Sutherland, die uiters bekoorlike dorpie in die westelike deel van die Roggeveldberge in die Karoo, spog met heelwat merkwaardige eienskappe. Al lyk hierdie dorpie en sy inwoners nederig, het hulle verskeie redes om besonder trots te wees. Sutherlanders is bekend vir hul hartlike gasvryheid, en die sneeuwinters en dramatiese landskappe is absoluut asemrowend. Maar dié Karoodorpie se gewildheid is waarskynlik te danke aan die feit dat dit Suid-Afrika se sterre-mekka is.

Te danke aan Sutherland se unieke ligging is dit moontlik om sneeu én sterre hier te kyk ─ ’n rare kombinasie wat talle toeriste noop om elke winter hier ‘n draai te maak.

As dit by die sterre kom, is daar een naam wat telkens opduik, en dit is Jurg Wagener, een van Sutherland se juwele. Die meeste mense is vertroud met die reuse teleskoop op die koppie net buite Sutherland, maar Jurg spog met sy eie versameling van hierdie instrumente wat ’n mens help om die sterre ordentlik te bestudeer.

Jurg en sy vrou Rita het in 2001 Sutherland toe getrek om af te tree, maar van stilsit en niksdoen was daar geen sprake nie. Hulle het ’n gastehuis, die Kambro Kind, gebou en dit tot en met 2012 bestuur, waarna hul dogter en skoonseun dit oorgeneem het. Hulle het ook die Sterland Boerdery begin. Dit is híér waar hulle vir belangstellendes die geleentheid bied om ’n privaat sterrekyk-sessie te kom geniet. Daar is selfs ’n gerieflike, skaduryke karavaanpark vir sterreliefhebbers wat hou van kampeer.

Volgens Jurg het dié storie eintlik per ongeluk begin en was sterrekyk glad nie eers een van sy belangstellings nie. Op ’n manier het hulle dit wel reggekry om die Sterland Boerdery op die been te bring en is nou al vir ’n bietjie meer as 6 jaar aan die gang. Daar is nie ’n aand wat verbygaan wat daar nie mense by hulle aanklop om sterre te kom kyk nie!

Die sterrekyk-sessies word byna elke nag van die jaar, 7 dae van die week aangebied (Jurg is darem 3 aande per maand af). Die sessies begin 20:00 en duur 2 uur lank, skakel gerus 023 571 1481 om te bespreek. Onthou net om die regte klere in te pak vir die geleentheid! (Dit wil sê, jou warmste klere!)

Op ’n aand met baie maanlig, moet daar glo meer gekonsentreer word op helder voorwerpe. Volgens Jurg word Betelgeuse, die helderrooi ster in die konstellasie van Orion, gewoonlik op so ’n aand bekyk. Dieselfde geld vir Sirius, beter bekend as die ‘Groot Hond’. Sirius is die grootste ster in die Canis Major-konstellasie asook die helderste ster in die ganse naghemel.

Die Sewe Susters (Pleiades) in die Taurus-konstellasie en 47 Toekan, die sterrebondel naby die Klein Magellaanse Wolk, is nog 2 pragtige beelde. Die Magellaanse Wolke is 2 dwergsterrestelsels wat onreëlmatig gevorm is en digby die Melkweg lê.

Een keer per maand, op die eerste naweek van die nuwemaan, bied Jurg-hulle “Sterre tot Middernag” aan. Tydens dié spesiale program konsentreer hulle op sterrebeelde wat baie diep in die ruimte gevind word, soos die Beeldhouer-sterrestelsel wat 7 500 000 ligjare ver is.

Die ander rede waarom nuuskieriges elke jaar na Sutherland stroom, is natuurlik die sneeu. Sutherland staan bekend as die koudste dorp in Suid-Afrika, met ’n gemiddelde jaarlikse temperatuur van 11 °C en ’n gemiddelde minimum temperatuur van 2,8 °C. Op 12 Julie 2003 het die kwik tot by -16,4 °C gedaal, die koudste wat dit in 33 jaar was! Dit klink dalk nie so erg as jy dit vergelyk met plekke soos Kanada of Siberië nie, maar vir SA is dit byna ondenkbaar!

Die sneeu kom egter nie elke jaar op dieselfde tyd nie en daar val ook nie elke jaar dieselfde hoeveelheid sneeu nie. Volgens die plaaslike inwoners, kom die eerste groot koue in April. Hoe kouer dit oor Paasnaweek is, hoe kouer gaan die winter wees! Sommige jare kom die sneeu vroeg, teen die einde van Mei of aan die begin van Junie al. Maar die meeste sneeu val gewoonlik in Augustus. Belangstellendes kan gerus vir Jolene du Plessis (@DiscSutherland) op Twitter volg. Sy hou almal jaarliks op hoogte van Sutherland se sneeu-sake.

Buiten die Kambro Kind is daar heelwat ander oulike blyplekke in Sutherland, soos die Saaiplaas Gastehuis en Catherine’s Cottage.

Saaiplaas is een van die mooiste plase in die Karoo. In die winter is die veld oortrek met swaar ryp of sneeu en in die lente is die wêreld prentjiemooi van al die veldblomme. Rustigheid en pragtige sonsondergange (veral in die herfs en lente) is gewaarborg. By Saaiplaas boer hulle met Merino-skape, Angus-beeste, groentesaad en bye.

Catherine’s Cottage is ’n bekoorlike selfsorg-eenheid waar jy heerlik kan ontspan in Sutherland se stilte. Hier sal jy elke uur hoor hoe die groot kerkklok beier, ontwaak met die reuk van varsgebakte brood in die lug en die wonderskone sonsondergang oor die verlate vlaktes kan geniet. Jou siel sal behoorlik verkwik wees na ’n besoekie aan hiérdie juweel van ’n plek.

As jy jou verbeelding gebruik en lees oor die sterre en die sneeu, kan jy dalk ’n idee kry van hoe dit lyk. Maar wat jy regtig nodig het, is om die ware Jakob te beleef. Sit ’n paar dae verlof in of benut die volgende langnaweek en kom kuier ─ almal kan doen met ’n wegbreek in Sutherland!

Kliek hier vir meer verblyf-opsies in Sutherland!

Hooffoto bo: Stephen Potter.