Wanneer laas het jy reën en ’n donderstorm in die Karoo beleef? Die water vorm strome op die droë grondpaaie, die donker wolke beweeg voor die son in en sak onverwags op ons neer, die blits verhelder die horison en ’n mens kan sommer sien die bossies is dankbaar vir die water wat hulle dors kom les. Ek was so ’n tydjie terug bevoorreg genoeg om ’n onvergeetlike naweek by Desert Wind Private Guest and Game Farm tussen De Doorns en Montagu deur te bring en hierdie ongelooflike natuurverskynsels, warm gasvryheid en luukse verblyf te ervaar. 

’n Onvergeetlike sonsondergang op die plaas. Foto: Daniëlle Terblanche

Dié wildsplaas is sowat 48 kilometer vanaf Montagu op die grondpad na De Doorns en bied omtrent ’n oase in die dorre Klein-Karoo. Daar is verskeie eenhede om van te kies. Hulle maak voorsiening vir ’n groep van tien in Gemsbok, kleiner groepe van vier in Eland en Die Kliphuis en vir paartjies in Zebra en Springbok. Al die eenhede is gerieflik toegerus vir selfsorg en spog met braaigeriewe. Indien julle ’n groot groep is, of net lus is vir iets anders, is daar ’n boma langs die kloof én langs die stalle waar julle ’n vleisie oor die kole kan gooi en lekker saamkuier. Draagbare houtvuurwarmbaddens is beskikbaar vir die eenhede wat nie hul eie houtvuurwarmbaddens het nie, en dis die ideale plek om te sit en die uitsig te bewonder. Gedurende die somer bied die houtvuurwarmbaddens ook ’n lafenis teen die onuithoudbare hitte van die Klein-Karoo

Gemsbok

Gemsbok spog met ‘n lieflike tuin en sy eie houtvuurwarmbad. Foto: LekkeSlaap

Gemsbok, die grootste eenheid, kan saam met Eland vir veertien gaste bespreek word. Daar is ’n tussendeur tussen die twee eenhede en dis ideaal vir gesinne wat saam wil wegbreek of ’n groep vriende. Daar is oorgenoeg spasie vir almal en selfs ’n onderdakstoep met ’n etenstafel en braaigeriewe. Die huis het ook ’n binnebraai vir wanneer die weer nie so lekker saamspeel nie. Die eenheid het sy eie houtvuurwarmbad in die tuin en bied ’n pragtige uitsig oor die plaas en op die berge. 

’n Gesellige binnebraai en een van die groot slaapkamers. Foto’s: LekkeSlaap

Die Kliphuis

Dié unieke huis is uit klip gebou. Foto: LekkeSlaap

Die Kliphuis is ’n unieke eenheid in die kloof wat teenaan die berg gebou is en heeltemal afgeleë is. Die huis bied slaapplek aan vier gaste en is geskik vir ’n gesin wat lief is vir die natuur en op soek is na iets anders. Die huis se stoep front na die kloof en het sy eie houtvuurwarmbad en braaigeriewe met ’n pragtige uitsig. Daar is binnebraaigeriewe wat ook as ’n kaggel kan dien vir ’n knus atmosfeer in die winter. Die badkamer is enig in sy soort, omdat daar dele van die rots agter die ovaalbad te sien is. Jy kan behoorlik in die bad, wat voel asof dit buite staan, ontspan en van al jou sorge vergeet!

Die gemaklike bed is verhewe en die rots is in die badkamer te sien. Foto’s: LekkeSlaap

Springbok en Zebra

Die Zebra-eenheid met die boma langsaan. Foto: Daniëlle Terblanche

Ons het baie lekker in Springbok en Zebra gebly en dié luukse eenhede is langs mekaar geleë. Hulle is ideaal vir vriende wat apart wil bly of paartjies wat op soek is na ’n romantiese wegbreekplek op die plaas. Elke eenheid het ’n gemaklike koninggrootte-bed, ’n toegeruste kombuisie, ’n badkamer met ’n stort, ’n lekker groot onderdakstoep met ’n etenstafel en draagbare braaigeriewe wat ons sommer op die gras parkeer het sodat ons die wit springbokke in die veld kon dophou. Saans beweeg daar talle diertjies in die veld rond en ons het vir ure buite gesit en na die naggeluide geluister terwyl ’n donderstorm op die horison gebroei het. By hierdie eenhede kan julle ’n draagbare houtvuurwarmbad versoek wat voor die eenheid neergesit word. Daar is afskortings tussen die eenhede vir meer privaatheid, so julle hoef nie oor julle bure bekommerd te wees nie. Julle is ook welkom om by die groot boma langsaan te braai en die meeste van die buitelug te maak. 

’n Gemaklike bed en goed toegeruste kombuisie in die eenheid. Foto’s: LekkeSlaap

Desert Wind Private Guest and Game Farm is die tuiste van ’n verskeidenheid boksoorte, insluitend wit- en swartspringbokke, waarna julle kan gaan kyk as julle een van die veldroetes volg. Indien julle nie ’n voertuig met hoë grondvryhoogte het nie, kan die vriendelike gashere julle op een van die plaas se voertuie die veld in vat. Ons het ’n paar versnaperinge ingepak en ’n lieflike oggend in die veld deurgebring. Julle kan ook die plaas te voet of per fiets verken en sodoende al die plantspesies van nader bekyk. 

’n Paar verrassings wanneer jy in die veld gaan ry. Foto’s: LekkeSlaap

Daar is ’n winkeltjie op die perseel wat noodsaaklikhede soos ys, hout, lekkers, koeldranke en basiese benodighede wat julle dalk vergeet het, verkoop. Hou net in gedagte dat julle slegs met kontant kan betaal. 

Hetsy jy op soek is na ’n wegbreekplek vir jou en die spesiale mens in jou lewe, jou gesin of jou vriendekring, Desert Wind Private Guest and Game Farm is net die plek vir julle! Kom geniet ’n lieflike naweek in die mooie Klein-Karoo en ervaar die natuurskoon en gasvryheid! 

Die lieflike boma en uitsig oor die plaas. Foto’s: Daniëlle Terblanche

’n Spesiale dankie aan Alicia wat ons genooi het en seker gemaak het dat ons ’n fantastiese naweek het. 

Hooffoto: Daniëlle Terblanche