Toe Ocean View Hotel se eienaar, Russel, die LekkeSlaap-span nooi om Koffiebaai aan die Wildekus te kom beleef, het ek nie teruggestaan nie ─ dit het net té belowend en opwindend geklink om mis te loop! 

Ek en Adriëtte het gaan ondersoek instel om te sien wat daar als is om in Koffiebaai te doen en wat presies dit is wat die Wildekus wild maak. Ons het vier aande by Ocean View Hotel gekuier waar hulle ons omtrént bederf het, en die langpad daarheen was beslis die moeite werd!

Ek het baie min van die Oos-Kaap geweet en nog minder van die Wildekus, en daarom het ek ook geen verwagtinge gehad nie. Nodeloos om te sê, ek was stomgeslaan deur die asemrowende, ongerepte natuurskoon. Op pad na die hotel ry ons deur golwende groen heuwels en ek dink by myself: “Dis mos hoe Ierland ook lyk”. Ek wou nog altyd soontoe gaan en hiér lê die soortgelyke groenigheid van die Wildekus sommer in ons agterplaas.

Die beeldskone pad na Koffiebaai.
Foto: Adriëtte

Dit stortreën toe ons tienuur die aand uiteindelik by Ocean View Hotel stilhou. Die kombuispersoneel staan spesiaal vir ons en wag en elkeen groet ons baie vriendelik met ’n ingewikkelde handdruk. Omdat Russel, die eienaar, reeds op die pad ons aandete-bestelling vir die hotel aangestuur het, kon ons byna onmiddellik vir ete aansit. Ek smul aan ’n enorme bord garnale en skyfies, en Adriëtte aan ’n biefstuk, gebakte eier en skyfies. Teen dié tyd is dit al lekker laat en ons vind ons weg na ons kamers. Dit is ’n heerlike ruim suite met ’n koninggrootte-bed, ’n enkelbed en ’n en suite-badkamer met ’n stort. Elke kamer het ook ’n TV met sekere DStv-kanale, ’n yskassie, tee- en koffiemaakgeriewe, vars water, kasruimte en ’n kluisie. Die hotel verskaf ook handdoeke en jy kan vir jou ’n lekker groot strandhanddoek by ontvangs gaan haal. 

Die pragtige kamers van Ocean View Hotel.
Foto: LekkeSlaap

Die reën, wind en branders wat op die strand breek sus my aan die slaap. Ek word vroeg wakker ─ uiters nuuskierig om te sien hoe die wêreld lyk. Ek gaan sit sommer met pajamas en al op my stoep en staar met verwondering na die see net so 100 meter verder en gewaar ook ’n neushoringvoël. Ek is mal oor die ontspanne kaalvoet-atmosfeer van die instansie ─ soos ’n lieflike strand-lodge.

Die sonsopkoms van my stoep af.
Foto: Adriëtte

By die ontbytbuffet begin my mond onmiddellik water toe ek die spek voor my sien. Daar is ’n hele toonbank vol graanvlokkies, muesli en jogurt, en op die ander toonbank is daar gebraaide tamaties, varkworsies, lewer met ’n degie om, spek, varsgebakte brood, roereiers en jy kan selfs vir ’n varsgebakte eier vra. Ek en Adriëtte gaan sit buite op die dek en kyk oor die swembad uit. Die reën het ongelukkig ’n paar van ons beplande aktiwiteite in die wiele gery, maar Russel bied aan om ’n ent met ons te gaan ry. Die kleurvolle grasdakhutjies steek plek-plek hulle koppe tussen die “lullies”, soos die inwoners na die grasheuwels verwys, uit en ons moet kort-kort stilhou vir die “Transkei-robbotte”. Dít is nou Nguni’s, bokke, skape, swart varkies en ganse wat glo die pad behoort aan hulle. Die meeste van die tyd moet jy maar links en regs swenk, en jy kan maar vergeet van jou toeter blaas ─ dié outjies gee nie sommer pad nie.

Ons uitstappie deur die lullies.
Foto: Adriëtte

By die hotel besluit ons om die instansie te verken. Net agter die eetsaal is daar ’n sitarea met ’n bibliotekie wat eintlik maar net ’n boekrak is en langsaan ’n speelarea vir kinders waar die hele muur ’n groot swartbord is. Ons loop vir Arnold, die kombuisbestuurder, raak en hy vertel ons meer van die kamers, onder andere dat daar nie ’n Kamer 13 is nie, want hulle glo dit is ’n baie ongelukkige getal. Buite is daar ’n speelarea met ’n klimraam, glyplank, swaaie en ’n trampolien. Gaste kan ook luilekker sit en kuier by die piekniektafels langs die speelarea of by die vuurput, of op die sonstoele langs die swembad sonbaai. Die Beach Bar spog met ’n pooltafel en ’n TV waar jy gerus kan inloer om jou gunstelingsport dop te hou. Jou ontbyt en aandete is ingesluit wanneer jy by Ocean View Hotel kuier. Die meeste maaltye is ’n buffet en sluit ’n groot verskeidenheid in sodat daar iets is waarvan almal sal hou. Vir middagete kan jy ook by die  restaurant gaan inloer en ’n smullekker maaltyd op die a la carte-spyskaart bestel.

’n Speelplekkie wat jou kinders vir ure kan besig hou.
Foto: Adriëtte en Johmine

Kort ná middagete word ek en Adriëtte met ’n ontspannende massering bederf. Gaan doen gerus navraag by ontvangs oor die beskikbare spa-behandelings en maak vir jou ’n afspraak by die Sea Shells Spa. Die rustige atmosfeer en Sarah se helende hande sal jou beslis laat ontspan.

Daar is min dinge so lekker soos ’n massering.
Foto: Johmine en Adriëtte

Ons gaan slaap maar vroeg, want môre durf ons die lang pad na Hole in the Wall aan. Die volgende oggend hap ons vinnig iets vir energie en ontmoet vir Nhaza, die toergids, en sy tweejarige seuntjie, Max, op die dek buite die eetsaal. Die bestuurder en sy vrou, Louis en Natalie, besluit ook om saam te gaan en kort daarna is ons sommer ’n lekker groepie van agt ─ of nege as jy Milo die hond ook tel. Ons word kort-kort gevra of ons seker is ons wil die tog aandurf, want ons kan soontoe ry ook, maar ons druk deur. Kort voor lank moet ons deur ’n stroompie sukkel en ons besluit om ons tekkies eerder uit te trek. Die tekkies is amper heeltemal onnodig, aangesien ’n mens lang ente oor grasheuwels of op die strand stap. ’n Paar gemaklike skoene wat maklik aan- en uitgetrek kan word sal beter wees, net vir wanneer ’n mens oor rotse en groot klippe moet klouter. Ons asem word kort-kort weggeslaan deur die pragtige uitsigte ─ en natuurlik die steil heuwels wat ons omtrent moet uit kruip. Ons stop gereeld om die wêreld om ons te bewonder, van rotse met watervalle, goue sampioene, pienk-pers seewiere en klein miskruiers, tot interessante plantegroei en selfs ’n vlei in die middel van die veld. Ons is ook heeltemal verras om die Baby Hole in the Wall te sien. 

Om elke hoek en draai van die staptog was daar iets besonders.
Foto: Adriëtte
Heel links was ‘n oerwoud van kaktusagtige bome en regs is die Baby Hole in the Wall.
Foto: Adriëtte en Louis

Die laaste paar kilometer raak moeilik, want alhoewel die einde in sig is, is daar nog ’n hele entjie om te gaan en die son bak geweldig warm op ons moeë lywe. Langs Hole in the Wall staan twee groot rotsformasies wat hulle The Boiling Pot noem, omdat die water vreeslik maal en kolk wanneer dit hoogwater is, amper soos ’n borrelende pot. Gelukkig is dit laagwater toe ons uiteindelik daar aankom en ons stap sommer tot by die gaping. Uiteindelik staan ek en Adriëtte glimlaggend reg vir ’n foto voor Hole in the Wall. Ná die lang staptog en uitmergelende hitte wat nou amper die oorhand kry, wil ons eintlik net in die water duik en ons almal klim klere en al in die riviermonding voor die gat om af te koel. Die koel water gee ons die moed om ’n laaste bietjie energie bymekaar te skraap en ons klim vir die laaste keer nóg een steil bult tot by die bakkie uit. 

Links: The Boiling Pot en Regs: die befaamde Hole in the Wall.
Foto: Louis en Adriëtte

Voor ons huiswaarts keer, hou ons eers by Gigi’s in die Hole in the Wall Village stil vir slapskyfies en ’n drankie om die ergste dors te les. Ons gaan snuffel ook by die kunsvlytwinkeltjie oorkant die pad rond waar hulle pragtige kunswerke uit skulpies en dryfhout maak.

Handgemaakte kunswerke.
Foto: Adriëtte

By die hotel kan ek en Adriëtte nie gou genoeg by ons kamers uitkom nie. Ons vang ’n lekker, verfrissende stort en trek gemaklike klere aan voor ons uitgeput na die Beach Bar op die perseel stap en op die sagte banke uitspan terwyl die reën en weerligstrale weer om ons begin dans. Ons rus lekker uit sodat ons gereed is vir die volgende dag se avonture.

Ons ontmoet vir Mzoxolo, die eienaar van Coffee Bay Kayaking, douvoordag by ontvangs. Hy verduidelik dat sy naam “tuiste van vrede” beteken, maar dat ons hom sommer Mzo kan noem. Ons ry tot by die Mthatharivier wat die Xhosa-gebied van die Mpondoland waar die Zoeloes woon, skei. Ek en General trek wankelrig in ons kajak weg, maar ek kry gou-gou die ritme en ons vaar glad oor die water.

Heel links is Mzo wat vir ons gerusstel dat die bootjies nie sal tip nie.
Foto: Adriëtte en Johmine

Ek skrik my omtrent boeglam toe ’n vlieënde vis sommer hier neffens my uit die water duik en ek besef gou dat dit nie so ’n vreemde verskynsel is nie ─ elke nou en dan maak een weer sy verskynsel. Aan die anderkant van die rivier hou ons stil terwyl Mzo vir ons meer oor die geskiedenis en kultuur van die Xhosas vertel. Ons vra ook uit oor die interessante lobola-tradisie wat steeds streng toegepas word. ’n Entjie verder teen die rivier op hou Mzo weer stil en wys ons geduldig stap vir stap hoe om ’n klein bootjie uit riviergras te vou. 

Mzo weet nét hoe om sy kliënte te vermaak.
Foto: Adriëtte

Terug op droë land is ek en Adriëtte rasend honger en ons besluit om ’n pizza in die dorp te gaan eet. Ons het by die hotel deeglik ondersoek ingestel oor waar ’n mens die beste pizza in die dorp kry, aangesien dit ’n baie gewilde dis in Koffiebaai is. Ons het op die ou end besluit om by Papazellas met hulle dunkors-pizza te gaan inloer. Dié gewilde pizza-plekkie sit effens teen ’n heuweltjie en bied dus ’n pragtige uitsig vanaf die houtdek. Die einste Papazella en sy enigste kelnerin sukkel glad nie om al hulle kliënte te bedien nie. Ons gesels lekker terwyl borde en borde pizza’s aangedra word en ons dink nog ons gaan ’n paar skyfies pizza as ’n peuselhappie vir later kan inpak, maar toe ons weer sien is ons pizza’s skoonveld. Ek en Adriëtte koop ook ’n handgemaakte armbandjie as ’n klein aandenking van ons uitstappie.

Die heerlikste pizza én ’n fantastiese uitsig!
Foto: Adriëtte

Volgende op die lys is ’n besoek aan die plek met die beste koffie in Koffiebaai, Rock Coffee. ’n Heerlike koffiereuk hang in die lug toe ons instap en die eienaar ons nooi om te kyk hoe hulle die koffie maak. Ons kry elkeen ’n kans om ons eie bone in die groot, hol klip fyn te maal. Musiekoptredes vind elke Saterdag hiér plaas en dan kuier die mense sommer tot laat.

As iemand wat baie van koffie hou, was dit definitief vir my ’n hoogtepunt van ons hele ervaring.
Foto: Louis en Adriëtte

Louis vertel vir ons dat daar vanaand ’n tradisionele trom-uitvoering onder by die swembad is en hulle gee sommer ook ’n paar lesse vir dié wat wil leer. Die groepie sit om ’n gesellige vuurtjie en Isaac leer vir ons ’n paar basiese ritmes wat ons ook maar net-net regkry. Hy begin al hoe vinniger speel en sit ook sy eie ritmes by totdat die vier ouens oorneem en vir ons wys hoe dit gedoen word.

Ek en Adriëtte wat soos dié vier probeer speel, het groot vermaak verskaf!
Foto: Adriëtte

Die volgende oggend staan Adriëtte kort ná vyf met ’n koppie koffie in die hand by my deur, sodat ons die sonsopkoms op die strand kan gaan kyk ─ ons wil die Wildekus ordentlik groet voordat ons die lang pad terug Oos-Londen toe aandurf.

Bob se obsessie met die krappies laat ons so ’n bietjie lag op dié vrome oggend.
Foto: Adriëtte

Ons wens ons kon langer bly om al die ander doendinge in Koffiebaai ook te ervaar. Doen gerus navraag by die ontvangs en hulle sal sorg dat jy ’n onvergeetlike tyd het. Ek hoop om gou weer terug te keer, want daar het definitief ’n stukkie van my hart in die Wildekus agtergebly. 

Doendinge wat deur Ocean View Hotel aangebied of gereël word:

  • Verskeie voetslaanroetes
  • ’n Piekniek by die Mdumbirivier
  • Kajakvaart
  • Diepsee-duik
  • Diepsee-visvang of rivier-visvang
  • ’n Besoek aan die Mapuzi-grotte waar jy ook van die rotse af kan spring
  • Branderplankrylesse
  • Vlieërbranderplankry

Jaarlikse gebeurtenisse:

Ocean View Hotel is by ’n hele paar gebeurtenisse betrokke:

Hoe om tot in Koffiebaai te kom:

  1. Vlieg na Mthata Lughawe, doen navraag by Ocean View Hotel oor pendeldienste, of kry ’n huurmotor en ry 101 kilometer tot by die hotel.
  2. Vlieg na Oos-Londen wat 290 kilometer vanaf die hotel is. Só kan jy ook meer van die Wildekus ervaar

Wenke:

  • Die pad is nie oral in ’n baie goeie toestand nie en daar is vreeslik baie plaasdiere in die pad, so ry eerder stadig.
  • Moenie agterpaaie ry as jy nie die area ken nie, want daar is nie oral behoorlike rigtingaanduidings of selfsoonsein nie. Bly sover moontlik op die N2 of gebruik ’n erkende toergids se dienste om die area te verken.
  • Daar is nie OTM’s in Koffiebaai nie, so neem kontant saam. Die meeste van die winkels en restaurante het wel kaartfasiliteite en in noodgevalle kan jy die kassier by die spazza-winkel vra om geld te trek teen ’n R5-fooi.
  • Neem genoeg sonbrandroom en ’n hoed saam, veral as jy die voetslaan-roetes gaan aandurf.
  • Die hotel is troeteldiervriendelik en daar is honde en katte wat op die perseel woon. Praat gerus met die bestuurder indien dit vir jou ’n probleem is.
  • Die humiditeit aan die Wildekus is reg deur die jaar hoog, so dit is nie die moeite werd om jou tas vol klere en skoene vir koue weer te pak nie.
  • Doen navraag by die hotel se ontvangs oor die dienste van geregistreerde toergidse. Moenie sommer van enige ander toergidse se dienste gebruik maak nie.

Baie dankie aan Russel wat vir ons die geleentheid gegee het om sy wêreld te ervaar, aan Louis wat ons verblyf so opwindend moontlik gemaak het, die vriendelike personeel van Ocean View Hotel vir die uitstekende diens en die gidse, Nhaza en Mzo, wat hope pret verskaf het.

Hooffoto: Adriëtte le Roux