Die Augrabies-omgewing het baie diep in my hart gekruip. Die geel grasvlaktes, die ongewone kokerbome, die rooi Kalahari-sand en die vriendelike mense is wraggies iets besonders. Die Augrabies-waterval is natuurlik die groot trekpleister van dié omgewing en ten spyte van die afgeleë ligging, stroom toeriste steeds elke jaar hierheen om die grootste waterval in Suid-Afrika te aanskou.

As Augrabies dié winter op jou pad lê stel LekkeSlaap voor jy bly sommer ’n hele paar dae. Hieronder lys ons ’n paar doendinge wat ook tot die bekoring van die omgewing bydra en beslis ’n besoek werd is.

Warmwaterbronne

Die Riemvasmaak-warmwaterbronne het ontstaan as gevolg van eeue oue vulkaniese uitbarstings. Alhoewel dié uitbarstings jare gelede reeds uitgedoof het, verhit die vulkaniese aktiwiteite diep onder die grond steeds die water. Met die eerste oogopslag lyk dié ru, afgeleë omgewing nie na veel nie, maar dan, in ’n diep kloof, omring deur 80 m hoë granietkranse, skuil ’n oase in die middel van dié dorre woestyn.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Yusuf Samsodien (@pah.bear) on


Waar:
Riemvasmaak Bewarea, 81,5 km vanaf Augrabies

Wanneer: Dagligure

Wie: 073 383 8812 of 083 873 7715

Wat: Prys op versoek

Staproetes

Alhoewel die 5 km lange Dassie-roete kindervriendelik is, kronkel dit al langs die rand van die kloof en hier en daar is ’n gladde deel waar ouers ’n ogie oor die kleingoed moet hou. Moon Rock, ’n groot granietrotskoepel, is op dié roete te vinde en is ’n besienswaardigheid in die park. Klim tot bo en haal gerus jou kamera uit om die asemrowende uitsigte vanuit die hoogtes vas te vang.

Daar is korter staproetes ook: die Gorge-roete is slegs 2 km lank vir diegene wat nie só avontuurlustig voel nie, en die Ebony-roete neem jou 2,8 km deur ’n skaduryke, klein woud van rivier-plantegroei ─ ideaal vir die warm somersdae. Onthou jou sonroom, hoed, stapstewels en genoeg water!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Penny Hardman (@diamonds_in_the_dust) on

Waar: Augrabies Nasionale Park-ruskamp, 12 km vanaf Augrabies

Wanneer: 07:00 tot 18:00

Wie: 054 452 9200

Wat: Gratis

4×4-Roetes

Spring in jou 4×4 en berei jou voor op ’n fantastiese avontuur. By Riemvasmaak is daar verskeie sirkelroetes van verskillende lengtes vir diegene wat bietjie hul 4×4-vernuf op die proef wil stel. Die Molopo-roete is 41 km lank, die Perdepoort-roete 49 km en die Deurspringer-roete 79 km. Dié roetes is almal uitdagend genoeg om die adrenalien te laat pomp, maar ook hanteerbaar genoeg om sonder ’n gids reg te kom. Daberas Guest Farm bied nie net gerieflike verblyf nie, maar ook verskeie sirkelroetes op ’n plaas waar jy jou sal verkyk aan die natuurskoon en sommer ook langs die pad ’n bietjie kan wildkyk. So, kom vlieg oor die plaaspaaie, klim die heuwels uit, plons deur die rivierbeddings en durf die sandduine aan.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Matthew Bowerman (@thudslug) on

Waar: Riemvasmaak Bewarea, 81,5 km vanaf Augrabies | Daberas Guest Farm, sowat 40 km vanaf Augrabies

Wanneer: Dagligure

Wie: 073 383 8812 | 083 384-7188

Wat: Prys op versoek

Bergfietsroetes

Die Kalahari River & Safari Co is langs die Oranjerivier net buite Kakamas geleë en daar is verskeie bergfietsroetes waar jy dié unieke streek kan gaan plattrap. Vir diegene wat nog nie so tuis in die saal is nie is daar ’n kort sirkelroete van 7 km op grondpaaie, oor ruwe koppies en al langs die rivier af. Vir die avontuurlustiger fietsryers is daar ’n roete van sowat 100 km tot by die Riemvasmaak-warmwaterbronne. Hiér kan jy lekker afkoel, asem skep en die terugtog aanpak via die Augrabies Nasionale Park. Die Kalahari River & Safari Co verhuur nie fietse nie, bring dus maar jou eie. Wenk: Bespreek sommer hiér verblyf dan hoef jy nie vir die doeninge op die perseel te betaal nie!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Brian Colloty (@pebikeguy) on

Waar: Kalahari River & Safari Co, 48,3 km vanaf Augrabies

Wanneer: Dagligure

Wie: 084 244 4408

Wat: Gratis | Dagbesoekers: Volwassene R60, Kind R30

Wynproe

As die avontuurlustige doendinge effens bo jou vuurmaakplek is, het ons die ideale oplossing: wynproe! Kom ontspan by Oranjerivier Wynkelders en teug aan hul gewilde wyne met ’n kenmerkende aroma en smaak, óf gaan loer in by Bezalel Wyn- en Brandewynlandgoed wat nie net gewild is vir hul wyne en brandewyn nie, maar ook vir hul heerlike dessertwyne. Doen jouself ’n guns en kom prikkel daai smaakkliere behoorlik!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Nadia Coetzee (@nadia_coetzee) on

Waar: Oranjerivier Wynkelders, 107,2 km vanaf Augrabies | Bezalel Wyn- en Brandewynlandgoed, 82,2 km vanaf Augrabies

Wanneer: Weeksdae om 09:00, 11:00 en 15:00 | Weeksdae om 09:00 tot 17:00 en Saterdae om 09:00 tot 13:30

Wie: 054 337-8800 |  054 491-1325

Wat: Prys op versoek

Warmlugballonvlugte

As jy op soek is na iets heeltemal anders, ’n geleentheid wat nie sommer gou weer oor jou pad sal kom nie, is ’n warmlugballonvlug ideaal. Verras jou wederhelfte met ’n romantiese sweeftog oor die Oranjerivier, wingerde en Augrabies-omgewing. Ontspan met ’n glasie sjampanje terwyl jy deur die wind weggevoer word en verkyk jou aan die asemrowende uitsig van bo.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Kalahari_U (@kalahari_urs) on

Waar: Augrabies Falls Backpackers, 2,5 km vanaf Augrabies

Wanneer: Vroegoggend

Wie: 079 888 9502 | 072 515 6079

Wat: Prys op versoek

Riviervlotvaart

Die Kalahari River & Safari Co bied 2 riviervlotvaart-geleenthede aan. Hulle bied ‘n halfdag-riviervlotvaartsessie wat ideaal is vir ‘n gesin of groep vriende sonder enige riviervlotvaart-ervaring en dit neem sowat 3 ure. Let wel: die watervlak styg in die somermaande. Die Nature Paddle-opsie is ideaal vir gesinne met jong kinders en sal sowat 1 uur neem. Wenk: onthou ’n baaikostuum, T-hemp, baaibroek, sonbril, hoed, sandale en sonbrandroom, sowel as ’n kamera om dié ervaring vas te vang.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by DC travel pics 🌍 (@dc_travel_pics) on

Waar: Kalahari River & Safari Co, 48,3 km vanaf Augrabies

Wanneer: Dagligure

Wie: 084 244 4408

Wat: Half Day R400 | Nature Paddle R200 | Middagete R65

Die Pienk Padstal

In Kakamas sal die Pienk Padstal jou aangenaam verras. Dié helder padstal verkoop alles van koeldrank en biltong tot droë vrugte en antiekware. Kom hou gerus hier stil, neem ’n kiekie en teug aan ietsie koud. Dit is ook die ideale plek om jou padkos aan te vul voordat julle die pad na al die bogenoemde lekker doendinge aandurf.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Löplöpçüler (@loplopculer) on

Waar: Kakamas se hoofstraat, 24,2 km vanaf Augrabies

Wanneer: vanaf 08:00 tot 17:00

Wie: 054 431 1457

Wat: Gratis

Of jy nou in die bui is vir ’n luilekker wynproesessie, ’n romantiese uitstappie om jou wederhelfte te beïndruk, of ’n ervaring waar jy jou lyf waaghals kan hou ─ Augrabies het ’n doending vir jóu! Loer sommer hier na ’n paar van ons top-verblyfopsies in die omgewing, vul die motor se tenk en sit voet in die hoek!

Hooffoto: “Quiver Tree Forest” deur Duncan Hull (Flickr)