Wonderskone wingerde wat oor Simondium se dale tot teenaan die Simonsberghange strek, welige grasperke met pragtige voetpaaie wat tussen die historiese Kaap-Hollandse geboue kronkel, en die reuk van varsgebakte brood en sterk koffie wat die oggendlug vul ─ dié salige kombinasie sal jy net by Vrede en Lust kry! LekkeSlaap het by dié wêreldbekende wynlandgoed gaan inloer, so skuif ’n bietjie nader, want ons het baie om jou te vertel …

Die Storie van Vrede en Lust

Vrede en Lust se ryk geskiedenis begin in 1688 toe dié plaas deur die destydse Kaap de Goede Hoop se goewerneur aan die Vlaamse handelaar, Jacques de Savoye, toegeken is. Dis moeilik om te glo dat dié asemrowende landgoed destyds ’n ru en dig beboste stukkie aarde was waarop slegs wild, leeus, luiperds en enkele mense gewoon het. 23 Hollandse vryburgers en ’n handjievol Khoi-mense het op daardie stadium in eenvoudige klei- en riethuisies op die plaas gewoon. In April 1694 word Vrede en Lust se oorspronklike transportakte uitgereik, waarvolgens De Savoye die regte bekom het om hierdie grond te ploeg, saai en te bewerk. De Savoye noem die plaas ‘Vrede en Lust’, met die doel om hiér sy laaste dae in ’n plattelandse paradys deur te bring.

Sedertdien het Vrede en Lust ’n aantal eienaars gehad insluitend Willem van Zyl, ’n suksesvolle en gesiene boer in die Drakenstein-gemeenskap, asook die De Villiers-broers wat saam met die Franse Hugenote ’n tuiste in Franschhoek kom skep het. In 1996 word die Buys-familie Vrede en Lust se sewentiende eienaars. Dié gebeurtenis het ’n splinternuwe era van uitsonderlike wynkunde vir dié landgoed laat aanbreek. Dana Buys, ’n dinamiese sakeman, het dié landgoed uitgebrei tot die wêreldklas-wynprodusent wat dit vandag is. Hy het nie net die wynkunde op die plaas vernuwe nie, maar het ook ’n groot opknappingsprojek van stapel gestuur om die ou geboue op die plaas tot hulle oorspronklike eer te herstel, en terselfdertyd ’n moderne elegansie by te voeg. Die plaas se argitektuur word deesdae as die hoeksteen van die Kaapse Wynlande beskou en is ook ’n gesogte troubestemming.

In 1998 vorm Dana en sy jonger broer, Ettiene, ’n vennootskap om Vrede en Lust in ’n moderne wynlandgoed te omskep en sodoende die wyntoerisme opnuut te betree. Vandag spog Vrede en Lust met 100 hektaar-wingerd, ’n 750 ton-wynkelder en ’n proelokaal wat omtrent uit sy nate bars weens plaaslike én internasionale besoekers. Vrede en Lust is voorwaar die toonbeeld van klassieke Suid-Afrikaanse wynkunde met ’n tikkie moderniteit!

In vino veritas

Deursettingsvermoë, geduld, passie en ’n liefde vir mense ─ dís die vier bestanddele wat volgens Karin Nel, wynmaker by Vrede en Lust, die wenresep is vir die uitstekende wyn wat jaarliks by Vrede en Lust geproduseer word. Vrede en Lust het ’n verskeidenheid wit- en rooiwyne, asook ’n rosé en ’n prosecco. Daar is beslis geure vir elke smaak en voorkeur. In die proelokaal kan jy ’n heerlike wynproe gepaard met Lindt-sjokolade geniet. Elke sjokolade het ’n perfekte wynpasmaat om die beste smaak en geur uit elke glas te put. Jy kan ook ’n smullekker kaasbord en varsgebakte brood saam met jou wynproe geniet.

Vrede en Lust beloof ’n onvergeetlike dag as jy hiér voor die kansel kom staan!

A post shared by i do box (@idobox) on

Vrede en Lust is een van die mees gesogte troubestemmings in die Kaapse Wynlande. ’n Gawe groep troubeplanners span kragte saam om jou spesiale dag ’n ervaring te maak wat jy nimmer sal vergeet. As jy by Vrede en Lust jou groot dag wil vier, kan jy die volgende verwag:

  • ’n Prentjiemooi bestemming met Kaap-Hollandse argitektuur en welige wingerd.
  • ’n Troulokaal omring deur ’n glasmuur ingeval die wind en weer sy kop uitsteek.
  • Drankies wat vooraf in die grasgroen tuin bedien word en ’n pragtige seremonie.
  • Sitplek vir 120 gaste met ’n dansvloer binne, of plek vir 150 gaste met ’n dansvloer buite.
  • Verblyf vir 40 gaste op die landgoed, stapafstand van die troulokaal af.
  • Eksklusiewe gebruik van die plaas se troulokaal en verblyf vir die bruidspaar en hulle gaste gedurende hulle verblyf.
  • Kos uit die boonste rakke deur Lust Bistro & Bakery se eie sjef, Jean Pierre Smith, voorberei.

Lust Bistro & Bakery

Vrede en Lust se restaurant, Lust Bistro & Bakery, het onlangs ’n nuwe baadjie gekry. Die pragtige houtpanele, warm roomkleurige mure en smeulende kaggel laat ’n ieder en ’n elk sommer met die intrapslag tuis voel en die reuk van varsgebakte brood en koek sal jou beslis meevoer. Jean Pierre Smith, die meesterbrein agter dié bistro, meen goeie kos het net drie bestanddele: eenvoud, vars produkte en geen pretensies. Al klink dit eenvoudig, bly dié kombinasie ’n wenner wat ’n breë glimlag op elke klant se gesig laat.

Die bistro is daagliks oop vir ontbyt en middagete, en bied ietsie vir elke smaak. Van kraakvars slaaie, varsgebakte koeke en brode, tot fynproewersdisse ─ as jy eers eenkeer by Lust Bistro & Bakery aangeklop het, sal jy elke keer terugkom vir nog ’n happie!

Knip ’n uiltjie tussen die wonderskone wingerd

Om by Vrede en Lust te oornag kan eenvoudig as ’n heerlike en unieke ervaring beskryf word. Vrede en Lust bied verblyf vir troues, konferensies en ’n kort wegbreek, en jy kan hiér in die ongereptheid van ’n 300 jaar oue wynlandgoed uitspan sonder om enige moderne gerief te ontsien!

Die Herehuis

Die Herehuis se fondasie is in 1688 deur Vrede en Lust se eerste eienaar, Jacques de Savoye, gelê. Dié 300 jaar oue huis het in die laatnegentiende eeu brandskade opgedoen en is in die 1920’s deur Norman Beroldt gerestoureer. ’n Nag in hierdie historiese huis bied luukse ontspanning soos min! Die huis het slaapplek vir 10 gaste en elke kamer bied ’n panoramiese uitsig. Die geelhoutvloer, vyf meter hoë geelhoutplafon, ruim kamers en tradisionele plaaskombuis, skep ’n warm, ouwêreldse atmosfeer met al die nodige geriewe om luukse akkommodasie te verseker. In dié Herehuis word elke stadsmuis ’n edelman!

Jonkmans-kothuise

 

Vrede en Lust bied luukse verblyf in drie tweeslaapkamer-suites wat saam deel van die historiese Jonkmanshuis vorm. Dié drie kothuise, Marguerite, Barbère en Jacques, is na Jacques de Savoye se kinders vernoem, en is tussen die nuwe wynmakery en die Herehuis geleë. Elke kothuis het twee en suite-slaapkamers en ’n leefarea met ’n vuurherd. Verblyf in dié kothuise sluit ontbyt en toegang tot die tuin en swembad in. ’n Nag in een van dié lieflike huisies is al wat jy nodig het om behoorlik te ontspan en die Kaapse Wynlande se natuurskoon met moderne gerief te geniet.

Luukse Wingerdkamers

Vrede en Lust bied moderne verblyf in 10 Luukse Wingerdkamers met asemrowende uitsigte oor die plaas se pragtige wingerd en op Simonsberg. Dié kamers het ’n moderne interieur en is toegerus met alle nodige geriewe.

Die Luukse Wingerdkamers is veral gepas vir sakereisigers, aangesien dit by Vrede en Lust se konferensiegeriewe geleë is. As jy ’n goeie nagrus met moderne geriewe in die wynlande se stilte wil geniet, is dié kamers net die plek vir jou!

“Die wynstok groei waar vreugde woon, in songeseënde lande. Geen skoner oord, geen beter wyn as ou Franschhoek en Drakenstein.” (A.G. Visser, 1981)

As jy so na die wonderskone Vrede en Lust kyk, word dié ou woorde opnuut weer waar.

Hooffoto: LekkeSlaap