Die Tsitsikamma-staproete tussen Nature’s Valley en Stormsrivier hoort op elke kranige rugsakstapper se emmerskoplys. Dis ’n strawwe roete vir tawwe tienies dié, met uitsonderlike uitsigte en asemrowende natuurtonele as beloning. Só pak jy dié 62,5 km lange staproete oor ses dae aan:

Dag 1: Nature’s Valley tot Kalanderhut (3,6 km | sowat 2 uur)

Vroegoggend kom almal met staprugsakke wat tot barstens toe vol is by die De Vasselot-ruskamp in Nature’s Valley bymekaar. Dis ’n oor-en-weer-groetery voordat ons sakke vasgegespe word en ons aanstaltes maak. Dag 1 se roete strek al langs die Grootrivier-strandmeer tot aan die voet van die asemrowende Douwurmkop waar die Kalanderhut skuil. As jy ’n gesoute stapper is, sal jy die eerste dag van dié staproete sommer in ’n japtrap kafdraf en dan kan jy die res van die dag net op Nature’s Valley se strand baljaar. Ons het sommer die bestanddele vir aandete saamgedra en ons kon ’n lekker vleisie en braaibroodjie op die kole gooi. Vir die res van die roete maak ons gebruik van die portierdiens — een koelboks per groep word elke dag na die volgende oornaghut gekarwei. Dag 1 word afgesluit met ’n potjie kaart en ’n smullekker aandete voor ons kooi toe verkas.

Nature's Valley se pragtige strand

Die Kalanderhut:

Die Kalanderhut

Dié hut het 3 slaapvertrekke, onderdak-braaigeriewe en ’n vuurput vir ‘n gesellige kampvuurkuier. Dis die enigste hut met ’n sleutel, so onthou om by die De Vasselot-ruskamp te hoor waar die sleutel se wegsteekplek is. Maak ook seker dat jy die sleutel weer op dié wegsteekplek bêre sodat die volgende stappers nie voor dooiemansdeur aankom nie.

Net soos al die ander hutte het die Kalanderhut ook 24 stapelbeddens met matrasse, braairoosters, gietysterpotte en -panne, 2 spoeltoilette, 2 storte en ’n emmer vir warm stortwater. Beperkte vuurmaakhout word by elke hut voorsien.

Dag 2: Kalanderhut tot Bloukranshut (15 km | sowat 7 uur)

'n Tweespoorpaadjie in Grootkloof

Op die tweede dag is ons vroeg uit die vere om Douwurmkop aan te durf. Ons maak ook vir die eerste keer kennis met die wispelturige Tuinroete-weer toe ’n reënbui onverwags uitsak en ons reënponcho’s ingespan moet word. Aan die bopunt van Douwurmkop slaan die panoramiese uitsigte oor die see en fynbos my stom. Dit was ’n stewige klim en ons skep eers asem ─ ek verkyk my só dat ek skoon vergeet van die swaar sak op my rug!  Die res van dié dag se skof is rustiger. Wit spore wat die roete aandui, lei ons deur die inheemse woude van Grootkloof en Platbos. Teen middagete span ons by die ongelooflike Trappe-waterval uit en daarna neem die middagskof ons deur denneplantasies tot by die Bloukranshut. ’n Paar van ons klouter af teen die bergpaadjie tot by ’n kleiner waterval en lawe seer voete in die amberkleurige rotspoele.

Die Trappe-waterval (links); 'n Klipperige bergpaadjie deur die fynbos (middel-bo); Koffiewater (regs-bo); Interessante swamme in die reënwoud (regs-onder)

Die Bloukranshut:

Die Bloukranshut met sy uistonderlike uitsigte

Dié hut lê op die randjie van ’n krans en bied indrukwekkende uitsigte oor die rivier en die Tsitsikammaberge. Daar is 2 reuse-slaapsale, maar ’n paar dapperes het sommer hul slaapsakke op die houtdek oopgegooi om onder die sterre te slaap.

Dag 3: Bloukranshut tot Keurboshut (13,4 km | sowat 6 uur)

Die mistige bekoring van die Tsitsikammawoud

Op dag 3 kies ons koers diep die Tsitsikammawoud in. Buffelsbos, waar die laaste Tsitsikamma-buffel in 1886 geskiet is, is onheilspellend en toweragtig. By Waterwitelsgat steek ons die Bloukransrivier oor wat toevallig die perfekte middagete-rusplek is ─ dis tuna-sakkies en soutbeskuitjies net waar jy kyk! Daarna stap ons deur geurige fynbos en die geilgroen varingsale van Benebos tot by die Keurboshut. Verruil gerus jou stapstewels vir plakkies en gaan loer hoe die Twin Tubs lyk. Dié twee natuurlike borrelbaddens sal elke moeë stapper se liggaam en siel verkwik.

Eendjies, eendjies sit in 'n ry (links); Ons plons in 'n rotspoel (regs-bo); 'n Opwindende rivierkruising (regs-onder)

Die Keurboshut:

Die Keurboshut

Dié hut het 2 aparte slaapsale wat toegang bied tot ’n stoep met pragtige uitsigte oor die Tsitsikammawoud en die gemeenskaplike braai-area is perfek vir luilekker kuier. As jy vuil wasgoed het, is dié oornaghut ideaal. Daar is ’n lekker lang wasgoeddraad in die son. Maak net seker daar is genoeg daglig oor vir jou klere om behoorlik droog te word, want daar is niks so grillerig soos sopnat sokkies nie!

Dag 4: Keurboshut tot Heuningboshut (13,4 km |sowat 6 uur)

Die besonderse berglandskappe van die Tsitsikamma

Vanoggend word ek met stywe litte wakker — die vorige dag se bulte begin sy tol eis. Vanaf die Keurboshut kronkel die bergpaadjie geleidelik afwaarts tot by die Lotteringsrivier. Ons plons dankbaar in die koel poele en eet ’n snoephappie voordat ons teen die Biesiespas (Rushers Pass) uitbeur. Die uitsig is lafenis vir my seer kuitspiere! Ons steek die Elandsbosrivier oor en stap ’n hele ent in die Heuningbos. Ek vergaap my aan die Oumansbaard-korsmosse, welige rankplante, eeue oue woudreuse, en ek verbeel my selfs ek hoor Oupoot se swaar voeteval. Net toe dit behoorlik begin reën, verskyn die Heuningboshut voor ons en ek is dankbaar vir ’n vinnige middagslapie.

Pragtige proteas is volop (links-bo); Ons takel Biesiespas (regs-bo); 'n Houtbruggie oor die Lotteringsrivier (links-onder); 'n Paar stapstewels bly in die slag (regs-onder)

Die Heuningboshut:

Die Heuningboshut se lekker vuurmaakplek

Dié hut het 2 aparte slaapsale en ’n lekker lapa met ’n groot vuurmaakplek. Dis die perfekte plek om malvalekkers te braai en tot laataand kopstukke te gesels.

Dag 5: Heuningboshut tot Sleepkloofhut (19,9 km | sowat 7 uur)

Aanstap Rooies! Die pad is lank en plek-plek swaar!

Dag 5 se fynbos-landskap is regtig besonders. Pragtige proteas en sierlike speldekussings raam die bergpaadjie wat Splendidpas toe lei. Anderkant die Wittekliprivierkruising rus ons vir middagete voor ons Nademaalsnek aanpak. Ons volg die wit spore deur Teebosrug tot by die laaste oornaghut wat aan die hange van ’n dig beboste krans lê. Vir aandete pak elkeen sy oorblywende proviand op die houttafels uit en daar word behoorlik feesgevier!

Dit verg spanwerk om almal oor die bruisende rivier te kry (links); Almal is in een stuk anderkant! (regs)

Die Sleepkloofhut:

Ons neem 'n blaaskans onder die lapa (links); Die Sleepkloofhut met sy pragtige uitsigte (regs-bo); Hou links in die Sleepkloofhut se rigting (regs-onder)

Dié hut het 4 aparte slaapsale en ’n houtbalkon wat uitkyk op die berge. ’n Houtpaadjie lei tot by die ablusiegeriewe wat net so mooi uitsig het.

Dag 6: Sleepkloofhut tot Stormsrivier (3,2 km | sowat 1 uur)

Ons het die Tsitsikamma oorleef!

Ek word met ’n swaar hart wakker en pak vir oulaas my rugsak. Ons mik Stormsrivier se kant toe en herleef al ons gunsteling-oomblikke terwyl ons deur die digte woudgebied drentel. Almal glimlag vir ’n laaste groepfoto voor die Stormsrivier-vulstasie eensklaps voor ons opdoem. Die afgelope 6 dae was ’n onvergeetlike tog: lewenslange vriendskappe is gesmee en matelose bewondering vir die natuur is gekweek. Ek kyk met heimwee terug na die Tsitsikammaberge en wil net soos Dalene Matthee se Saul Barnard “omspring en teruggaan na die skemer skuilte van die Bos.”

By die Stormsrivier-vulstasie word die stapstewels dankbaar uitgeskop

As jy nog altyd dreig om ’n staproete te takel, is dit nóú die tyd om die daad by die woord te voeg! Maak ’n draai by MTO Ecotourism om jou plek op die Tsitsikamma-staproete te bespreek.

Gebruik dié nuttige paklysie om jou staptoer te beplan:

Om die beste van jóú Tsitsikamma-avontuur te maak het LekkeSlaap ’n hele rits blyplekke in die Tsitsikamma-omgewing sodat jy vóór en ná die staptog lekker kan slaap!

Spaar jou kragte onderweg Nature’s Valley toe by een van dié oornagplekke:

Lily Pond Country Lodge | Riverview House | Cashel Cottage, Kundalila Farm | Nerifolia Cabin | Antlers Country Lodge

Nog nie gereed om die Tsitsikamma vir die beton-oerwoud te verruil ná jou staptog nie? Vertoef gerus hiér:

Mountain Breeze Log Cabins | Net Hier | Misty Mountain Reserve | The Fernery Lodge & Chalets | Cadeau Adventure Trails & Accommodation | Fijnbosch Camping

Foto’s deur: Sean Finaughty en Izak De Wet.