In Jan Alleman se woordeboek word “somer” en “wegbreekseisoen” as sinonieme geklassifiseer. Maar ons almal weet hierdie tipe Janne maak nou en dan ʼn fout. So hier is 5 redes hoekom “winter” en “wegbreek” heeltemal uitruilbaar is in LekkeSlaap se woordeboek.

1. Winter-aanbiedings

Baie wildreservate lok besoekers met vuurwarm spesiale aanbiedings gedurende die bibber-maande. Phumula Kruger Lodge en Safaris in Mpumalanga is een van vele wildreservate wat lekke afslag in die winter bied.

2. Minder blare

Het welige somerplantegroei al ooit tussen jou en daai wenfoto van ʼn groot kat gestaan? As ʼn onbelemmerde uitsig op skugter wild vir jou belangriker is as weerligstorms en groen bosse, hoort jou kamera en jou warm jas in dieselfde tas. Besoek My Bushhouse in Mpumalanga hierdie winter en stuur vir ons ʼn foto van daardie luiperd met die blink pels.

3. Minder muskiete

Muskietbyte en deur-die-slaap-herinneringe van die vlieënde wetters in skril wentelbane om jou kop, is die lááste twee dinge wat jy moet oorhou van ʼn wildkyk-vakansie. En almal weet muskietgetalle val soos klokslag saam met die kwik. So troef die malariafrustrasie deur Leopard Mountain in KwaZulu-Natal in die winter te besoek.

4. Koedoe-steak voor die kaggel

Mense tuur al vir duisende jare na vure terwyl hulle wag vir die wildsvleis om gaar te word. Sluit jou perfekte wildkyk-dag by Botlierskop Private Game Reserve in die Wes-Kaap af met ʼn heerlike koedoe-steak en ʼn glasie rooiwyn voor die kaggel. ʼn Kaggel werk mos baie beter in die winter!

5. Middel-van-die-jaar-moegheid

Tamheid bekruip ʼn mens soms soos ʼn roofdier en hou nie altyd by die kalender nie. ʼn Bosveld-wegbreek is dalk al wat jy nodig het om ontslae te raak van daardie middel-van-die-jaar-matheid wat jou elke jaar, hier teen Junie, so moedeloos maak. As dié foto van Maqueda Lodge in Mpumalanga nie jou batterye begin herlaai nie, is dit dalk tyd self ‘n draai daar te gaan maak!

Al die foto’s is gevind op die betrokke instansieprofiele op LekkeSlaap.co.za.