Die eerste kwartaal het gevaarlik lank geraak en almal is die laaste maand sleepvoet en langgesig werk toe, maar nou is Paasnaweek uiteindelik in sig. Die tasse is so te sê gepak, al die boksies op jou onthoulysie is afgetiek en jy wil nie hê daar moet nou enigiets tussen jou en jou welverdiende wegbreek staan nie.

Daarom deel LekkeSlaap ’n paar lekker wenke om te verseker dat jy dié Paasnaweek die verkeer vermy en betyds by jou bestemming inklok:

Verlof: Praat mooi met jou baas en vra vir ’n paar ekstra verlofdae sodat jy ’n dag of twee vroeër kan wegkom en sommer later ook kan terugkeer.

Vroeg uit die vere: Val vroeër in die pad. Pak die motor die aand voor die tyd, gooi die kinders met pajamas en al sommer 04:00 al in die motor en sit voet in die hoek.

Padkos: Pak ’n paar gekookte eiers, frikkadelle, hoenderboudjies en broodjies in en trek by een van die rusplekkies langs die pad af. Só vermy jy die honger skares by die kafees langs die pad.

Apps: Laai ’n GPS-app op jou slimfoon af sodat jy die heeltyd op hoogte kan bly van wat op die paaie aangaan. Apps soos Waze en Google Maps wys byvoorbeeld vir jou waar die meeste opeenhopings is en stel alternatiewe roetes voor sodat jy vinniger by jou bestemming kan uitkom.

Radio: As apps effe bo jou vuurmaakplek is, kan jy ook elke halfuur na die verkeersverslag op die radio luister.

Openbare vervoer: Maak die langpad deel van jou vakansie en gebruik openbare vervoer. As jy ’n kaartjie koop vir ’n oornag-treinrit of -busrit hoef jy nie eers agter die stuur in te skuif nie én dit gee jou meer tyd om jou boek klaar te lees.

Hemel op die platteland: Kies ’n alternatiewe roete op stiller paaie wat verby plattelandse dorpies kronkel. Jy mag dalk ’n bietjie langer op die pad wees, maar jy sal die padwoede vryspring terwyl jy minder bekende dele van ons pragtige land ontdek. Loer gerus hiér na ’n paar van ons wenke om die langpad deel van jou avontuur te maak.

Hou plaaslik vakansie: As jy glad nie kans sien vir die verkeer nie, en boonop brandstof wil spaar, stel ons voor jy gebruik die langnaweek om ’n toeris in jou eie dorp te wees. Hiér is ons lekker gids om jou lyf toeris in jou eie dorp of stad te hou.

Bestemming: Besoek ’n minder bekende bestemming om die massas te vermy. As jy koers kies na ’n minder bekende bestemming, sal die verkeer in daardie rigting vanselfsprekend minder wees.

Maak vol: Gaan maak ’n draai by die vulstasie voordat jy die langpad aandurf, sodat jy nie agter ’n lang ry motors by die vulstasie beland nie.

Blaaskanse: Probeer om nie té veel vloeistof in te neem nie. Koop botteltjies koeldrank wat kan toedraai in plaas van blikkies wat jy onmiddellik moet opdrink. Besluit vooraf waar julle gaan stilhou vir bene rek en probeer om daarby te hou.

Met hierdie wenke sal jy beslis betyds by jou Paasnaweek-bestemming inklok en ’n langnaweek sonder padwoede geniet. As jy een van dié is wat ’n bietjie laat geslaap het en nog nie ’n Paasnaweek-wegbreek bespreek het nie kan jy gerus op LekkeSlaap gaan loer wat nog beskikbaar is.