Elgin is beslis meer as net “die plek waar die appels vandaan kom”. Alhoewel dié Overbergdorpie bykans 60% van ons land se appels voorsien, is dit die wynlandgoedere in dié streek wat deesdae op almal se lippe is. Die ligging tussen die berge en naby die see gee dié streek die koelste klimaat van al die wynstreke in die land. Dis dié dat dit vinnig besig is om een van Suid-Afrika se mees suksesvolle, tog ongewone, wynstreke te word. LekkeSlaap moes eenvoudig gaan uitvind wat dié plekkie só uniek maak en was gelukkig genoeg om op ’n winderige lente-naweek in dié pragtige deel van die land te gaan kuier.

Elgin Railway Market

Roger Orpen het die briljante idee gehad om die ou appelpakhuis naby die Elgin-treinstasie in ’n bymekaarkomplek vir beide plaaslike inwoners en besoekers van vêr te omskep. Roger is deur die pakhuis se ligging, die industriële era en spoorwegnetwerke geïnspireer en besluit toe op ’n steampunk-tema waar Art Deco en Victoriaans moeiteloos saamsmelt. Vandag spog die Elgin Railway Market met stalletjies, lewendige musiek en ’n unieke mark wat ’n groot trekpleister in die Elgin-omgewing geword het.

Met só ’n ligging langs die treinspoor, moes Roger nog net ’n stoomtrein in die hande kry om besoekers hierheen te bring. Ceres Rail Company was gretig om betrokke te raak en met Elgin Railway Market as eindbestemming, kon dié lokomotief genoeg voete saambring vir ’n feestelike markdag ─ beslis ’n wen-wen vir albei partye. Deesdae rol dié stoomtrein Saterdae en Sondae in Elgin se rigting en oud en jonk staan vroegdag al nader om sy gefluit aan te hoor en die aardigheid van nader te beskou.

Nadat ons die mark vinnig verken het en ’n heerlike koppie koffie by Ground Central gekry het, het ons ook by die lot langs die treinspoor aangesluit om vir Bailey fluit-fluit te sien nader kom. Die trein se getjoeke-paf, die bondels rook en die seun wat bo-op sit se roet-besmeerde gesig laat jou skielik voel asof jy iewers in ’n vervloë era vasgevang is. Ná al die opwinding, móés ons by Ella’s Elgin Farm Foods ’n draai maak om die honger kol op ons mae met ’n egte plaasontbyt te vul ─ die kerriemaalvleis-vetkoek was lipleklekker! Ons neem ’n paar foto’s, luister na die lewendige musiek en loer toe by SoVinhos op die tweede verdieping in vir ’n wynproesessie. SóVinhos verkoop wyne vanuit die omgewing en Carla, die eienaar, ken haar storie. Kom knoop ’n geselsie aan, proe wyn en doen jou Elgin-wynaankope sommer hiér op een plek. ’n Besoek aan ’n mark is beslis nie volmaak sonder ’n soetding nie en ’n vinnige draai by Pudding & Pie is net die ding om die ergste lus te demp. Gaan klop gerus by dié stalletjie aan vir ’n pekanneuttertjie vir die pad.

Almenkerk

Ná die mark kies ons koers na Almenkerk op die Viljoenshoop-pad. Dié jong wynplaas is in ’n Belgies-Nederlandse paartjie, Natalie en Joris, se besit ─ Joris maak die wyn en Natalie is in beheer van verkope, bemarking en administrasie. Natalie wag ons by die deur in en nooi ons na die proelokaal, wat eintlik meer soos hulle kombuis voel, om hulle koelklimaat-wyne te proe. Almenkerk spog met 2 reekse: die Almenkerk- en die Lace-reeks, en natuurlik moes ons almal proe! Ons was so verras met dié wynplaas se huislike atmosfeer en ná ’n wynproesessie en ’n rondte boule, het ons ons sommer op die rusbank in die “sitkamer” tuisgemaak en met die honde gespeel. Doen jouself ’n guns en kom kuier hier by Almenkerk. Pak ’n piekniekmandjie, koop ’n bottel Almenkerk-wyn en kom span op die grasperk uit terwyl die kinders op die klimraam baljaar.

The Hickory Shack

’n Mens moet darem ook iets te ete kry na al die wynproe! Ons klim op die N2 en gaan kuier toe by The Hickory Shack. Dié Texas-rokery gebruik plaaslike hout, nooit elektriese rokers, om jou stuk vleis ekstra stadig te rook sodat jy net die regte hoeveelheid rokerigheid, sappigheid en geurigheid sal proe. Al die vleissnitte word noukeurig gekies vir die spesifieke tekstuur en smaak wat dit na vore bring. Daarna word dit volgens die Texas-tradisie met droë speserye ingesmeer, stadig gerook en eindelik met ’n sous afgerond voor dit vir jou bedien word. Ons het aan die spesiale Saterdag-aanbod van ’n ribstuk, aartappelskyfies en koolslaai gesmul, en sal beslis weer daar gaan draai vir nog!

Trail’s End

Hoe sê hulle nou weer? Magie vol, ogies toe. Ná so ’n lekker bord kos, was dit tyd om kooi se kant toe te staan. As jy ’n groot buitelug-liefhebber en avontuurlustige is en ’n gesonde leefstyl hoog op prys stel, sal Trail’s End ’n groot bederf vir jou wees. Dié hotel spog met ’n konferensiesentrum, fisioterapeut, masseerterapeut, kiropraktisyn en ’n gesondheidsentrum wat pilates-klasse aanbied. Die 20 meter lange swembad met twee bane is ideaal vir gaste wat driekamp oefen of sommer net ’n bietjie litte wil losmaak. Die hotel se ligging tussen die berge maak dit moontlik vir gaste om draf- en fietsryroetes van verskillende moeilikheidsvlakke aan te durf voordat hulle saans by die hotel kom skoene uitskop.

Nadat ons lekker met die personeel in die gemeenskaplike sitkamer-, kroeg- en eetarea gesels het, is ons kamer toe vir ’n salige nagrus. Die volgende oggend is ons met ’n heerlike ontbyt van meusli, jogurt, muffins, koffie en sap verras voor ons weer in die pad geval het.

Tri Active

Hier is ons wéér met ’n lipleklekker ontbyt bederf ─ roereier, spek, gebraaide tamaties, sampioene en roosterbrood! Toe ons klaar geëet het, het Willem ons vir ’n pyl- en boogskietles kom haal. Ons stap saam met hom onderdeur die bome na waar die pyle en boë vir ons lê en wag, terwyl hy ons meer van die lodge vertel. Daar is altesaam 23 eenhede met slaapplek vir 63 gaste en ’n hele klomp aktiwiteite wat dit ideaal maak vir skoolgroepe en kollegas wat op soek is na spanbouwegbreek, sowel as konferensies en bekendstellings, of sommer net reisigers wat op soek is na verblyf wat die sak sal pas.

Diep in die woud leer Willem ons ’n paar truuks, hoe ons die boog moet vashou, hoe ons moet staan en waar ons moet mik. Elkeen kry ’n boog en ’n paar pyle, toe moes ons mik en… kolskoot! (Wel, amper.) Noem ons sommer Katniss Everdeen!

Elgin Vintners

Ons naweek sou nie volmaak wees sonder ’n lekker wynproe by Elgin Vintners nie. Elgin Vintners bestaan uit ses druiwe-produsente wat op die uitnemendheid van die Elgin-terroir en die diversiteit van hulle wingerde geskoei is en besluit het om hulle hulpbronne te kombineer om hulle reeks uitstekende wyne van die Elgin-vallei saam te kweek, produseer en te bemark. Ons het by Juanrie, Elgin Vintners Manor House se bestuurder, gaan kuier om meer oor die wyn, plaas en herehuis te leer. Juanrie het vir ons die Sauvignon Blanc met ’n verfrissende vrugtegeur, ’n Bordeaux-versnit genaamd The Century, en die heerlike droë Rosé op die ou herehuis se stoep laat proe, voordat ons ’n toer deur die ou herehuis, wat nou in ’n gastehuis omskep is, geneem het. Hiérna het ons lekker al langs die plaaspad na die rivier toe gestap, terwyl sy ons meer van die plaas se bedrywighede vertel het.

Besoekers kan naweke vanaf 07:30 tot 16:00 op die plaas kom draf, stap en fietsry, en Maandae tot Vrydae vanaf 10:00 tot 16:00 in die herehuis kom wynproe. Verlede jaar was die sampioensnuffel-uitstappies saam met Gary Goldman ’n groot trekpleister. Die dag bestaan uit ’n insiggewende aanbieding oor wilde sampioene, ’n sampioensnuffel-sessie op die plaas, en middagete op die herehuis se stoep wat saam met Elgin Vintners-wyn bedien word. Hou gerus hulle webtuiste vir meer inligting dop.

The Pool Room

Die middagete by The Pool Room was voorwaar die beste manier om ons naweek in Elgin mee af te sluit. The Pool Room se sjef, Gordon Manual, maak meestal van die Oak Valley-plaas se vars produkte gebruik om ’n outentieke plaas-tot-vurk-ervaring te bied. Die vleis, groente en kruie wat van die plaas af kom word saam met die plaas se wyn langs die bekende turkoois swembad onder die ou eikebome bedien.

Die kelner stap saam met ons tot by ons tafel langs die swembad waar ander besoekers reeds gesellig onder die bome sit en kuier. Emma, die bestuurder, bring toe vir ons ’n interessante salm-voorgereg, Citrus Cured Salmon Trout ─ ’n heerlike voorgereg wat ons hoë verwagtinge vir die hoofgereg gegee het! Ons het ’n moeilike besluit gehad om te maak. Na ’n gewik en geweeg, besluit ons toe op die Braised Pork Belly met ’n bros varkvelletjie, romerige pap en ’n granaatsous, en die Oak Valley Free Range Beef Of The Day, ’n sappige kruisskyf met ’n wilde sampioen- en brandewynsous en aartappelskyfies wat met die hand gesny is. Ons was beslis nie teleurgestel nie ─ albei was net so lekker en beslis iets om oor huis toe te skryf. Vir nagereg bestel ons die White Chocolate Créme Brulee en die Licorice Ice Cream wat beslis die kersie op die koek was! Ons kan met sekerheid sê dat hulle ons behóórlik bederf het. Doen jouself ’n guns en maak ’n draai by The Pool Room. Of dit nou ’n verjaardagpartytjie, ete vir twee, of sommer net ’n Sondagmiddagete is, jy sal nie spyt wees nie!

Een ding wat beslis uitgestaan het, is die manier hoe die Elgin-gemeenskap mekaar ondersteun en hoe hulle besoekers laat tuis voel. Dit was só lekker om die naweek saam met die mense van dié geweste deur te bring en dis beslis nie die laaste keer nie. Moenie langer op jou laat wag nie, bespreek nóu ’n wegbreek na dié vallei ─ dit sal beslis een vir die boeke wees!

Hooffoto: Nanje Lourens

Alle foto’s is deur Nanje Lourens en Daniëlle Terblanche geneem, tensy anders vermeld.