By LekkeSlaap weet ons daar is min dinge waaroor Suid-Afrikaners so passievol is soos braai. Braai is ’n bietjie soos politiek en geloof – elkeen doen dit anders en ’n mens soek moeilikheid as jy vir ’n ander ou probeer voorskryf hoe om dit te doen.

Van die vroegste bewyse van oermense wat kos oor die kole voorberei, is nét hier in onse Suid-Afrika, onder andere in die Sterkfonteingrotte, gevind. Dit is dus uiters gepas om Erfenisdag op hierdie wyse te vier, want Suid-Afrikaners braai al van toeka se tyd af! Ons is nie net die beste braaiers in die wêreld nie, ons het die hele ding begin.

Kyk net hoe lekke braai 'n mens by InniKloof in die Oos-Kaap!

Hier is ons 5 goue reëls vir prima braai:

1. Moenie die vuur aansteek voor jou gaste opdaag nie, dis deel van die ervaring om te sien hoe die vlammelig op die geselskap se gesigte dans en die kole mettertyd begin gloei.

Die vuurtjie knetter al te gesellig by Rhino River Lodge in KwaZulu-Natal.

2. Die Suid-Afrikaanse manier van braai is juis spesiaal, omdat ons dikwels regte hout gebruik. Maak dus seker jy braai met ordentlike hout, nie nat hout wat maak dat gaste eers na elfuur kos kry nie. Raak sommer ontslae van ’n paar indringerbome (Port Jackson, swartwattel en bloekomhout braai lekker!) en slaan só twee vlieë met een klap.

3. Koop ordentlike vleis. Die braaivleisvuur is ’n wonderlike ding, maar dit gaan nie jou minute steak in ’n sirloin verander nie. (So terloops, het jy geweet die suiwer Afrikaans vir ’n sirloin steak is ’n lendeskyf?)

Die jongspan maak lekke stokbrood by Madi a Thavha Mountain Lodge in Limpopo.

4. Moenie die waarde van bykosse onderskat nie. Braaibroodjies, pap, sous en slaai is net so ’n kuns soos om vleis te braai. Vinkel is niks sonder sy koljander – en net so is ’n braai maar saai sonder ’n lekker slaai.

5. Die belangrikste reël van braai is om nie ’n skouervlieg te wees nie. Hou jou braai-wyshede vir jouself. Almal doen dit anders, so tensy jy marakkas wil maak – moenie vir die braaier sê hoe hy moet braai nie!

Dís mos hoe 'n vuur moet brand! Dié mense kuier by Bonamanzi Game Reserve in KwaZulu-Natal.

Braai gaan dikwels oor meer as net die vleis. Dis sommer ’n verskoning om jou nuwe kollega, of die mense wat langsaan ingetrek het, beter te leer ken. Dit is Suid-Afrikaners se geboortereg om te sê hulle kan braai, en meeste van ons kan. Sodra jy jou posisie agter die kole inneem, weet jy presies hóé, so wys jou vleis hierdie Braaidag!

Het jy ’n paar beproefde en betroubare braai-wenke wat jy brand om met ons te deel?