Suid-Afrikaners kan nie veel sonder ’n visum doen nie, maar wildkyk is darem een van die wonderlike ervarings waarvoor ons nie die land hoef te verlaat nie. Ons is vreeslik bederf met legio wildparke op ons drumpel en hoewel ons nie soos die buitelanders vlugte en khaki-uitrustings hoef te reël nie, is ’n wildkyk-vakansie nie kinderspeletjies nie. Met al die voorbereiding wat ’n wildkyk-wegbreek verg, is dit ’n groot teleurstelling as ’n mens nie die wild sien wat jy graag sou wou nie. Ons het juis dié 10 lekke wenke saamgestel om te sorg dat die wild jou nie ontwyk nie.

Wenk #1 Dink oor wat jy graag uit jou wildkyk-ervaring wil put en besluit daarvolgens tydens watter seisoen jy jou besoek wil beplan. Die meeste wildparke in Suid-Afrika is regdeur die jaar puik bestemmings, maar die konsensus is dat ’n mens gedurende die winter meer wild in die Krugerwildtuin sien. Die Bosveld is gewoonlik droog daardie tyd van die jaar, so meer diere word by die watergate gewaar en die wild kan ook nie in die geil plantegroei wegkruip nie. Somer in die Krugerwildtuin is op sy beurt weer lieflik as jy die groen landskap, vol watergate, Hoëveldse donderstorms en babadiertjies wil sien.

Wenk #2 Hou ’n ogie op die ruskamp se kennisgewingborde. Daar sal gewoonlik aantekeninge wees oor waar wild onlangs gesien is. Dis ’n baie goeie manier om seldsame spesies te siene te kry. Doen ook jou eie navorsing oor die spesie wat jy wil aanskou. As daar byvoorbeeld ’n aantekening gemaak is dat ’n jagluiperd 2 dae gelede in ’n sekere deel van die park gewaar is, kan jy eers navorsing doen om te sien hoe lank jagluiperds gewoonlik in dieselfde area bly. Indien die jagluiperd waarskynlik aangeskuif het, is dit nie die moeite werd om jou hele wildkyk-roete daarvolgens te beplan nie.

Wenk #3 Vra gerus. Die personeel by die ruskamp is gewoonlik vol interessante brokkies oor waar die wild wegkruip. By een só ’n ruskamp het ’n personeellid ons eenkeer vertel waar om ’n hiëna en haar pasgebore welpies te aanskou. Dit was ’n onvergeetlike ervaring en ons sou nie geweet het as ons nie gevra het nie. Soms is dit ook baie lonend om by ander parkbesoekers stil te hou en uit te vind watter wildsoorte hulle al daardie dag onder oë gehad het. Ek het die voorreg gehad om dié foto van ’n trop wildehonde te kiek omdat my pa by ’n ander groep wildkykers verneem het in watter rigting die wildehonde beweeg.

Wenk #4 Probeer elke oggend so vroeg moontlik uit die vere kom … Jy kan altyd later ’n middagslapie vat! Dis belangrik om jou wildrit te begin sodra die park se hekke oopmaak. ’n Mens sien veral vroegoggend groot katte. Leeus is eintlik maar skaars gedurende die dag, want hulle geniet dit sélf om ’n uiltjie onder ’n bos te knip wanneer die son op sy hoogste is. Beplan dus jou dag só dat jy vroegoggend en laatmiddag op wildritte gaan. Dis nie net die temperatuur wat meer aangenaam gaan wees nie ─ jy sal ook baie meer wild sien! Onthou net om die son se posisie in gedagte te hou, want as ’n mens in die son in ry, sukkel jy vreeslik om wild te sien.

Wenk #5 Stadig oor die klippe … Hou by so 20 of 25 km per uur wanneer jy in die park rondry. Die doel is nie om so vinnig moontlik van punt A tot punt B te kom nie ─ ’n mens wil tog wild sien langs die pad! Dis ongelooflik hoeveel diere en dinge ’n mens kan miskyk as jy te vinnig ry. Aan die ander kant wil ’n mens in parke soos die Kgalagadi Oorgenspark weer nie te stadig ry nie, want die wild is redelik wyd verspreid en dis gewoonlik beter om ’n groter area te dek.

Wenk #6 Onthou om broodnodige items soos verkykers, stewige skoene, ’n hoed, sonskerm en natuurlik jou kamera in te pak! Ons het een jaar net één van ons verkykers ingepak en dít was nou vir jou ’n ramp! Daar was permanent ’n gestryery oor wie die wild van nader mag bekyk. So, as jy motor-moles wil vermy, stel ons voor jy maak ’n lysie van al die items wat jy tydens jou wildkyk-uitstappies gaan nodig kry.

Wenk #7 Dis weereens belangrik om te besluit watter diere jy graag wil sien en volgens daardie spesies se ekologiese behoeftes te werk te gaan. Moenie jou tyd mors deur ’n luiperd op die vlakte te soek nie ─ sodra jy ’n bietjie oplees daaroor sal jy sien dié groot katte hou daarvan om in groot bome met lekker dwarstakke uit te span. Doen dus navorsing oor die spesifieke spesie se voorkeure en fokus op die dele van die park wat met die spesie se habitat ooreenstem.

Wenk #8 As jy by ’n watergat wil uitkamp, is dit belangrik om seker te maak dat daar nie ’n oorvloed alternatiewe waterbronne in die nabyheid is nie. As die watergat die enigste waterbron in die omgewing is, kan ons jou amper waarborg dat jy wild sal sien omdat die diere nie alternatiewe waterbronne sal benut nie. Onthou om drankies, peuselhappies, verkykers en ’n goeie boek in te pak vir die dag sodat jy gemaklik ’n paar uur daar kan deurbring en geduldig kan wag vir die wild om hul verskyning te maak.

Wenk #9 Dis belangrik om nie nét jou oë oop te hou nie, maar ook jou ore. Maak op al jou sintuie staat wanneer jy wildkyk. Hou jou ore oop vir prooi se angskrete, want dit beteken gewoonlik dat daar ’n roofdier in die omtrek is. Om wild te hoor is nét so spesiaal as om wild te sien. Ek het nog net een keer in my lewe ’n olifant hoor trompetter en ek het ook die voorreg gehad om ’n leeu te hoor brul. Dit het in albei gevalle gevoel asof die aarde onder my vibreer en dit was amper meer opwindend as om die diere in lewende lywe te sien! ’n Wilde dier se geluid is nie iets wat ’n opname sommer kan namaak nie.

Wenk #10 Moet jou nie blind staar teen die Groot 5 nie. Ander wild soos sebras, seekoeie, vlakvarke en kameelperde is nét so ongelooflik om in lewende lywe te aanskou. ’n Pret idee is om ’n lys te maak van al die diere wat julle graag gedurende julle vakansie wil sien en om hulle dan van die lysie af te merk soos wat julle hulle in die park teëkom.

Ons hoop hierdie wenke help jou om die beste van jou volgende wildkyk-ervaring te maak! Waar wil jý graag gaan wildkyk?

Hooffoto: Frances Strooh ©