As jy “Darling” hoor, dink jy waarskynlik heel eerste aan Evita se Perron, maar daar is soveel meer wat in dié dutjiesdorp aangaan! Hier kan jy net ontspan en jou in die salige plaasatmosfeer verlustig, óf ewe lekker rondrits van eetplek na drinkplek na proeplek. LekkeSlaap was vir ’n paar dae gedurende die Darling Veldblommeskou daar om agter die skerms te gaan ondersoek instel en uit te snuffel wat als in dié darling dorpie skuil!

Blommekyk en Trekkerritte by die Darling Veldblommeskou

Presies 100 jaar gelede vanjaar is die heel eerste jaarlikse Darling Veldblommeskou gehou en die Darling Veldblomvereniging amptelik gestig. Dit het oor die jare so gegroei dat daar deesdae sowat 7000 besoekers binne drie dae ’n draai daar maak! Dit vind steeds jaarliks op die derde naweek van September plaas en vier die Kaapse fynboskoninkryk wat uit meer as 1200 blomspesies bestaan.

Alhoewel die droogte ’n groot impak op vanjaar se blommeseisoen gehad het, kon die blomvereniging saam met talle plase in die omgewing steeds ’n skouspelagtige uitstalling vir skougangers saamstel. Soos Pieter-Dirk Uys in sy openingspraatjie gesê het: “Niks gaan dood aan die Weskus nie ─ ons kruip net weg!” Vanjaar het die vereniging en gemeenskap hard saamgewerk om die Weskus te fynkam vir ’n verskeidenheid veldblomspesies en die skou behoorlik te laat floreer. Hulle het verskeie planne om uit te brei en die blommeskou so innoverend as moontlik te hou, soos met hulle nuwe app wat verskeie QR-kodes by die blomuitstalling skandeer om meer oor die spesifieke spesie te gaan lees. Is dit nou nie slim nie?

Buiten prentjiemooi blomuitstallings is daar allerhande vermaak, ’n wyntent en kos- en kunsstalletjies wat sommer die hele gesin vir ure kan besig hou. Die rit op ’n trekkerwa deur die ongerepte, blombesaaide Oude Post-vleiland was beslis vir ons ’n hoogtepunt! As jy regtig passievol is oor die blommeryk en die bewaring daarvan, kan jy gedurende die skou selfs ’n werkswinkel bywoon wat deur plaaslike kenners aangebied word. Onthou ─ jou toegangsfooi dra by tot die bewaring van ons bedreigde blommeryk!

Ongelooflike orgideë by Duckitt Nurseries

Kan jy jouself indink hoe ’n reusevertrek vol kleurvolle orgideë lyk en ruik? By Duckitt Nurseries, die grootste orgideëplaas in Afrika, kan jy vanaf Mei tot November op die eerste Saterdag van elke maand tussen 09:00 en 12:00 gratis by die kweekhuis dié lushof self kom beleef!

Dié kwekery is in 1979 gestig en is sowat drie kilometer suid van Darling geleë. Daar word talle orgideevariëteite gekweek waarvan die blomme meestal uitgevoer word en die plante spesifiek vir die plaaslike potplantmark gekweek word. Volgens eienaar, Wilferd Duckitt, is Cymbidiums en Phalaenopsis die gewildste spesies onder die plaaslike mark, waarskynlik omdat hulle die ideale potplante vir die huis is. Sy versorgingswenk vir iemand wat ’n orgidee in die huis aanhou, is: “Moet nooit ’n nat plant natgooi nie. Dreinering is uiters belangrik!” So, maak seker jy kry die perfekte pot en regte hoeveelheid water. Die plant moet ook nie te veel son kry nie en mooi skoon gehou word. As jy mooi na hom kyk, sal sy blomme baie langer hou as die meeste ander blomsoorte.

Die volgende opedag is Saterdag 7 Oktober tussen 09:00 en 12:00, so moet dit nie misloop nie! Maak ook solank ’n knoop in jou oor vir volgende jaar se Darling Veldblommeskou, want gedurende die skou is Duckitt Nurseries heeldag oop en het ’n hele orgideëgalery waar jy alles van ’n potplant, rangskikking of hangende orgideë kan koop. Dis regtig indrukwekkend om só ’n kaleidoskoop van orgideë te aanskou!


Kaas so Kosbaar soos Kinders by Udderly Delicious

Ek het nog nooit iemand teëgekom wat só lief is vir kaas soos Carla Bryan, Darling se plaaslike fynproewerskaasmaker, nie! Sy het Darling toe gekom met die idee om af te tree en is op ’n dag onverwags genooi om saam met haar kêrel se pa ’n kaasmaakkursus in die Kaap by te woon. Só het sy begin om haar eie kaas te maak, en dit nou en dan by markte te verkoop. Die aanvraag het só groot geraak dat sy eenvoudig móés uitbrei. Nou voorsien sy haar kase aan toprestaurante in Stellenbosch en hulle verskyn ook op die smullekker kaasborde by Darling Brew.

“Skattie”, ’n kaas tussen gouda en cheddar, is die plaaslike inwoners se gunsteling. Carla spot oor die oulike naam en sê dat hulle hierdie tipe kaas soos ’n baba behandel, so dis dié dat die kaas ’n troetelnaam het. En wat is Carla se gunsteling-kaas? Sonder twyfel haar bekroonde Caciotta — ’n sagtekaas wat iets tussen feta en brie is. Sy maak ook ricotta en mascarpone op versoek, en soms pecorino as sy tyd het.

Besoekers kan inloer om dié kase en ander plaaslike lekkernye soos olywe, pesto, konfyt en egte plaasbotter te proe, en met goeie tydsbekerening is Carla dalk self daar om met trots haar versameling kase aan jou bekend te stel. Elke nou en dan kan jy ook deur die glasmuur loer hoe sy die dikmelkstukke sny om dit van die wei te skei en selfs albei proe as jy kans sien. Ons wed jou jy sal nie kan uitloop sonder een van haar meesterstukke en ’n nuwe waardering vir die tyd, moeite en liefde wat in elk van haar kase belê is nie!

Aanbeveel deur die eienaars: Caciotta

Iets vir die Soettande by Darling Sweet

Frits van Ryneveld, ’n plaaslike inwoner met ’n agtergrond in ontwerp, en Hentie van der Merwe, met sy passie vir kuns en kos, het in September 2013 ontmoet en besluit om ’n toffiefabriek in Darling oop te maak. Botter, een van die toffies se hoofbestanddele, is byna sinoniem met Darling ─ dis g’n wonder dié dorpie tower die lekkerste handgemaakte toffies op nie. Nou het reisigers nóg ’n rede om in dié dorpie te gaan kuier terwyl hulle die Weskus verken!

In Julie 2014 is Frits se antiekwinkel in ’n kombuis omskep waar die eerste drie geure, Tannie Evita’s Classic, Heuning en Sout, en Suurvy ontstaan het. Deesdae het hulle ’n fabriek in die dorp wat allerlei toffies met geure soos rooiwyn-en-sjokolade, lemoen-en-granaat, drop en brandrissie, en selfs Ormonde-wyntoffies en toffiesmere produseer. Dié toffies word deesdae by talle markies en plaaslike winkels verkoop en word almal met behulp van tradisionele metodes uit hoofsaaklik plaaslike bestanddele met die hand gemaak, en sonder enige kunsmatige geur- of preserveermiddels. Duidelik is dié tradisionele toffies en hul bekende Suid-Afrikaanse geure ’n wenkombinasie!

Gaan proe gerus al dié liplekker geure by die proelokaal wat deesdae in Darling se oorspronklike algemene handelaar-gebou is! Frits raai nuwelinge aan om die klassieke Tannie Evita’s Classic-toffie te proe ─ dís tog waar dit alles begin het. Toe ons hom vra of hulle tans aan enige nuwe geure werk, het hy geheimsinnig geantwoord:

“Daar is inderdaad… Ons neem ons tyd met ons nuwe geure om seker te maak dis perfek! Hierdie nuwe geur is top-secret, maar ek sal vir jou ’n clue gee – dis iets EG Suid-Afrikaans en iets van ONS streek!”

Kan jý raai wat die nuwe geur gaan wees? Laat weet ons wat jy dink!

Aanbeveel deur die eienaars: Coffee Toffee, Orange & Cranberry, Bird’s Eye Chili-toffiesmeer en Honey & Salt-toffiesmeer.

Bierproe en Bewaring by Darling Brew

Wie sou kon raai dat Darling Brew se eienaars, Kevin en Philippa, eintlik nog altyd wynliefhebbers was en eers hul neuse opgetrek het vir “tuisgemaakte bier”? Dié twee se bierstorie het begin met ’n wildkykreis deur Afrika wat spoedig verander het in ’n ontdekkingstog van Afrika se groot verskeidenheid kommersiële biere. Skaars drie dae ná hulle vertrek het hulle vir Andre van Sneeuberg Brewery ontmoet wat hulle nuuskierig gemaak het oor mikrobrouery. Hulle was reeds op soek na ’n oorspronklike besigheidsidee vir Darling, en craft-bier was toe nog nie só alledaags nie, so die tydsberekening was perfek! Hulle het kleinskaals in Kaapstad begin bier brou en gesukkel om ’n dranklisensie te kry, maar uiteindelik in 2015 hulle eie brouery in Darling oopgemaak en vandaar het Darling Brew eksponensieël gegroei!

Kevin en Philippa se filosofie oor bier word in een woord opgesom: Slowbeer. Hulle glo in basiese, tradisionele en noukeurige brou- en fermentasieprosesse om te verseker dat elke bier besonders is en beter is as alle kommersiële biere. Seker dié dat hulle sulke lekker groot bottels het sodat jy lank en salig aan jou bier kan sit en teug … Toevallig pas dié filosofie ook by die luilekker leefstyl in Darling en die slow life-tendens.

Wat hulle biere selfs méér van ander Suid-Afrikaanse biere onderskei, is die interessante name en motiewe op die reeks van meer was 14 biere, wat geïnspireer is deur Suid-Afrika se bedreigde dierspesies. Dit maak bierdrinkers bewus van die bedreigde dierspesies, terwyl hulle aktief saam met talle bewarings- en navorsingsinisiatiewe werk. Wie’t geweet bier en bewaring kan hand aan hand gaan?

Familie is ook hoog op Darling Brew se prioriteitslys en Philippa het met haar twee dogtertjies opgedaag om met ons te gesels. Sy het altans, soos sy sê, as’t ware ter gelyke tyd aan haar jongste, Isabella, en die brouery geboorte geskenk! ’n Daguitstappie Darling Brew toe moenie net vir die grootmense lekker wees nie, meen sy. Hulle poog om werklik ’n gesinsvriendelike ervaring te bied met ’n klimraam vir die kleintjies, en binnekort ook ’n tafeltennisblad vir ouer kinders. Daar is selfs ook stortgeriewe en fietsrakke vir bergfietsryers.

Die restaurant op die perseel, bestuur deur Gil Ferreira van The Flying Pig, is weer ’n bederf vir smulpape met die lekkerste kouevleis-en-kaasborde en ander ligte maaltye wat die biere komplementeer. Bespreek gerus vooraf vir jou ’n bierproesessie en bring die hele gesin saam vir ’n daguitstappie, of reël selfs jou volgende groot verjaarsdag hier!

Aanbeveel deur die eienaar: Black Mist

Slaap en Smul by
The Granary Petite Hotel en Chicory Cheese Café

Dié bekoorlike hotel is ’n geskiedkundige juweel van die 1900’s wat uit ’n hoofhuis, buitegebou en skuur bestaan. Die skuur is destyds deur Nicolaas Hendrik Loubser gebruik om waens te bou en ’n paar van dié waens is vandag in die Darling Museum te siene. Die Loubser-familie het die eiendom ná die jaar 2000 verkoop en dit is daarna in ’n gastehuis omskep. Graan wat op die perseel langsaan gemaal is, is in die hoofhuis se solder gestoor waar die grofsmid se kinders altyd gespeel het. Dís dalk waarom die boonste verdieping ’n betondak het!  

Die hotel is lekker sentraal, so jy kan gerieflik in die dorp rondstap. Daar is ’n paar oulike kamertipes om van te kies en die een is so mooi soos die ander ingerig! Die balkon bo het ’n prentjiemooi uitsig oor die dorp en die gesellige tuin onder is die ideale plek om soggens ’n koppie koffie te drink. Hier voel jy sommer dadelik tuis te danke aan al die vriendelike gesigte wat jou begroet!

Soos in enige egte plattelandse dorpie in Suid-Afrika werk plaaslike instansies lekker saam om die beste alles-in-een ervaring aan besoekers te bied. Daarom het die hotel en die restaurantjie op die perseel, Chicory Cheese Café (vernoem na die chincherinchee-blommetjie), in 2015 saam begin om hotelgaste soggens met ’n heerlike ontbyt te bederf. Dit is ook oop vir besoekers van buite en is ’n gunsteling onder Darling se inwoners. Bestel gerus die inwoners se gunstelinge op die spyskaart: Bubble & Squeak-ontbyt, Chicory Cheese Delight, falafels en wortelkoek.

Let wel: Dit is nie ’n kaaskafee soos die naam jou dalk sal laat dink nie. Soos eienaar Anesia Darné sê: “Cheese is in our name, but not our game.”

Aanbeveel deur die eienaar: Ghanis fry-up op die ontbytspyskaart (aartappels gebraai met kerrie, vars gemmer en mosterdsaadjies gemeng met vars koljander en sprietuie bedien met twee gebakte eiers bo-op!)

Baie dankie aan The Granary Petite Hotel wat gasheer gespeel het terwyl ons in Darling gekuier het!

Wyn en Weskus-gasvryheid by The Darling Wine Shop

Darling is omring deur wynroetes en één naweek is veels te kort om by ál die topwynplase in die omtrek uit te kom. Daarom het Charles Withington, ’n ou hand in die Suid-Afrikaanse wynbedryf en plaaslike inwoner, in 2011 besluit om die Darling Wynwinkel oop te maak. Volgens hom drink baie reisigers wat Darling toe kom wyn, en hulle hou van goeie wyn, maar hulle wil nie ver ry nie. Eendag het ’n ou selfs vir hom gesê: “Ek ry nie stofpad om wyn te koop nie!” Dan is dié wynwinkel op die dorp mos die ideale oplossing!

Die winkel het ’n innoverende uitleg en spog met ’n diverse versameling wyne uit die Darling-omgewing en selfs so ver soos die Paarl. Charles moedig sy klante aan om self die winkel te verken en wyn te kies wat hulle interesseer ─ hy hou nie van ’n winkelklerk wat iets aan jou afsmeer en die idee om 4 tot 6 standaardwyne voor te sit vir proe nie. Op versoek sal hy dalk ’n bottel oopmaak vir proe, en hy bied soms proesessies aan wat hy “A Taste of Darling” noem waar hy jou ses Darling-wyne laat proe, en soms selfs “blind” sodat jy self kan raai watter wyn dit is. Hy het vir ons ’n Groote Post Riesling gegee om te proe, en ons kan getuig, hy’s lekker!

Die wyne in sy winkel sal jy nie sommer in ’n supermark kan koop nie, so as jy iets spesiaals soek, is dit regtig die moeite werd om by Charles se winkel in te loer. As jy oorweldig voel deur sy indrukwekkende wynbiblioteek, is Darling se bekendste wyn, Sauvignon Blanc, ’n goeie roep. Vra hom gerus ook uit oor sy eie Withington-wyne ─ die nuwe Nguni Malbec is glo iets besonders!

As jy tog kans sien vir rondrits, kan jy gerus by Groote Post, Ormonde, Darling Cellars en Cloof gaan inloer. Wat die Darling-wynroete só besonders maak, is dat al die wynplase mekaar ondersteun en jy in die proelokale regte Weskus-gasvryheid sal teëkom, so jy sal nie sommer spyt wees dat jy die stofpad aangedurf het nie!

Aanbeveel deur die eienaar: Nie net Sauvignon Blanc nie, maar iets meer avontuurlustig soos die wêreldklas-versameling rooi en wit versnitte.

’n Dag (of selfs drie) is eenvoudig te min om ál Darling se skatte te ontdek. Daar is soveel ander dinge om te sien, doen, proe en te besoek! Hier is nog ’n paar voorstelle van ons kant af:

Darling Olives: Proe olywe, olyfolie, olyfsjokolade, konfyt en smere.
The Flying Pig: Koop koue vleise, drink ’n koppie koffie of ’n bietjie bier, doen ’n charcuterie-kursus of eet middagete.
Nostalgia: Snuffel tussen die antiekware rond en soek ’n paar skatte uit.
Evita se Perron: Neem ’n kiekie by die Darling-spoorwegbordjie en kyk ’n vertoning deur Tannie Evita self.
The Marmalade Cat: Lekker koffie, ontbyt en middagetes. Gaan sê hallo vir die ‘marmalade cat’ self en koop ’n oulike geskenk in die winkel.

Kliek hier om jou eie wegbreek Darling toe te bespreek!

Foto’s: LekkeSlaap-fotograaf, Pieter Wolhüter.