“… Sambrele, sambrele, ’n bloue, ’n gele, staan oral gepak op die strand. Dis grafies en emmers, die mooiste kastele, gebou op die spierwitte sand. Dis kinders wat skater en plas in die water, Pa lê so lui op sy rug. Desembervakansie, die son dans ’n dansie en lag in die helderblou lug …” ─ Elizabeth Fourie

Die langverwagte somervakansie waartydens duisende Suid-Afrikaners na die gewildste kusbestemmings stroom, is om die draai. Jy besef met ’n skok jy het nog nie jou gesin se vakansieverblyf bespreek nie en soek inderhaas op die internet, maar alles is volbespreek ─ hoe nou gemaak? Om jou uit dié penarie te red het LekkeSlaap ’n handjievol selfsorgvakansieplekke op die immergewilde Tuinroete opgespoor wat nog van 1 Desember 2018 tot 6 Januarie 2019 beskikbaar is ─ ideaal vir ’n seevakansie saam met diegene naaste aan jou hart!

Mosselbaai

Die toweragtige Tuinroete begin by die gewilde Mosselbaai. Dié kusdorp se matige klimaat lok vakansiegangers regoor die land, maar as jy nie vroegtydig Desemberverblyf bespreek nie, gaan dit ’n opdraende stryd wees om op die nippertjie ’n plekkie hiér te vind.

Trekpleisters

Bartolomeus Dias Skeepsmuseum | Kaap St. Blaize-vuurtoring | St. Blaize-voetslaanroete | Zorgfontein Wildplaas | Jakkalsvlei Privaat Kelder | Pinnacle Point Gholfklub

Ana’s Place Apartments

Dié lieflike selfsorg-eenhede is ideaal vir ’n kleinerige gesin wat vanjaar in Mosselbaai vakansie wil hou. Ana’s Place Apartments bied pragtige uitsigte oor die hawe en dis stapafstand vanaf restaurante, winkels en die see.

Beskikbaar: 2 selfsorg-eenhede
Slaapplek: 2 gaste per eenheid
Privaat geriewe: Volledige kombuis, TV met sekere DStv-kanale, lugversorging en gratis WiFi
Gemeenskaplike geriewe: Swembad en parkeerplek

The Beach Penthouse

Dié moderne selfsorgwoonstel is op The Beach Club se twaalfde verdieping in Diazstrand geleë en die balkon bied ’n ononderbroke see-uitsig. By The Beach Penthouse sal jy heerlik ontspan en ’n onvergeetlike strandvakansie saam met jou gesin kan deurbring.

Beskikbaar: Selfsorgwoonstel
Slaapplek: 8 gaste
Privaat geriewe: Volledige kombuis en TV
Gemeenskaplike geriewe: Geen

Sedgefield

Dis maklik om van Sedgefield te vergeet wanneer jy aan bestemmings op die Tuinroete dink. Maar as jy eers eenmaal in dié bekoorlike stranddorpie tussen George en Knysna was, sal jy beslis weer en weer wil terugkeer.

Trekpleisters

Wild Oats Gemeenskapsmark | Sedgefield Boetiekbierbrouery | Tripout Branderplankry-skool | Gerickespunt

Avemore at Sedgefield

As jy op soek is na ’n gesinsvakansiehuis op die Tuinroete, is Avemore at Sedgefield die antwoord. Hiér is selde verkeer en jy sal voorwaar die vrede kan voel terwyl jy op die balkon sit en die Outeniekwaberge en Swartvlei-strandmeer bewonder. Die huis is stapafstand van die strandmeer af en jy kan die dorpie te voet verken.

Beskikbaar: Selfsorghuis
Slaapplek: 14 gaste
Privaat geriewe: Volledige kombuis, kaggel, lapa, braaiplek en skadu-parkeerplek
Gemeenskaplike geriewe: Geen

Shearwater On Sea

Shearwater On Sea is ’n fees vir ’n gesinswegbreek en stapafstand vanaf Myolistrand ─ ’n gewilde sweefski-bestemming. Daar is ook ’n ski-skool in die omgewing wat beginners leer hoe om ’n vlieër te beheer en die wind te lees voor jy dié sport in die water aanpak. Buiten watersport kan jy in Sedgefield valskermsweef, bergfietsry en die Saterdag-markie besoek.

Beskikbaar: Ateljee- en gesinswoonstelle
Slaapplek: 4 gaste per ateljeewoonstel en 6 gaste per gesinswoonstel
Privaat geriewe: Volledige kombuis, TV met sekere DStv-kanale, DVD-speler en braaiplek
Gemeenskaplike geriewe: Restaurant en swembad

Knysna

Knysna is sinoniem met die Tuinroete en as jy hiér ’n draai kom maak, kan jy nie anders as om aan Kringe in ’n Bos te dink nie. Dié skilderagtige kusdorp sal jou beslis betower en wie weet, jy loop dalk Oupoot se spoor op ’n voetslaanpaadjie in die bos raak!

Trekpleisters

Tuinroete Nasionale Park | Knysna Olifantpark | Brenton-on-Sea | Featherbed Natuurreservaat | Ocean Odyssey-bootvaarte

Papillon Bleu

Papillon Bleu beskik oor luukse selfsorg-eenhede naby die wêreldbekende Knysna-koppe. Die omgewing bied ’n magdom doendinge, soos perdry, visvang, voëlkyk, wynproe, fietsry, wildritte, begeleide staptoere, bergfietsry, swem en tennis ─ hiér sal julle geen verveelde uur hê nie.

Beskikbaar: 4 selfsorg-eenhede
Slaapplek: 3 gaste per eenheid
Privaat geriewe: Volledige kombuis en TV met sekere DStv-kanale
Gemeenskaplike geriewe: Swembad, braaiplek en parkeerplek

Boardwalk on Thesen Islands

As jy jou gesin behoorlik wil bederf, bespreek Boardwalk on Thesen Islands. Dis teen die Thesen-eilande se promenade geleë en bied ’n ongelooflike uitsig oor die see en kanaal. Buiten al die strandpret is daar ook tientalle restaurante en winkels in die omgewing.

Beskikbaar: Selfsorghuis en ateljeewoonstel
Slaapplek: 6 gaste
Privaat geriewe: Volledige kombuis, wasgoedgeriewe, braaiplek en jetty
Gemeenskaplike geriewe: Geen

Paquita Villa

Paquita Villa is op een van die Knysna-koppe geleë en bied ’n luisterryke uitsig oor die strandmeer en omgewing. As julle van voëlkyk, hengel, voetslaan, kanovaar en swem hou, is Paquita Villa ’n bobaas-bestemming.

Beskikbaar: Selfsorg-villa
Slaapplek: 6 gaste
Privaat geriewe: Volledige kombuis, TV met DStv en braaiplek
Gemeenskaplike geriewe: Geen

Beach Villa

Die moderne Beach Villa skuil teen die strand op die Thesen-eilande ─ ’n ontwikkeling wat uit 19 mensgemaakte eilande bestaan en deur geboë brûe met mekaar verbind word. Dis ’n asemrowende area om te verken en jy kan van hier af tot by die Knysna Waterfront en seiljaghawe stap.

Beskikbaar: Selfsorg-villa
Slaapplek: 6 gaste
Privaat geriewe: Volledige kombuis, platskerm-TV, kaggel, braaiplek en jetty
Gemeenskaplike geriewe: Geen

Plettenbergbaai

Om in Plet se warmer water rond te plas is sommer vet pret en as jy wil leer branderplankry, kan jy selfs die dieper water trotseer. Dis definitief die moeite werd om jou vakansiewiele tot in Plettenbergbaai te laat draai!

Trekpleisters

Robberg Natuurreservaat | Birds of Eden | Plet Legkaartpark | Bramon Wynlandgoed | Monkeyland

Packwood Wine & Country Estate

Packwood Wine & Country Estate is ongeveer 20 kilometer buite Plettenbergbaai geleë. As jy lief is vir voetslaan, wynproe of bergfietsry, is dié bekroonde wynplaas jou droombestemming. Julle kan ook aan kaas wat op die plaas gemaak word smul, visvang en vierwielmotorfietsry.

Beskikbaar: Hoofhuis en kothuis
Slaapplek: 6 gaste in die hoofhuis en 2 gaste in die kothuis
Privaat geriewe: Volledige kombuis en braaiplek
Gemeenskaplike geriewe: Swembad, wynkelder en parkeerplek

Stormsrivier

Al eindig die Tuinroete by Stormsrivier, is die doendinge in dié omgewing legio ─ van verskeie strandjies en die Tsitsikamma-woud, tot die wêreldberoemde reksprongbrug!

Trekpleisters

Bloukrans-reksprong | Tsitsikamma Boomtoptoere | Tsitsikamma Nasionale Park | Nahoonstrand

Tsitsikamma Cottages

Tsitsikamma Cottages is in die Witelsbos-area versteek en geskik vir ’n welverdiende gesinsvakansie. Hiér kan die jongspan sielsgelukkig op die klimraam klouter terwyl Ma en Pa salig met ’n glasie wyn ontspan.

Beskikbaar: Selfsorgkothuise
Slaapplek: 4 gaste per kothuis
Privaat geriewe: Volledige kombuis en braaiplek
Gemeenskaplike geriewe: Swembad, plaasdam met kano’s, pooltafel, tafeltennis, pluimbalbaan, trampolien en klimraam

Ander dorpe op die Tuinroete

Hartenbos | Danabaai | Klein-Brakrivier | Groot-Brakrivier | George | Wildernis | Victoriabaai | Nature’s Valley | Keurboomstrand

Van Mosselbaai tot Stormsrivier ─ die Tuinroete se strande is van die mooiste ter wêreld en dis g’n wonder dié kusstreek is jaarliks stampvol nie. As jy nog nie jou Desemberwegbreek bespreek het nie en nie vanjaar met Jan Tuisbly se karretjie wil ry nie, sal jy gou moet spring vóór die laaste blyplek opgeraap word!

*Dié blyplekke is nog beskikbaar ten tyde van hierdie blog se publikasie. As jou gunstelingplek egter nie meer die komende somer beskikbaar is nie, bespreek sommer nóú al vir volgende jaar en voorkom teleurstelling.

Hooffoto: Brenton on Sea Cottages (LekkeSlaap-instansiefoto)