Vandeesweek reis OPTOG! se kombi’s al die pad tot in Pretoria. As jy daarvan hou om te lag, sal Nataniël jou laat skater en Laurika Rauch se lirieke sal jou voorwaar in vervoering laat.

Laurika Rauch tree op 18 en 19 Maart in die Attebury-teater in Pretoria op. Dié vertonings is ongelukkig uitverkoop, maar hierdie legendariese sangeres reis later vanjaar weer saam met OPTOG! ─ hou gerus komende blogs dop. 

Pretoria doen sy bynaam gestand en die pers jakarandabome wat die strate tooi, laat jou byna van die sieldodende stadsverkeer vergeet. Die Jakarandastad bied vermaak aan ’n ieder en ’n elk ─ van Bloubul-rugby op Loftus Versfeld, natuurwonders in die Pretoria Nasionale Botaniese Tuin en wêreldklas-ballet in die Staatsteater, tot massiewe winkelsentrums en wolkekrabbers om elke hoek en draai. Kom kuier in Pretoria en laat die jakarandastrate en Laurika Rauch se mooiste melodieë jou betower!

Haar treffers Blouberg se Strand, Lisa se Klavier en Stille Waters is eie aan ons Moedertaal en verskeie TV-reekse het al ’n Laurika-temaliedjie gehad. Ons het met Laurika gesels om uit te vind watter plekke in Suid-Afrika vir haar uitstaan, wat sy nog in haar loopbaan wil bereik en of dié legendariese sangeres se senuwees nog voor ’n konsert knaag.

LS: Watter Suid-Afrikaanse bestemming sal jy oor en oor besoek en waarom?

LR: Die Tsitsikamma-woude, Hogsback en Mapungubwe.

LS: Wat is jou gunsteling-vakansieherinnering uit jou kinderjare?

LR: Kampeer by Onrusrivier of Plettenbergbaai tydens Kersfees.

LS: Jy het al derduisende vertonings gelewer ─ raak jy ooit op jou senuwees voor jy op die verhoog stap?

LR: Nog steeds ja. Dit sal nooit anders wees nie ─ omdat dit vir my saak maak.

LS: As ’n Afrikaanse musiekikoon wie se professionele musiekreis reeds in die 1970’s begin het, wat is die mees inspirerende raad wat iemand jou as jong kunstenaar gegee het?

LR: Volg elke leidraad op tot by sy einde en besluit dan as jy daar is of dit vir jou bedoel is of nie. Moenie uitstel nie.

LS: Wat beskou jy as die hoogtepunt van jou meer as 40 jaar-musiekloopbaan en wat sal jy nog wil bereik?

LR: Elke keer wat ek op die verhoog stap is dit vir my ’n hoogtepunt. Ek sou graag nog ’n album wil opneem met ongelooflike oorspronklike liedjies. Twee dinge om na uit te sien is ’n duet wat ek saam met Loki Rothman gaan opneem vir sy eerste Afrikaanse solo-album wat seker in die volgende paar maande vrygestel gaan word en ’n beperkte oplaag versamelstel of box set (slegs 1000 kopieë) wat ek in April vrystel om my 40 jaar in die industrie te gedenk.

LS: Watter Afrikaanse liedjie tokkel jou hartsnare?

LR: Amanda Strydom se lied oor Johannes Kerkorrel ─ Ek het gedroom.

LS: Jy tree binnekort in die Jakarandastad op ─ verkies jy konserte in stede of op plattelandse dorpies?

LR: Mal oor albei. Elkeen gee vir my unieke plesier.

LS: Voltooi die sin: Dit is die lekke’ste lekke om …

LR: … te kom by ’n punt waar die klein jakkalsies nie meer saak maak nie en jy hoofsaaklik kan aandag gee aan die groter prentjie.

Net omdat die vertoning verby is, beteken dit nie jy hoef dadelik huiswaarts te keer nie. Pretoria bied oornagplekke wat elke sak en smaak sal pas. As jy dus ’n OPTOG!-konsert in die Jakarandastad bywoon, bespreek slaapplek en ry die volgende oggend uitgerus huis toe.

Ons topkeuse

Ander lekke opsies in die Jakarandastad

Hierdie week se program

Nataniël | 14 Maart | Welkom | Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 15 Maart | Kimberley | Bespreek hiér | Bly hiér
Laurika Rauch & Clinton Waring | 18 Maart | Pretoria | Bly hiér
Laurika Rauch & Clinton Waring | 19 Maart | Pretoria | Bly hiér

Begin van April se program

Die skoolvakansie begin 15 Maart en OPTOG! neem ook ’n blaaskans. Maar vanaf 2 April is die wiele weer aan die rol en die skedule bars behoorlik uit sy nate ─ bespreek sommer nóú al ’n opkomende konsert:

Nataniël | 2 April | Port Elizabeth | Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 3 April | Oos-Londen | Bespreek hiér | Bly hiér
Romanz | 5 April | Paarl | Bespreek hiér | Bly hiér
Joshua na die Reën | 5 April | Kathu | Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 6 April | Malmesbury Bespreek hiér | Bly hiér
Nataniël | 6 April | Hermanus | Bespreek hiér | Bly hiér

Hou ons LekkeSlaap-blogblad dop om te sien met watter kunstenaars ons in April gesels en wanneer OPTOG! ’n draai op jóú tuisdorp kom maak!

Hooffoto: Deur OPTOG! verskaf