Soos Desember naderkom, beloof KwaZulu-Natal se Suidkus pret, avontuur en asemrowende natuurskoon. Met pragtige strande, die warm Indiese Oseaan en ’n rits opwindende aktiwiteite, is hierdie kusparadys ’n droombestemming vir die feesseisoen.

LekkeSlaap het dié gids prettige aktiwiteite saamgestel sodat jy die meeste van jou tyd aan die Suidkus kan maak. Of jy nou net wil ontspan, ’n avonturier of ’n kultuurentoesias is, ons het iets wat aan elke vakansieganger se begeertes sal voorsien. 

Durban

Durban_The Palace All-Suite

Durban is aan Suid-Afrika se oostelike kuslyn geleë en dié lewendige kusstad is vir sy lekker strande met warm water, ’n ryk kulturele erfenis en lewendige atmosfeer bekend. Dit bied ’n magdom aktiwiteite en het iets wat almal sal geniet.

uShaka Marine World

uShaka Marine World is ’n gesinsgunsteling en hiér wag ’n wêreld van wateravontuur op jou! Dit spog selfs met een van die wêreld se grootste akwariums. Kom word betower deur dolfyn- en robvertonings en geniet die opwindende waterwurms by Wet n Wild. Dit is daagliks van 09:00 tot 17:00 oop en die pryse wissel volgens die verskillende aktiwiteite, kliek hiér vir die pryse.

Victoria Street Market

By Victoria Street Market kan jy jouself aan Durban se Indiese kultuur vergaap en geurige speserye, pragtige materiaal en juweliersware, asook kuns koop. Jy sal ook aan heerlike Indiese straatkos kan smul. Die mark is Maandag tot Saterdag van 08:00 tot 17:30 oop en Sondag tussen 10:00 tot 16:00 oop en ingang is gratis.

Durban: Waterfront Canals Pedal Boat Rental

Met Durban: Waterfront Canals Pedal Boat Rental kan jy vir ’n uur lank Durban Point Waterfront, ’n beskermde mariene reservaat met meer as dertig visspesies, se kanale met ’n trapboot verken. Dit is ook maklik genoeg vir die jongspan om dit saam te geniet. Jy sal rustig kan trap terwyl julle deur die kanale en die waters se seelewe betower word. Kliek hiér vir die pryse.

PheZulu Safari Park

Gaan ervaar die Zoeloe-kultuur by PheZulu Safari Park. Hiér kan jy tradisionele Zoeloe-danse sien, ’n gerekonstrueerde Zoeloe-dorpie besoek, op wildritte of Segway-toere gaan en ’n reptielpark geniet. Hulle is Dinsdag tot Sondag vanaf 08:00 tot 16:30 oop en die pryse wissel volgens die verskillende aktiwiteite:

Zoeloe-danse: vanaf R110
Wildritte: vanaf R150
Segway-toere: vanaf R150
Reptielpark: vanaf R60
*Pryse is onderhewig aan verandering.

Durban

Amanzimtoti

Amanzimtoti_37 Key Largo

Amanzimtoti is in die hartjie van KwaZulu-Natal geleë en bied ’n rustige ontsnapping met sy ongerepte strande, warm waters en ’n ontspanne atmosfeer. Dit spog met ’n bekoorlike promenade en bied asemrowende see-uitsigte. Hiér kan jy in die branders baljaar, plaaslike markte verken, aan vars seekos smul en die natuurskoon bewonder. 

Splash Water World

Splash Water World is ’n somerwonderland en ook sommer langs die hoofstrand geleë. Hierdie waterpark het opwindende waterwurms, ’n rivier waar jy rustig kan dryf en verskeie swembaddens wat eindelose gesinspret bied. Hulle is daagliks van 10:00 tot 17:00 oop, kliek hiér om die pryse te sien.

Galleria Mall

Galleria Mall is die perfekte uitstappie sou die reën julle buitelugpret kom bederf. Hierdie sentrum spog met hope aktiwiteite om jou en die jongspan besig te hou en sluit ’n fliek, Funzone, Carnival Kingdom, knortjorre, ysskaats en The Fun Company in. Die sentrum is Maandag tot Saterdag tussen 09:00 en 19:00, Sondag en openbare vakansiedae van 09:00 tot 17:00 oop en die pryse wissel volgens die verskillende aktiwiteite.

Amanzimtoti Bird Sanctuary

Die Amanzimtoti Bird Sanctuary, of Umdoni Bird Sanctuary, bestaan uit ’n pragtige dam wat deur grasperke, tuine en inheemse woude omring word. By hierdie toevlugsoord kan jy 150 voëlspesies sien, die staproetes volg en piekniek hou. Dit is daagliks tussen 06:00 en 18:00 oop en toegang is gratis. 

Amanzimtoti

Scottburgh

Scottburgh

Scottburgh spog met natuurlike prag en ’n wye verskeidenheid van avontuuraktiwiteite. Hierdie bekoorlike kusdorpie is vir sy strande met branders wat branderplankryers lok en rustige oewers bekend. Van welige tropiese woude tot ’n ryk seelewe ─ Scottburgh is ideaal vir ’n kuswegbreek. 

Crocworld Conservation Centre

Crocworld Conservation Centre is die tuiste van verskeie reptiele, veral krokodille. Hiér kan jy kyk hoe krokodille gevoer word, plaasdiere besoek, ’n verskeidenheid voëlspesies bewonder en kinders kan ook die speelgrond geniet. Crocworld is die ideale opvoedkundige uitstappie en hulle is sewe dae van die week tussen 09:00 en 16:30 oop. Kliek hiér vir die pryse.

Oceans Alive

Oceans Alive bied prettige bootritte en geleenthede vir snorkel vanaf Scottburgh se hoofstrand en is perfek vir die hele gesin. Afhangende van die seisoene sal jy verskillende seelewe, soos walvisse, dolfyne, haaie, en verskillende visspesies kan sien. Hulle is daagliks tussen 07:00 en 16:00 oop. Kliek hiér vir die pryse.

Scottburgh

Port Shepstone

Port Shepstone_At 4 Umzumbe, Mangrove Beach Estate

Port Shepstone is ’n skilderagtige dorpie met ongerepte strande wat perfek vir rustige wandelinge langs die kuslyn is. Dit spog met ’n verwelkomende atmosfeer en natuurskoon, maar is ook die perfekte kusbestemming vir opwinding. 

Oribi Gorge Natuurreservaat

Oribi Gorge Natuurreservaat bied nie net betowerende natuurskoon nie, maar ook verskeie aktiwiteite vir avontuur. Daar is uitstekende stap- en bergfietsroetes en Wild5 Adventures het ’n rits aktiwiteite wat ideaal vir adrenalienvrate is. Wild5 is daagliks van 09:00 tot 16:30 (buite seisoen) en 08:00 tot 17:00 (spitsseisoen) oop. Die pryse wissel volgens die verskillende aktiwiteite, kliek hiér om die pryse te sien.

Skyline Natuurreservaat

Skyline Natuurreservaat is ’n toevlugsoord wat ideaal vir voëlkyk en piekniek is. Dit spog met ’n panoramiese uitsig oor die Indiese Oseaan en dié welige omgewing maak dit ’n uitstekende stap- of ontspanningsplek. Ingang is gratis en kliek hiér vir kontakbesonderhede en tye.

Pure Venom Reptile Park

Kom besoek Pure Venom Reptile Park om ’n verskeidenheid reptiele, soos slange en krokodille, asook plaasdiere te sien. Daar is ook ’n lekker speelarea vir die jongspan. Hierdie lekker opvoedkundige uitstappie is geskik vir alle ouderdomme. Hulle is daagliks tussen 10:00 en 16:00 oop. Kliek hiér om die pryse te sien.

Port Shepstone

Margate

Margate_Colonial Sands 406

Margate is ’n tropiese paradys en hierdie prentjiemooi kusdorp spog met lekker strande en warm seewater. Kom ontspan op die strand of geniet die plaaslike kultuur en heerlike seekos. Margate is die ideale bestemming vir ’n onvergeetlike kusvakansie.

Riverbend Crocodile Farm

By Riverbend Crocodile Farm kan jy ’n opwindende tyd met hierdie prehistoriese reptiele geniet. Sluit aan by begeleide toere om van krokodille te leer en te sien hoe hulle gevoer word of gaan kyk na een van die fassinerende slangdemonstrasies. Dit is ook die perfekte tyd om te sien hoe die krokodille uitbroei, aangesien dit tussen middel Desember en middel Februarie plaasvind. Daar is ook ’n kaffee en ’n kuns- en wyngalery. Hulle is elke dag tussen 10:00 en 16:30 oop. Kliek hiér vir pryse.

Butterfly Valley Butterfly Farm

Butterfly Valley Butterfly Farm het ’n verskeidenheid skoenlapperspesies in ’n welige, tropiese omgewing. Hierdie uitstappie sal nie net opvoedkundig wees nie, maar ook betowerend. Julle kan die teelsentrum besoek, tussen die skoenlappers in die skoenlapperkoepel stap, interessante diertjies sien en die kunsvlytwinkel besoek. Hulle is Maandag tot Saterdag tussen 09:00 en 16:00 en Sondae van 10:00 tot 14:00 oop. Kliek hiér vir pryse.

Margate

Port Edward

Port Edward_Captain's Cottage

Port Edward bied ’n rustige ontsnapping aan die kus met ongerepte strande, skilderagtige landskappe en ’n ontspanne atmosfeer. Dit is ideaal vir strandliefhebbers en natuurentoesiaste. Van opwindende wateraktiwiteite, heerlike plaaslike eetplekke tot besonderse natuurskoon, bied Port Edward die perfekte balans van rustigheid en avontuur aan Suid-Afrika se Suidkus.

Red Desert Nature Reserve

Kom verken Red Desert Nature Reserve, dit is die kleinste woestyn in die wêreld en ’n geologiese verskynsel met rooi sandduine wat seldsaam te vinde is. Dié unieke en pragtige omgewing bied geleenthede vir stap, voëlkyk en bergfietsry, daar is ook uitkykpunte. Kliek hiér vir pryse.

Wild Waves Water Park

Wild Waves Water Park is by die Wild Coast Sun geleë en spog met ’n verskeidenheid waterwurms ─ selfs ’n paar wat jou hart vinniger sal laat klop, swembaddens, restaurante en Mangwanani Africa Kids Spa. Hierdie waterpark sal vir hope gesinspret sal sorg. Hulle is Woensdag tot Vrydag tussen 10:00 en 16:00 en Saterdag en Sondag tussen 09:00 en 17:00 oop. Kaartjiepryse is vanaf R70.
*Pryse is onderhewig aan verandering.

Beaver Creek Coffee Estate and Roastery

Beaver Creek Coffee Estate and Roastery sal hemels vir enige koffieliefhebber wees. Hierdie landgoed bied koffieproe, het varsgeroosterde koffie en toerusting te koop, asook verskeie toere en kursusse, soos die Crop to Cup Coffee-toer en -proe vir ’n uur en ’n Home Barista-kursus vir twee ure. Die kafee bedien heeldag heerlike maaltye en ’n reeks varsgeroosterde koffie. Die landgoed is daagliks tussen 08:00 en 16:00 oop. Kliek hiér vir pryse.

Port Edward

So, waarvoor wag jy? Kry die span bymekaar en maak gereed vir hope pret, want hiér wag onvergeetlike herinneringe wat jou Desembervakansie aan Natal se Suidkus werklik spesiaal sal maak!

Hooffoto: The Palace All-Suite

Alle ander foto’s: LekkeSlaap

Lees ook:

Paradysverblyf aan die subtropiese Hibiskuskus

Lekke naweekdorpies buite Durban

Aktiwiteite in die Cederberg

Lekke gesinsvriendelike aktiwiteite in Kaapstad