreek om meer van hierdie blomstories te hoor, en wanneer ek vra of sy dink die tuin vir die Veldblomskou wat vanjaar van 25 Augustus tot 4 September plaasvind gereed sal wees, sê Daleen met oorgawe: “Teen blomseisoen sal jy hom nie ken nie!”

Ramskop Natuurtuin Ramskop Nature Reserve Nature Garden Clanwilliam Flower Show Clanwilliam Veldblomskou
Links: Ons ontmoet vir Daleen by die Ramskop Natuurtuin. Agter is die oopgesnyde paadjies sigbaar. Regs: Hier en daar is daar ’n verrassende blom in die tuin te sien, al is dit Maart. | Foto’s Adriëtte le Roux

Kom Augustus, vaar plaaslike vrywilligers weer na die plase in die distrik uit om ’n lys blommetjies uit die veld te gaan selekteer wat dan op groot hope grond in die Blomkerk “geplant” word. So kan ek en jy die volledige skouspel van die Cederberg se blommeprag op één plek ervaar. Maar toere na die omliggende streke soos die Agter Pakhuyspas, die Biedouwvallei en die pad na Wupperthal is natuurlik eerste prys sodat jy sélf in die vars lug die allerfraaiste gesiggies kan bekyk! Bespreek jou toer sommer nou!

Flower church clanwilliam Blomkerk clanwilliam
Clanwilliam se Blomkerk waar die jaarlikse Veldblomskou gehou word. | Foto: Adriëtte le Roux

Landskapsritte deur die Cederberg

Wat ook al jy doen, maak seker dat jy sommer ’n volle dag (of twee) inruim om die skouspelagtige passe in die area deur te ry en al wat uitkyk, rotsformasie of wynlandgoed is te sien. Die Cederberg is immers die heel bekendste vir sy pragtige sandsteenrotsformasies wat weens die yster en mangaan in die rotse dikwels rooi vertoon en deur jare se winderosie in interessante vorms omgetoor is. 

Die Pakhuys- en Agter Pakhuyspas is deur die meesterbouer, Thomas Bain, gebou en is albei teerpasse wat met enige voertuig gery kan word. Hopies gestapelde rotse in dié passe lyk regtig of hulle deur ’n mens so “gepak” is ─ vandaar, natuurlik, die naam. Baie van die plase langs dié pad is vandag toerismeplase wat hoofsaaklik vir buitelandse rotsblokklimmers (of ‘boulderers’) ingerig is. Weens sy aardige rotsformasies met lekker vashouplek, is die Cederberg baie gewild onder beoefenaars van hierdie ekstreme sportsoort, waar ’n matras onder rotse geplaas word en die klimmers dan sonder toerusting vrylik klim en klouter. Die Soldaatkop-rotsformasie en C. Louis Leipoldt se graf is dan nóg twee besienswaardighede waar jy op die Pakhuys- en Agter Pakhuyspasse moet stop. 

Pakhuyspas Pakhuys Pass Cederberg Clanwilliam
Die Pakhuyspas se rotse lyk of hulle opmekaar gepak is. | Foto: Lisa Croeser

Sodra jy verby die Engelsman se graf ry en regs op die grondpad draai, is jy op pad Biedouwvallei toe waar die blomme tydens die lente in ongelooflike kleure op jou wag. Daar is talle klein nedersettings in hierdie vallei én in die Pakhuysvallei, soos Heuningvlei, wat deel vorm van die Cederberg Erfenisroete, ’n roete wat jy kan stap en leer hoe die mense van ouds in die streek geleef het deur vee en tee te boer of grasdakke te pak. Uiteindelik lei die Biedouwvallei na die historiese sendingdorpie, Wupperthal, wat ondanks groot vernietiging deur ’n vuur in 2018 vandag herbou is en weer op die been probeer kom wat toerisme betref. 

Biedouw Valley Biedouwvallei Clanwilliam Cederberg Flower Season
Die Biedouwvallei staan jaarliks in die blomtyd vol blomme. | Foto: Adriëtte le Roux

Na die anderkant van Clanwilliam kan jy ook die Nieuwoudtspas (’n grondpad) verby wynlandgoedere soos Cederberg Wines, Lot se vrou en die buitelug-sterrewag ry, of verder aanhou tot by Kromrivier, die Stadsaalgrotte en Truitjieskraal as jy voel jou motor kan die lang grondpad vat. Die Cederberg en Clanwilliam is gemáák vir avontuurlustiges!

Rooi, rooier, rooibos!

Naas sy rooi sandsteenformasies, is die Cederberg vir sy rooibos bekend. Die streek is die enigste plek ter wêreld waar dié heerlike, gesonde tee verbou word, en as jy by Velskoendraai die teeproe doen en hulle video kyk oor hoe rooibos verbou word óf by Rooibos Limited se winkel naby die rolbalbaan aanklop, kan jy sommer baie meer oor hierdie heerlike drankie leer. 

rooibos ltd rooibostee clanwilliam rooibos tourism
Die Rooibos Ltd-winkel. Hy het ondertussen na die rolbalklub toe geskuif. | Foto: Adriëtte le Roux

Waar jy by Velskoendraai tee kan proe, driehonderd rooibosteeprodukte kan sien en ’n video oor rooibosteeproduksie kan kyk, bied Rooibos Limited ook ’n leersame videovertoning (in verskeie tale) om te wys hoe rooibos van die plant tot in jou koppie of produk beland. Hier is rooibos in elke vorm: van kerse en geurmiddels, tot souse, strope, kombucha en kosmetiese produkte!  

Skop ’n bietjie stof op met ’n stel nuwe Strassbergers!

By Strassbergers, Suid-Afrika se heel eerste velskoenfabriek, koop jy sáám met die gehalte-vellies, ook die ryk storie agter die skoen. Dié skoenfabriek het sy oorsprong in 1834 by die sendingstasie in Wupperthal waar die Duitse sendeling, Johann Gottlieb Leipoldt, opgelet het na die pragtige velle wat uit die Khoisan se jagsessies na die sendingstasie gebring is. Hy het ook gesien dat die Khoisan tydens hul tradisionele feesvieringe dié velle om hulle voete bind en dan uitbundig in die stof dans, ’n dans wat later as die rieldans bekend sou word. Só het die idee ontstaan om die velle én diegene wat op die sendingstasie woon in te span om skoene te maak. Die huidige eienaar, JJ du Plessis, verduidelik dat Strassbergers se skoene dus as “velskoene” bekend staan en nie “veldskoene” nie, soos baie mense vandag sê. 

Strassbergers ou skoenfabriek Wupperthal Old Strassbergers shoe factory in Wupperthal
Die Strassbergers-fabriek kan vandag nog in Wupperthal gesien word, al het die produksie na Clanwilliam verskuif. | Foto: Adriëtte le Roux

Toe die fabriek later in Willy Strassberger, een van JJ se voorsate, se besit beland, het hy vir lank een keer per week die skoene en die Wupperthalers se groente gelaai en sowat vier uur na die Groentemarkplein in die Kaap gery om dit daar te verkoop. Vandag kan die oorspronklike fabriek nog op Wupperthal gesien word, maar die logistieke besluit is in die 1950’s geneem om die fabriek na die naaste groot dorp, Clanwilliam, te verskuif. Omdat Strassbergers en die mense wat daar werk nog altyd só verweef was, het heelparty Wupperthalers saam dorp toe getrek. “Die skoenfabriek is ’n familiebesigheid, maar nié as gevolg van bloed nie,” sê JJ. Ja, Strassbergers is al vir vier geslagte in die Strassbergerfamilie se besit, maar die fabriek is nét soveel die besit van die families wat al vir generasies daar werk en ’n stewige winsdelingskema is sedert 2019 in plek. Soos Niklaas Julies JJ se oupa se fabrieksvoorman was, is Niklaas se seun, Pietie, vandag JJ se fabrieksvoorman en word die familietrots voortgesit.

Deesdae kan jy ’n paar Strassbergers in heelparty kooperasies koop, tóg is dit ’n spesiale koopervaring om ’n heldergeel boksie oor die toonbank in Clanwilliam aan te vat en die fabriek deur die glasvenstertjie te sien waar tagtig persent van die produksieproses nog in die Strassberger-werkers se kundige hande rus.

Strassberger shop winkel clanwilliam
Kom koop vir jou ’n lekker paar vellies by Strassbergers! | Foto: Adriëtte le Roux

En vir ete? Bella-Louise!

Uit ervaring kan ons hierdie luukse dog lekker restaurant op die hoek van Augsburg- en Hoofstraat met groot vertroue voorstel. Louise Nortje van die Velskoendraai Padstal is ook hier aan die stuur. Die porsies is nét so gul en die spyskaart divers, met alles van pizza tot lamstjoppies! Sit op die stoep onder die prieel op ’n warm Clanwilliam-aand, of binne op ’n koue aand en geniet die wyn en samesyn van ’n restaurant wat goed bestuur word en ingestel is op mense en heerlike kos. 

bella louise restaurant clanwilliam
By Bella-Louise sal jy aan ’n verskeidenheid kos en wyn kan smul. | Foto: Lisa Croeser

Daar is ook net sóveel eetplekke op Clanwilliam, so ons beveel ten sterkste aan dat jy vooruit bel en bespreek as jy hier, of by ’n ander restaurant wil eet. 

Slaap salig in die Cederberg

Clanwilliam is natuurlik propvol lieflike gastehuise, selfsorgeenhede, selfs hotelle waar jy ná ’n dag op die dorp kan dut, maar ons het tydens ons besoek regtig lekker by Rosenhof, ’n gastehuis in een van die Clanwilliam se mees historiese strate, geslaap. 

Ons is vriendelik by ons motor ontvang toe ons agter die heining stilhou en kon vir ’n wyle rondom die swembad rus en kuier voor ons na ons kamer met sy gratis WiFi, kombuisie en vars linne gekeer het. Die verblyf is ook troeteldiervriendelik sou jy nie sonder Wagter wou reis nie.

rosenhof guest house accommodation clanwilliam
Rosenhof is die ideale plek vir ’n salige nagrus. | Foto: Adriëtte le Roux

’n Kuier in Clanwilliam sal altyd té kort wees besef ons wanneer ons ná drie heerlike dae uit dié mooi dorp wegry. Die tyd wat ons hier deurgebring het, het dit net soveel te meer duidelik gemaak dat ons sal moet terugkeer ─ nie net vir die Veldblomskou wat vanjaar weer plaasvind nie, maar om weer van die mense se gasvryheid te kom ervaar en so tussen die rotsformasies en rooibostee weer mens te word.


Vinnige feite

Kruideniersware: Spar en Pick ’n Pay
Brandstof: Kaap Agri en Caltex
Veldblomskou: 25 Augustus tot 4 September 2022 in die Blomkerk
Ramskop Natuurtuin: Toegangsfooie en tye op internet beskikbaar
Toersime: Destination Cederberg by die Velskoendraai Padstal en die toerismeburo in die hoofstraat

Deur by die plaaslike toerismewerkers aan te klop, sal jy seker maak jy put die meeste uit jou Clanwilliam-besoek. Onthou, Clanwilliam is ’n plattelandse dorp en al die besienswaardighede is nie elke dag oop of beskikbaar nie. Deur vooruit te bel of ’n toerismewerker te raadpleeg, sal jy jouself teleurstelling spaar én verseker jy kry ’n volronde ervaring wat jou keer op keer na hierdie dorpie sal laat terugkeer. 

Foto: Lisa Croeser

Baie dankie aan Nelda van Zyl van Destination Cederberg vir haar tyd, reëlings en lekker stories, vir Louise Nortjie vir heerlike etes by Velskoendraai en Bella-Louise en vir Karin Roux van Rosenhof vir ons verblyf.

Hooffoto: Adriëtte le Roux