Soos gesien op Maroela Media.

“Oom Olifant, jou reuse-dier, die mense lag vir hul plesier. Want waar het jy al ooit gehoor, van ’n stertjie van agter en ’n stertjie van voor?” ─ Afrikaanse kindervers

Sagmoedige reuse spuit mekaar by die watergat nat, ’n trop sebras galop verby, en die hemelblou lug kry rooi en oranje verfstrepe terwyl die son agter die Zuurberge verdwyn ─ ja, jy is in die Addo-olifant Nasionale Park! Dié wêreldbekende park is sowat 30 minute se ry vanaf Port Elizabeth en dis daarom ’n bobaas-bestemming vir moeë stadsjapies, ’n gesinsvakansie of ’n romantiese wegbreek. Om seker te maak jy verken die Addo-olifant Nasionale Park behoorlik, het LekkeSlaap ’n kitsgids saamgestel waarin ons opwindende selfry-roetes en interessante feite met jou deel. Boonop vertel ons jou waar jy salig kan slaap ná ’n dag propvol allerlei avontuur in Addo!

Selfry-roetes

Daar is verskeie selfry-roetes in die Addo-olifant Nasionale Park as jy die park op ’n daguitstappie wil verken. Dis egter die moeite werd om meer as ’n dag in die park deur te bring en daarom beveel LekkeSlaap die volgende selfry-roetes en oornagverblyf in die park aan.

Die Matyholweni-hek

As jy die Addo-olifant Nasionale Park vanaf Port Elizabeth nader, kan jy die park by die Matyholweni-hek binnegaan. Dié area bied ’n hele rits uitkykpunte waar jy kan benerek en wildkyk. Klok eers in by die SANParks Addo Matyholweni Rest Camp wat net ’n paar kilometer van die ingangshek af is en ry daarna tot by die Ndlovu-uitkykpunt om die vallei te bewonder. Ry dan tot by die Peasland-watergat waar jy hopelik ’n grootvoet of twee sal sien. ’n Entjie verder kan jy by die Algoabaai-uitkykpunt stop. Volg daarna die Ngulube-sirkelroete tot by die Ngulube-watergat waar leeus al opgemerk is.

As jy verder op die Ngulube-sirkelroete ry en links hou, sluit jy by die Mbotyi-sirkelroete aan. Hiér vorm die Indiese Oseaan en duine ’n asemrowende teenstelling met die ruigtes en wild ─ hou beslis jou kamera byderhand!

Keer dan terug na die ruskamp waar jy die eerste aand kan oornag. Matyholweni beteken “in die bos” en jy sal koedoes, bosbokke, rooikatte, bosvarke en vlakvarke hier teëkom. Dié kamp skuil teen die Sondagsriviermond naby Colchester en is ideaal as jy in ’n rustiger omgewing wil wees.

Matyholweni tot by Spekboom

Die volgende dag kan jy douvoordag opstaan om die sonsopkoms te ervaar. Verlaat die ruskamp taamlik vroeg sodat jy genoeg tyd het om die park verder te verken. Mik noord in die rigting van Addo se hoofruskamp en draai dan links op die Harveys-sirkelroete waar jy sowat twee kilometer verder ’n boom sal sien wat deur bye teen olifante beskerm word. Sluit dan weer aan by die hoofpad wat noord lei en geniet ’n heerlike ontbyt by die Jacks-piekniekplek. Hierna kan jy by Hapoordam stop waar olifante dikwels voorkom.

Ry dan verder tot by die SANParks Addo Rest Camp waar jy die ondergrondse wildskuiling kan besoek en by die inligtingsentrum kan inloer. Onthou ook om ’n saamry-gids vir die volgende dag se roete by dié ruskamp se ontvangsarea te bespreek. Jy kan dan laatmiddag ’n draai by die Carol’s Rest-watergat maak waar wild gereeld kom suip.

Sorg net dat jy voor sononder by die SANParks Addo Spekboom Tented Camp aankom waar jy gaan oornag ─ dié tentkamp is taamlik ongerep. Jy sal selde so na aan Moeder Natuur wees en die sterrehemel sal jou beslis betower terwyl jy ’n glasie wyn langs die kampvuur geniet.

As jy egter ’n ekstra aand in die Addo-olifant Nasionale Park wil oornag, kan jy ook verblyf by die SANParks Addo Rest Camp bespreek. By dié gewilde ruskamp hoor jy soggens ’n bokmakierie fluit en snags brul leeus in die verte.

Spekboom tot by Nyathi

As jy die vorige dag jou saamry-gids bespreek het, kan jy vroegoggend terugry na die hoofruskamp om hom op te laai ─ dis die beste manier om die park te verken en dis ook uniek aan die Addo-olifant Nasionale Park. Simnikiwe Nogaya is tans die park se enigste saamry-gids en ken die park soos die palm van sy hand. Hy werk al sedert 2000 hier en weet presies hoe om ’n roofdier op te spoor.

“Ek maak die venster oop wanneer ek begin ry en luister soggens na jakkalse en hiënas. As die jakkalse blaf en nie huil nie, kan dit beteken dat ’n leeu in die omgewing is,” sê Simni. Kraaie kan jou na ’n vangs in die omtrek lok, maar daar is nie ander roofvoëls in die park nie omdat daar nie nesmaakplek vir hulle is nie.

Simni sê ook jy moet sebras dophou omdat hulle dikwels in die rigting van ’n roofdier sal staar en soos ’n perd sal blaas om ander te waarsku. Verder is ou karkasse ’n goeie aanduiding en as jy op ’n vars vangs afkom sal jy definitief ’n paar roofdiere gewaar.

Ná hierdie opwindende dag kan jy via die R342 na SANParks Addo Nyathi Rest Camp ry. Dié skilderagtige kampgebied is naby ’n watergat waar troppe olifante dikwels kom suip en speel. Daar is ook ’n kans dat jy die koning van die oerwoud of ’n ontwykende luiperd in dié geweste kan raaksien. Nyathi, wat “buffel” beteken, is baie afgeleë en bobbejane, koedoes en vlakvarke is volop.

Bedrogfontein 4×4-roete

Die Bedrogfontein 4×4-roete strek vanaf die Kabouga- tot by die Darlington-area en is ’n eenrigtingroete wat net van oos na wes aangepak kan word. Kabouga is sowat ’n uur se ry vanaf die Addo-olifant Nasionale Park se hoofingangshek by Kirkwood, en Darlington is sowat twee uur se ry van die hoofingangshek af. Dié roete sal jou ongeveer ses uur neem om te voltooi.

Dis slegs geskik vir ’n 4×4 of ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte omdat die terrein baie ru en vol berge en dale is. Die uitsig is deurgaans iets om te beleef en daar is ’n magdom geskiedenis in die omgewing, veral langs die Bedrogfonteinpas waar jy Anglo-Boereoorlog-grafte en oeroue bome waarop soldate boodskappe uitgekerf het, sal teëkom.

Langs dié roete sal jy verskillende soorte plantegroei gewaar, van rivieroewerstruike en ’n woud, tot fynbosbedekte pieke en die Nama-Karoo in die Darlington-area. Daar is ook ’n spruit, Bedriegsfontein, waarna die pas en roete vermoedelik vernoem is.

Nadat jy die Bedrogfontein 4×4-roete voltooi het, kan jy by SANParks Addo Narina Bush Camp oornag. Dié boskamp skuil aan die voet van die Zuurberge in ’n wonderskone woud en vorm nie deel van die hoofwildarea nie. Voëlsang vul die vroegoggendlug en saans kan jy by die vuurput ontspan en verwonderd na die naggeluide luister.

Ander verblyfopsies

Buiten die SANParks Addo-blyplekke bied LekkeSlaap ook talle ander opsies as jy in of naby die Addo-olifant Nasionale Park wil bly. Van ou plaashuise en bekoorlike kothuise, tot luukse lodges ─ jy kan kies en keur!

De Old Drift B&B | Avoca River Cabins | Addo Gateway Lodge | Addo Dung Beetle Guest Farm | Kuzuko Lodge | Gorah Elephant Camp

Het jy geweet?

* Van Desember tot Februarie is die Addo-olifant Nasionale Park se bosse vaal weens die hitte en gebrek aan reën. Hordes olifante soek dan ’n bietjie lafenis by die watergate en daarom is somer die beste tyd om die park te besoek.

* Die Addo-olifant Nasionale Park is die derde grootste nasionale park in Suid-Afrika en strek vanaf die Karoo in die noorde tot by die Indiese Oseaan in die suide.

* Buiten die beroemde Groot 5 wat deur die bosse en oor die vlaktes swerf, kan jy selfs volstruise, pikkewyne en dolfyne in dié park gewaar.

* Spekboom is volop in die park en omdat dié vetplant so vinnig regenereer, kan dit die olifante se verwoesting weerstaan. Die park het ook meer as 1 550 verskillende plantspesies waarvan 20% nêrens anders voorkom nie.

* Gidse het nie vuurwapens nie omdat voertuie nie die saggeaarde olifante bedreig nie. ’n Olifant kan egter bedreig voel as jy té na aan dit probeer kom. Parkeer dus op ’n veilige afstand en laat die olifant vreedsaam na jou toe kom.

* Olifante vermy die bome vol wit byboksies omdat hulle bang vir bye is! Bye steek olifante gewoonlik op hul sensitiewe ore, om hul oë en op hul slurppunte. Maar dié spesiale bome is soms onvermydelik as ’n olifant ’n bietjie skadu soek.

* Sowat 90% van die olifantkoeie het nie oogtande nie, maar olifantbulle is vanaf die Krugerwildtuin gebring om die genetiese diversiteit te vergroot.

* Kalahari-swartmaanhaarleeus is meer as tien jaar gelede na die park gebring omdat dié spesie die naaste is aan die uitgestorwe Kaapse leeu wat voorheen in die Addo-omgewing geswerf het.

* Afrika-pikkewyne kom by St. Croix en Voëleiland in Algoabaai voor en die Addo-olifant Nasionale Park beskerm byna 50% van dié bedreigde spesie.

* Algoabaai staan bekend as die wêreld se stompneusdolfyn-hoofstad te danke aan meer as 28 000 dolfyne wat dié waters hulle tuiste maak.

* Die Alexandria-duinveld vorm deel van die park en strek oor meer as 15 800 hektaar wat dit die grootste van sy soort in die Suidelike Halfrond maak. ’n Houtpaadjie lei tot by die strand vanwaar jy die duinveld kan aanskou, of jy kan die Alexandria-staproete aandurf.

So, weet jy al waar jy dié somer vakansie gaan hou? In die Addo-olifant Nasionale Park, natuurlik! Bespreek nóú verblyf sodat jy nie op die nippertjie hoef rond te skarrel nie en kom ervaar allerlei avontuur op ’n selfry-rit in hierdie pragtige park.

Hooffoto: Hitgeheim Country Lodge & Eko-Reservaat (Foto: LekkeSlaap)