Is jy moeg vir bedrywige kusdorpe? Lus vir ’n uitstappie na ’n Suid-Afrikaanse Griekeland? Maak dan seker jy loop nie ’n betowerende vakansie in Simonstad mis nie. Simonstad is die ideale vakansiebestemming waar jy jou skoene kan uitskop en sorgeloos kan ontspan. Dié dorp lê rustig aan Valsbaai en spog met die Suid-Afrikaanse Vloot, vriendelike mense en heerlike kos. LekkeSlaap het ’n naweek in Simonstad, waar elke dag soos ’n Sondag voel, deurgebring en vertel jou graag wat jy gaan misloop as jy nie binnekort ’n draai in dié vlootdorpie maak nie!

Koffie en ontbyt

Oggende in Simonstad is gevul met ’n koel briesie, die reuk van seewater en die klank van brekende branders ─ die perfekte weer om ’n koffietjie te drink en daarom het ons elke oggend die beste koffiewinkels probeer opspoor. Die Blue Door-koffiewinkel in Simonstad se nuwe Harbour Bay Mall het heerlike broodjies, muffins en natuurlik, koffie. Die vriendelike kelnerin kon nie uitgepraat raak oor die glutenvrye koekies en kaaskoek nie en die koffiewinkel se rustieke dekor het ’n nostalgiese gevoel, sommer so saam met die aroma van koffiebone, by ons laat draai. 

 

As jy nie lus is om na die groter winkelsentrum te gaan nie, is Think Coffee net daar in die hoofstraat gereed met ’n warm ontbyt en interessante dekor. Think Coffee gee werklik om oor die kliënt en jy voel sommer tuis met jou eerste teug aan hul koffie. Hier het ons lekker met Simonstad se inwoners gesels. Dié koffiewinkel gee gereeld terug aan die gemeenskap en is ’n gunsteling onder die plaaslike inwoners.

Middag- en aandete

Die restaurant, Bertha’s, is reg teen die strand en ruik soos witwyn, suurlemoenbotter en vars kreef. Buiten sakpas-seekosdisse kon ons ook ’n skemerkelkie geniet terwyl die plaaslike koor ons vermaak het. Hiér het ons laatmiddag rustig weggedryf die stilte in, nes die bote in die hawe. Ons het Bertha’s drie keer in twee dae besoek!

As jy ’n hondekind het kan jy gerus ’n draai by Salty Sea Dog maak. Dié ontspanne restaurant is reg teen die hawe en ’n hondjie lê onder elke tweede tafel. ’n Behoorlike mandjie vis en tjips en ’n uitsig oor die hawe word hiér verseker.

Staproetes

Simonstad is dalk die toonbeeld van rustigheid, maar daar is wel ’n paar staproetes wat avontuurlustige besoekers kan aanpak. Ná ’n paar dae waartydens ons ons knuppeldik aan Koerland se vleis geëet het, moes ons ’n bietjie bene rek.  

Op Willis Walk, die houtpaadjie by Bouldersstrand wat al langs die strand en deur die pikkewyne se broei-area kronkel, kon ons die pikkewyne van nader besigtig. Ons kon ook dié gratis paadjie gebruik om ’n ogie oor Bouldersstrand te gooi. Die staptog is maklik en geskik vir oud, jonk … en knuppeldik!

Ons is op ons eerste dag in Simonstad dadelik van Just Nuisance bewus gemaak. Dié brawe brak is die enigste hond in die geskiedenis wat by die Britse Koninklike Vloot aangesluit het en sy naam en standbeelde van hom is orals in die dorp te sien ─ dis mos my tipe plek! Sy graf is aan die Signal School Steps se bopunt en ons het aan dié woef hulde gaan betoon deur die meer as 300 trappies na bo te klim. As jy, soos ons, ’n bietjie wil sweet en die beste uitsig oor Simonstad kry, is dié trappies die klim werd. As jy egter roomys wil eet en ’n entjie wil stap, hou eerder verby!

Swemplek

Ons naweek by die see sou natuurlik nie volmaak wees sonder ’n dag langs die see nie. In Simonstad is daar strande te kies en te keur en ons het sommer almal besoek. By Bouldersstrand moes ons ’n fooi betaal om in te gaan omdat dit ’n bewarea is, maar die groot rotse, spierwit strand en hordes pikkewyne het dit die moeite werd gemaak.  

Ons het ook Kaappunt toe gery en ingery waarokal ons ’n paadjie see toe gesien het. Ons het omtrent ’n halfdosyn strandjies gesien. Ons het selfs gehoor daar is geheime strande in dié area, maar jy sal dit self moet gaan uitsnuffel.

Interessanthede

Simonstad herinner aan ’n Griekse dorpie met versteekte trappies wat die woonbuurte aan die hoofstraat verbind. Dié trappies is maklik om te klim en word deur naambordjies uitgeken. Dié bordjies maak dit makliker om in die dorp rond te loop, veral van Sunrise @ Solent se kant af, wat dit vir ons maklik gemaak het om die dorp te voet te verken.

Simonstad het ons behoorlik soos toeriste laat voel en ons het letterlik alles wat ons kon besoek. Die speelgoedmuseum wat verder af in die hoofstraat is, was een van die eerste plekke. Jy betaal slegs R10 om ure lank deur outydse speelgoed of die uitstalling met meer as 4000 karretjies vermaak te word. Die eienaar, Percy, het ons dadelik met ’n glimlag en ’n grappie gegroet.

Om die kinderbewondering in ons net nóg meer aan te wakker, het ons die Vlootmuseum besoek. Dis gratis en heeldag en al dag oop. Die opgewekte vloot-liedjies en die groot klok se tik, tik, tik het ons verwonderd gelaat. Die museum het indrukwekkende uitstallings, van die helikopter tot die massiewe kanonne. Die museum sal jonk en oud se asems wegslaan ─ ons snak nou nog!  

Avontuur

Simonstad mag dalk ’n slapende vakansieplek wees, maar as jy weet waar om te soek, het Simonstad ’n avontuur vir ’n ieder en ’n elk. Die hawe is waarheen ons gegaan het om al dié avontuurdoendinge te beleef. Of jy nou effens lui of pure perd is, staanroei is definitief een van die beste maniere om Valsbaai van nader te verken. So ook die kajakvaart-geleenthede in die hawe.

As jy ’n tawwe tienie is, kan jy haaihokduik in Simonstad aandurf. Lus om iets nuut baas te raak? Probeer waterfiersry. Ja, jy het reggelees ─ ’n waterfiets! Dit vat net een draaitjie op die jetty om jou avontuurlus aan te wakker en dan kan jy daarna ietsie te ete kry ─ alles sommer bymekaar.

Ideale blyplek

Ons kon Simonstad behoorlik verken omdat ons die ideale verblyf gehad het. Sunrise @ Solent was ons naweektuiste en ons kon nie vir beter vra nie. Die huis is ruim, verlig en ons het na elke besige dag gevoel asof ons by ons eie huis aankom waar ons kan rus, TV kyk en lekker bad.

Die huis is in ’n woonstelgebou wat jou dadelik laat veilig voel. Daar is ’n bergstaproete aan die agterkant van die huis en reg voor die huis in die straat kry jy die trappies wat na die dorp lei.

Indien jy moeg geduik, gestap of gekajakvaart is kan jy heerlik in die woonstel, wat volledig toegerus is, kosmaak. Ons het ’n heerlike pot spaghetti bolognese in die kombuis, wat ’n uitsig op die berg het, gemaak. Ons het in die sitkamer geëet wat weer ’n uitsig oor die hawe het. Wat meer wil jy hê?

Ná ete het ons luilekker op die bed gaan lê en oor die bote wat in en uit die hawe vaar getuur. Natuurlik was die sonsodergang en -opkoms ’n fantastiese gesig vanaf die hoofslaapkamer se groot vensters.   

Die tweede slaapkamer het ’n boekrak vol boeke en ’n kas vol speelgoed, as die kleingoed ook saam reis.

Ons het Simonstad met ’n swaar hart verlaat en beloof om geen ander kusdorp te besoek nie. Ons kan nie wag om weer na dié dorp, wat voorwaar in ’n ander tyd vasgevang is, te ontsnap nie.

Maak seker jou volgende naweekwegbreek is in Simonstad sodat jy nie dié dorpie se skatte misloop nie!

Baie dankie aan Sunrise @ Solent vir ’n heerlike naweek vol rus in Simonstad!

Alle foto’s deur Lisa Slippers tensy anders vermeld.