Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Gauteng

+23

Beskrywing

Gauteng het 'n lewendige en elektriese energie, en wanneer die hoëveld toegetrek word deur die donker wolkkombers en die weerligstrale soos krake deur die wolke breek, dán voel jy dié energie tot in jou binneste. 'n Mens ruik Gauteng se geur in die somerreën en in die winter verander die groen hoëveld in 'n vaal grasveld. Jy ervaar die provinsie se ambisie in die druk oggendverkeer, in die goue Gautrein en in die wolkekrabbers wat weekliks uit die aarde opskiet. Energie pols in die tasbare passie in Loftus Versveld op 'n rugbydag en dit sweef deur die pers strate van Pretoria wanneer die hóófstad verander in die Jakarandastad. Maar die energie stop nie daar nie ? die paradys van beton en swart riviere strek suidwes na Johannesburg waar die energie sy tuiste vind in die Stad van Goud. Kom besoek die middelpunt van SA se ekonomie en hoor sy verhaal. 'n Storie van goud, bloed en sweet. Gauteng is die hart van Suid-Afrika ? kom voel sy polsslag.

Gauteng se naam is afkomstig van die Sotho-benaming vir “plek van goud”, maar ook vanweë die Nederlandse uitspraak van “goud.” Soos die naam aandui, het Gauteng ontwikkel en ontstaan weens die ontdekking van die Witwatersrand-goudrif in 1886. Gevolglik was daar enorme bevolkingsgroei in die provinsie waartydens duisende mense na Gauteng getrek het weens die myne, en vandag vind hierdie migrasie steeds plaas vanweë die besighede en geleenthede. Gauteng is geografies die kleinste provinsie in Suid-Afrika, maar het die grootste bevolking in die land. Johannesburg is die grootste stad ter wêreld wat nie langs 'n rivier, dam of kuslyn geleë is nie, en Pretoria is die administratiewe hoofstad van Suid-Afrika wat bekend staan as die “Jakarandastad” weens die pragtige pers bloeisels wat in die lente al langs die strate pronk. Ander groot dorpe in die provinsie sluit Vereeniging, Soweto, Benoni en Krugersdorp in.

Gautengers het 'n reputasie as hardwerkende mense, maar hulle weet wel hoe om pret te hê! Die provinsie bied bekoring en vermaak in oormaat. Avontuurlustiges kan 'n draai gaan maak by Gold Reef City in Johannesburg. Hierdie pretpark het 'n historiese ondertoon – die park is gebou op 'n ou goudmyn. Die parkwerkers dra kostuums uit die 1880's en die geboue is ontwerp om by dié era te pas. Besoekers kry 'n blik op die goudstormloop, met 'n adrenalien-gevulde kinkel en 'n tuimeltrein. Ry op die Anaconda, een van Afrika se vinnigste en hoogste tuimeltreine. Montecasino in Sandton is ook 'n opwindende bestemming, veral vir diegene wat verkies dat hulle voete op vaste bly. Montecasino is ontwerp om 'n nabootsing te wees van 'n antieke Toskaanse dorpie. Hier kan vakansiegangers die land se grootste teater besoek, in een van die talle restaurante eet, of 'n kans waag by die kasino.

Gauteng bied ongeag sy wolkekrabbers en uitbreidings ook iets vir natuurliefhebbers. Tussen Johannesburg en Pretoria is die Rietvlei-natuurreservaat. Hier kan jy werklik wegbreek van die stadslewe. Ongeveer 300 verskille voëlspesies asook sebras, renosters, springbokke, elande en seekoeie kan hier aangetref word. Bring 'n kampstoel en piekniekmandjie en bestee die hele dag langs die rivier. Anders kan jy Hartbeespoortdam, ook bekend as Harties, besoek vir 'n avontuurlustige naweek-wegbreek. Gaan loer gerus na LekkeSlaap se verskeidenheid gastehuise en selfsorg-eenhede langs dié geliefde dam. Harties is 'n gewilde bestemming vir watersport-entoesiaste, en oor naweke is die dam vol bote. Alternatiewe opsies is Pretoria se dieretuin met sy kabelkarretjie, Johannesburg se dieretuin of die leeupark duskant Lanseria-lughawe. Laasgenoemde is selfs al deur die Spaanse sangeres, Shakira, besoek!

Bring tekkies saam wanneer jy Gauteng besoek en geniet een van die talle staproetes. Die Suikerbosrand-staproete in Heidelberg bied aan stappers 'n besonderse geleentheid om naby aan wild te kom. Die staproete kan 6 dae lank duur, maar daar is 'n 4 km roete vir dié wat geskrik het toe hulle dié sin begin lees het. Krugersdorp het ook staproetes in Suikerbos. Een van dié roetes is ongeveer 8 km lank, en die klipperige terrein spog met pragtige proteas. Beginners, families met jong kinders en senior burgers sal die staproete by Windy Brow-natuurreservaat waardeer. Die wildreservaat is geleë duskant Pretoria, naby aan die terrein waar die Cullinan-diamant ontdek was. Voetslaners kan op die reservaat se netwerk van staproetes meer as 14 wildspesies besigtig. Elkeen van die voetslaanpaaie gaan deur verskillende habitatsones, wat beteken dat jy van kameelperde tot die Cullinan-myn kan besigtig. Indien jy jou tekkies gerieflik by die huis vergeet het, kan jy steeds Pretoria se prentjiemooi botaniese tuin besoek.

LekkeSlaap het 'n wye verskeidenheid akkommodasie in Gauteng. Van hotelle vir 'n sakereis, gastehuise vir 'n pamperlang-aand tot gholfoorde vir 'n luilekker naweek - dis lekke om te lewe hier in Gautengaleng! Beleef Johannesburg se wolkekrabbers, Pretoria se Jakarandastrate, die Voortrekkermonument se uitsig en Soweto se kroegies. Ontdek die reuk van 'n donderstorm en die energie van 'n stad. Gauteng se stof skud mens moeilik van jou voete af. Reis na die hart van Suid-Afrika.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Gauteng te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Gauteng te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.