In ’n land soos Suid-Afrika kan ’n mens nie net ’n jassie en ’n mussie gryp voor jy in die kar spring nie. Enige iets van reën, wind en tot sneeu kan jou verras. Met LekkeSlaap se lekker pakwenke hoef jy nie meer bekommerd te wees oor wat om vir jou volgende wegbreek in te pak nie.

Vir die reën 

Reën in Kaapstad
Foto: Marlin Clark op Unsplash

Almal weet dat jy in die Wes-Kaap ’n paar seisoene in een dag kan teëkom, maar al weet jy nie altyd presies wanneer die volgende reënbui sy opwagting gaan maak nie, kan jy ten minste regstaan met jou reënjas, want niks kan jou vakansie in Kaapstad bederf nie!

  • Plastieksakke vir nat klere en skoene sal jou tas skoon en droog hou.
  • Belê in ‘n goeie paar reënstewels.
  • ’n Sambreel wat klein kan opvou en in jou rugsak of handsak pas, is ’n moet as jy die omgewing te voet wil verken.
  • Neem ’n ekstra stel klere vir ingeval jy natreën.
  • Pak ten minste een baadjie wat waterbestand is, sodat jy jou gunstelinghemp twee keer kan dra.

Vir die wind 

Port Elizabeth Oos-Kaap Wind
Foto: Karsten Wurth op Unsplash

Al kan jy nie altyd seker wees of die son gaan skyn en of dit gaan reën nie, kan jy reken op die wind wat in die Oos-Kaap sal waai. Die windkous waai ook gereeld in gewilde bestemmings soos Jeffreysbaai en Kaap St. Francis, en alhoewel dit sommige siele ’n tydjie sal neem om daaraan gewoond te raak, sal dit makliker wees vir dié wat voorbereid opdaag.

  • Pak klere wat jy laag-op-laag kan dra sodat jy jou liggaam kan help om sy temperatuur te reguleer, want dit sal binne- en buitekant wissel.
  • Pak ’n mus in om jou ore te beskerm.

Vir die sneeu

Drankensberg en Limpopo sneeu
Foto: Clement Fusil op Unsplash

Alhoewel sneeu nie ’n alledaagse verskynsel in Suid-Afrika soos in Europa is nie, is jou kanse om sneeu te sien in sommige streke groter as ander. As jy voor ’n kaggel naby die Drakensberge wil sit of in Limpopo wil gaan ski, moet jy hierdie paklys in jou agterkop hou wanneer jy jou tas in die kar laai.

  • Pak lae en bring jou frokkie saam.
  • ’n Waterbestande baadjie en skoene is jou vriende. Moet hulle nie vergeet nie.
  • Hier sal handskoene ook handig wees.
  • ’n Mus sal jou ore en jou kop teen die koue beskerm.
  • As jy altyd die persoon met die rooiste neus is, sal jy ook baat vind by ’n serp wat jy oor jou gesig kan sit.
  • Pak sonbrille wat jou oë teen die son se weerkaatsing en ultravioletstrale sal beskerm.

Vir warmer winters 

Warmer Winters in Durban
Foto: Guru Santillan op Unsplash

Plekke soos Durban in KwaZulu-Natal handhaaf ’n matige temperatuur in die winter as gevolg van die humiditeit en warmer water van die Indiese Oseaan. Dit is ideaal vir dié wat koue winters wil ontsnap en steeds in Julie met plakkies strand toe wil stap.

As jy van plan is om jou winterwegbreek hier deur te bring, kan jy jou gewone kortbroeke en T-hemde gryp, maar maak seker dat jy ten minste een baadjie saamneem, want dit is egter steeds winter en die weer kan jou steeds onkant vang. 

  • Neem verskillende lae saam sodat jy kan aan- en uittrek soos die temperatuur verander.
  • Pak ’n langbroek of twee in vir ingeval daar ’n koeler dag op jou wag.
  • ’n Paar sandale en ’n paar toe skoene sal sorg dat jy reg is vir enige uitstappie.

’n Paar algemene wenke

Koue winters in Suid-Afrika
Foto: Taylor Leopold op Unsplash

Gewilde winter-vakansiebestemmings soos Clarens, een van die Vrystaat se grootste trekpleisters, en die Nasionale Krugerwildtuin is beslis ’n besoek werd. Sou jy braaf wees en besluit om hierheen weg te breek, moet jy darem die regte items in jou tas hê sodat die koue nie jou aandag van jou vakansie in hierdie pragtige omgewing aftrek nie. 

  • Kies jou warmste jas en pak hom in jou tas. 
  • Oorweeg die mus wat jy nooit dra nie, ernstig.  
  • Neem handskoene saam. 

Die meeste mense sal na die weervoorspelling loer voor hul vertrek, maar dis altyd goed om voorbereid te wees sodat jy kan ontspan en jou tyd saam met vriende en familie geniet sonder om bekommerd te raak oor elke windjie wat opsteek. Niemand hoef die heeltyd in die huis te bly omdat die weer nie saamspeel nie, want met die regte skoene kan jy enige plek verken, so gaan voort en hou vakansie!

Hooffoto: Matt Heaton op Unsplash