Rooi en geel speldekussings, wildesalie en heide wuif vanaf weerskante van die pad soos ons die Pearl Valley Golf Estate and Spa buite die Paarl nader. Dit is hier, by Pearl Valley Hotel by Mantis, waar ons die aand oorbly. Deur die ruit se oop skrefie waai die geur van fynbos en nat grond wat deur die oggendreën gedoop is die kar binne en alles lyk verkwik en vernuwe, so ook die sekuriteitswag wat met ’n huppel in sy stap nader kom en vriendelik verduidelik waarheen ons moet ry.

Alhoewel dié gholflandgoed langsaan op die R301 is, vorm Pearl Valley deel van Val de Vie Estate, ’n spog-landgoed net ’n entjie buite die Paarl wat al verskeie kere die prys as beste residensiële landgoed in Suid-Afrika verower het en onlangs as die top-leefstylontwikkeling ter wêreld aangewys is. Ons verwagtings is dus hoog soos ons voor die gholfklub se ingang parkeer en wanneer ons in die voorportaal, met sy mure vol plante en indrukwekkende uitsig oor die gholfbaan staan, kan ’n mens sien ’n wenresep is hiér in werking.

Foto: Adriëtte le Roux

Die gholfbaan se klubhuis dien ook as die hotel se ontvangs en sitarea, en hiér kan jy ’n drankie bestel, by die Valley Restaurant aansit vir ontbyt, sushi, pizza of ’n smullekker aandete, of die kinders loslaat om in die swembad, met al sy waterwurms en vermaaklike draaie, te baljaar terwyl jy ’n ogie hou en jou gin en tonic rustig sit en drink.

Foto: Voorsien

Vanaf die restaurant stap jy uit op die gholfbaan, ’n Jack Nicklaus Signature-baan wat vanjaar die tweede posisie by SA’s Top 100 Courses behaal het. Gholfkarretjies beweeg oor die golwende skoonvelde en spelers in deftige polo-hemde en ligte broeke stap doodluiters in groepies oor die baan wat deur fynbos, hoë bome en die Bolandse berge omring word. Selfs vir iemand met geen sweepie gholfspeler in sy bloed nie, is dit ’n pragtige gesig. 

Foto: Adriëtte le Roux

Die Pearl Valley Hotel by Mantis is egter nie nét ’n goeie roep vir gholfspelers nie. Die perseel spog ook met gewilde konferensiegeriewe vir sakewegbreke en ’n Camelot Spa waar masseersessies, vel- en skoonheidsbehandelings deur kundige terapeute uitgevoer word. Die kinders sal ook oorgenoeg plek hê om rond te hardloop en by die hotel of gholfklub te swem, en vir diegene wat wég van die gholfbaan af aktief wil wees, bied die perseel tennisbane en 42 kilometer se voetslaan- en fietsroetes om jou aan gang te hou. Met sy sentrale ligging net ’n kort entjie se ry vanaf die Paarl, Simondium, Franschhoek en Stellenbosch, is die Pearl Valley Hotel by Mantis ook ’n uitstekende opsie vir paartjies of gesinne wat alles wat die Boland bied, wil verken ─ om nie te praat van sy perfekte ligging midde verskeie top-wynlandgoedere nie. 

Nadat ons ’n drankie in die klubhuis geniet het, word ons saam met ons bagasie in ’n gholfkarretjie na ons kamer geneem. Die hotel se uitleg volg geensins ’n tradisionele patroon nie. Pleks van die gewone lang gange met dik matte, alles onder een dak, is die kamers by Pearl Valley in tien aparte dubbelverdiepinggeboue rondom die swembad en Back’s Restaurant and Deli gerangskik. Die verskillende geboue is dan met buitelugpaadjies aan mekaar verbind wat lekker oop spasies en vars lug beteken — ideaal in die Covid-wêreld waarin ons leef.

Foto: Adriëtte le Roux

Daar is gesinseenhede met twee slaapkamers en ’n lekker stoep, asook ruim eenslaapkamer-eenhede, en al die kamers het basiese geriewe vir daardie eerste koppie koffie in jou kamer. Met aankoms is daar vir ons ’n komplimentêre bottel Val de Vie-olyfolie en ’n bottel witwyn (op ys!) reggesit wat ons ekstra welkom laat voel. Die kamer is elegant versier met geen onnodige of oordadige versierings wat jou aandag van die skoon lyne, netheid en gerief kan aflei nie, en alles het sy plekkie. 

Foto: Voorsien

Hoewel daar DStv, WiFi, lugversorging, ’n lekker diep bad en ’n groot balkon met ’n uitsig oor die gholfbaan is wat ons langer in die kamer sou kon hou, besluit ons om die meeste uit ons besoek te put en die besienswaardighede op die Val de Vie-landgoed langsaan te gaan verken. Eers maak ons ’n draai by nóg ’n Back’s Deli aan hierdie kant van die landgoed wat propvol gesonde voedselopsies, organiese groente en vrugte en interessante souse en sjokolades is, dan koop ons elkeen ’n warm drankie by Fleet Coffee Roastery waarmee ons deur die kwekery en groentetuin op die perseel kan wandel.  

Foto: Adriëtte le Roux

Langs die kwekery in die ou L’Huguenot Vineyards wynproelokaal is Wijn, ’n splinternuwe bistro en wynkroeg in ’n Europese styl waar uitgesoekte boetiekwyne en fynproewerskos toeganklik vir my en jou gemaak word. Moenie dink dié bistro is slegs vir Val de Vie-inwoners nie: jou volgende romantiese aandjie, somer-stoepkuier of wynproesessie móét eenvoudig by Wijn gehou word. Soos die hoof-sjef, Bruce, en die eienaar, Dries, by ons aansluit en ons aan sowat vyf geregte (die een so betowerend soos die ander) en vyf uitstekende boetiekwyne smul, loop die middag onder ons uit.

Foto: Adriëtte le Roux

By Wijn leer jy wynproe soos nog nooit tevore, met selfsorg-wynkroegies en kleinmaat-boetiekwyne wat jy nie in enige ander winkel sou kry nie. Anders as by ander restaurante word die kos hier deur die wyn geïnspireer; tog steek Bruce se spyskaart, wat al om die ander week verander na gelang van seisoenale bestanddele, glad nie af nie. Die merkwaardige spyskaart bevat ’n mengsel van Franse fynproewerskos en Asian Fusion-kookkuns, altyd met ’n Suid-Afrikaanse kinkel, en jy kan met oorgawe weglê. 

Foto: Adriëtte le Roux

Ons keer eers laatmiddag terug kamer toe en geniet ’n rustige kuiertjie op die balkon wat ’n uitsig oor die gholfbaan bied voor ons vir aandete in die klubhuis se restaurant gaan aansit. Hier geniet ons ’n voorgereg van sushi, gevolg deur ’n smaaklike spaghetti bolognese en keer dan terug kamer toe om tussen kraakvars linne in te klim en ’n fliek of twee in die privaatheid van ons elegante kamer te kyk.  

Foto: Adriëtte le Roux

Die Back’s Deli and Restaurant in die middel van die hoteleenhede verwelkom ons die volgende oggend vir ontbyt — ingesluit by jou prys wanneer jy by die Pearl Valley Hotel bespreek. Dit is nie lank nie, of die geurige ontbyt wat met kwaliteitbestanddele voorberei is noop ons om ook ’n paar van Back’s se deli-kosse in ’n mandjie te plaas sodat ons verder by die huis kan smul. Van varsgebak, tot gehaltevleis en -wyn, Back’s en Val de Vie komplementeer mekaar uitstekend, want albei spreek van kwaliteit. 

Foto: Voorsien

En dit is dan so, met ’n paar wegneemstukkies van Pearl Valley op die agterste sitplek, dat ons weer tussen die wuiwende fynbos deurry, uitgerus en vernuwe ná ’n goeie nagrus en ’n oggend vol van die reuk van varsgesnyde gras.

Foto: Adriëtte le Roux

Hooffoto: Voorsien deur Pearl Valley Hotel by Mantis

Baie dankie aan die Pearl Valley Hotel by Mantis en Wijn Bar se gasvryheid.