Dis vroeg Vrydagoggend en ons ry na Wellington in die Kaapse Wynlande. Wingerde staan op dié dag windverwaaid met die groot Groenberge in die agtergrond. Skielik verander die teerpad in ’n 2,7 kilometer lange stofpad wat jou een ding laat besef ─ jy het die rumoer van die stad vir die rustige plaaslewe agtergelaat.


Langkloof Roses dateer uit die 1800’s en laat gaste voel asof hulle Suid-Afrika vir die platteland in die suide van Frankryk verruil het. Die vrugbare grond op dié plaas is oorspronklik vir ’n vrugteboord bewerk, maar vandag is daar wingerde, ’n organiese tuin en erfenisrose wat in die pragtige tuine pronk. Met meer as 12 000 roostipes op die perseel is die naam “Langkloof Roses” heel gepas en die besoek beslis die moeite werd! Sit jou sonhoed op, hou jou kamera byderhand en laat LekkeSlaap jou deur die rustige roostuine lei.

 Besige Bloemiste

Langkloof Roses voorsien erfenisrose aan die blommemark. Rose word gedurig op lang toonbanke in die ingangsportaal rangskik, gesnoei om byna elke vertrek met pragtige rooi, pienk en wit te versier. Die hele ingang ruik asof dit in ’n roostuin vasgevang is! Rose word daagliks verkoop en rangskikkings kan vir spesiale geleenthede gemaak word. Gaste word genooi om self hulle rose te kom pluk en meer te leer oor die pragtige blomme by die beste in die roosbedryf! Langkloof bied jaarliks ’n Roosfees op Nasionale Tuindag aan, waar gaste aan roosdrankies kan teug terwyl hulle ’n toer van die tuine geniet en hulle eie bondel rose pluk. Roosprodukte word ook in oormaat verkoop en gaste kan onder andere leer om ’n pragtige rooskrans te maak!

 Klere te Koop

Antoinette, die eienaar van Langloof Roses, het géén tekort aan inspirasie nie! Die pragtige roosplaas word nie net in die loodglasventers en in die dekor weerspieël nie, sy verkoop ook stylvolle klere van LIN Linen op die perseel. Die klere is van sagte linne met natuurlike, aardse kleure gemaak ─ lekker lig en koel vir die somer. Van die kledingstukke het pragtige blomme en, natuurlik, rose op en laat enige iemand soos ’n Europese stylikoon voel. Hier word ook ander ditjies en datjies wat ideaal is vir geskenke verkoop.

 Teekamertye

Die knus Teekamer is die hart en siel van die plaas. Hiér kuier almal lekker saam, terwyl hulle aan verskeie kruietee, soos rosmaryn- of sitroengrastee, teug. Daar word selfs teeproesessies aangebied! Gaste kan om 08:30 aan ’n lipleklekker ontbyt smul ─ ons is met tee, muesli met jogurt en heuning, én ’n warm wafel bederf! Vir die soettande, is daar nog aarbeie en room ook! Moet net nie vergeet om ’n gaatjie vir die soutighede te los nie, want nes jy dink ontbyt is klaar, word die volgende skinkbord met roereier, wors en vars plaasbrood van gesonde Witwol-koring aangedra. Gedurende die week kan gaste verskeie soetighede en heerlike ligte etes soos Flori’s Platter met kaas, brood, kouevleis, Langkloof-olywe en meer kom geniet! Vra gerus hiér vir meer inligting oor al die lekker doendinge op die perseel.

 Feestelike Funksies

Langkloof Rose bied werklik plek vir enige tipe funksie. Die teekamer word gereeld vir intieme funksies soos ’n kombuistee, ooievaarstee of verjaarsdag gebruik. Die roosblaar-voetbehandeling is ideaal as julle die eregas behóórlik wil bederf! Die ou perdestalle is in ’n rustieke kapel omskep en besoekers is gaande daaroor ─ dit word gereeld vir troues gebruik. Die kapel het sitplek vir ongeveer 50 familielede en vriende, en spog met ’n pragtige ou klavier en die mooiste loodglasvensters. Die Herehuis is ideaal vir die onthaal met tafels, stoele en ’n kroeg wat gehuur kan word! Maak seker jy voeg Langkloof se eie rooiwyn, Vale da Rosa, by die spyskaart ─ die gaste sal mal wees daaroor!

 Woelige Werkswinkels

Langs die teekamer is daar ’n pragtige Romeinse veranda waar die flambojante Francois Hattingh verskeie werkswinkels en gesinsprogramme aanbied. Ons het die voorreg gehad om sy heel eerste aanbieding van ’n natuurlike haarversorgingswerkswinkel by te woon! Interessant, insiggewend en inderdaad ’n plesier ─ dié kenner weet dat al die antwoorde in die natuur lê en bied daarom ook ’n werkswinkel oor natuurlike skoonmaakmiddels aan! Werkswinkels oor permakultuur, fermentasie en meer word ook hier deur ander sprekers aangebied.

 Voortreflike Verblyf

Langkloof Roses bied B&B-verblyf met slaapplek vir ongeveer 50 gaste op die perseel aan. Die eenhede is in die 1840’s vir plaaswerkers gebou en is vandag ideaal vir gaste wat op soek is na ’n stil plaaswegbreek.  Die verblyf is ideaal vir trougaste! Die 6 gesinseenhede het elkeen 2 dubbelkamers, warmmaak- en eetgeriewe, ’n moderne sitkamer met ’n kaggel en ’n badkamer. Daar is 13 aparte dubbelkamers, elkeen met sy eie en suite-badkamer. Daar is selfs ’n wittebrood-suite vir pasgetroude paartjies wat ’n bietjie meer privaat en afgesonder is van die ander eenhede. Die res van die eenhede skuil agter ’n roostuin met ’n boma waar gaste laatnag gesellig om die vuur kan sit en kuier. Die selfoonsein is maar skraps op die plaas en soggens kraai die natuur se wekker, so jy kan sommer jou selfoon eenkant los. Daar is wel gratis WiFi vir gaste wat dadelik hulle foto’s op Instagram wil laai.


Langkloof Roses, omring deur eikebome en prentjiemooi roostuine, spog ook met bokke, hoenders, ganse, skilpaaie en perde! Kom kuier op die plaas en verken die organiese groentetuin, roostuin, perdestalle, wingerde, woud en groot dam op die perseel. Niks op Langkloof is ver van mekaar af nie en alles staan gereed vir ’n skilderagte foto! Bespreek jou wegbreek na Langkloof Roses deur LekkeSlaap, want hiér is dit altyd maanskyn en rose!

Hooffoto: Langkloof Roses deur Cea Swart