Riversdal is vir baie mense net ’n naam op ’n bord langs die N2, maar dié dorpie is ’n versteekte juweel wat vir geen verkenner terugstaan nie. Die dorpie vorm deel van die Hessequa-streek wat van die Breederivier in die weste na die Gouritsrivier in die ooste en vanaf die Langeberge agter Riversdal tot by die Indiese Oseaan strek. Dié streek is ook bekend as die ‘Explorer’s Garden Route’, aangesien dit die ingang na die gewilde Tuinroete is. Riversdal is egter meer as net ’n koffiestop op pad na Knysna of Plettenbergbaai. Hiér kan jy opwindende staproetes, geskiedkundige geboue en hul stories, plaaslike kuns en egte, plattelandse gasvryheid verwag. 

LekkeSlaap het die Kaap verlaat, op die N2 geklim en by die Riversdal-padteken afgedraai. Met behulp van Hessequa Toerisme kon ons die dorpie behoorlik verken en eerstehands uitvind waarom jy óók die afdraai moet vat. 

Reis na gister 

Besoek die Ou Tronk vir ’n plaasontbyt en ’n goeie storie 

Die Ou Tronk is een van die oudste geboue in Riversdal. Die oorspronklike gedeelte is in 1838 gebou en eers as ’n handelstoor gebruik, waarna dit deur die staat gekoop is en as polisiekantoor, hofsaal en tronk ingespan is. In 1899 vind die eerste en (gelukkig) enigste teregstelling in die dorp hier plaas. Die galg moes met ’n ossewa al die pad van Swellendam af kom om die skuldige, Gilbert Hay van Heidelberg, vir sy ma se moord te hang. Hay se laaste brief, waarin hy skuld beken, is beskikbaar vir besoekers om te lees, maar wees gewaarsku, die storie en die galg in dieselfde vertrek is ietwat spookagtig. Dit sal beslis ’n rilling of twee by jou ruggraat afstuur. 

The Old Jail Coffee Shop, Riversdale
Die Old Jail Coffee Shop is die perfekte plek om te stop vir ’n koffie en interessante stories.

In 1979 word die tronk in die huidige eienaar se pa, Matthys Koen, se naam geregistreer en in 2009 word die tronk amptelik as ’n koffiewinkel bedryf. Vandag spog elke sel met ’n kunsvlytwinkeltjie en oudhede. Ons gunsteling-sel is die “Gifkamer”, want dié se storie het nogals opspraak gewek. Die sel was vir jare as ’n stoorkamer vir dodelike wolwegif gebruik, maar die huidige eienaar, Louise Malherbe, kon nie daarvan ontslae raak nie, weens die streng maatreëls vir gifverwydering. Iemand in die dorp het van die gif te hore gekom en die media in kennis gestel. Die storie het ’n groot herrie veroorsaak en mense was in rep en roer oor die gifstowwe wat kwansuins “saam met die kos bedien kan word” – dit was natuurlik glad nie die geval nie! Só is die “Gifkamer” gebore en die Ou Tronk het nóg ’n lekker storie bygekry. Vir dié wat wonder, die gif is toe verwyder!

Die Ou Tronk se selle spog nou elk met ’n kunsvlytwinkeltjie en antiekeware. Die “Gifkamer” is aan die linkerkant.

Vir ons is die koffiewinkel se kaggel die perfekte plek om met ’n koppie tee te ontspan en Maggie, wat al amper elf jaar by die tronk werk, bedien die beste wortelkoek op die dorp. Maak gerus hiér ’n draai en as jy gelukkig is, sal die twee huiskatte, oftewel tronkkatte, ook ’n draai kom maak. 

’n Skatkis van geskiedenis by die Julius Gordon Africana-sentrum

Ons het beslis nie verwag om so baie in net ’n uur en ’n half te leer met ons besoek aan die Julius Gordon Africana-sentrum nie. Tannie Louisa, die kurator, ontvang ons by die deur en nog voor ons kan binnegaan, vertel sy dat dié gebou, ook bekend as Versfeldhuis, in 1880 deur Dirk Versfeld gebou is. Julius Gordon het ’n geweldige impak op die ontwikkeling van die dorp gehad. Sonder kinders om te erf, het hy besluit om 75% van sy besittings aan die dorp te skenk.

Die Julius Gordon Africana-sentrum is ’n wonderlike plek van ontdekking en ’n goeie tentoonstelling van die Hessequa-streek se geskiedenis.

Toe Versfeld se seun dié storie hoor, besluit hy om die huis óók aan die dorp te bemaak. Daar was egter ’n paar voorwaardes. Die huis moes gebruik word om Gordon se besittings uit te stal, ’n toegangsfooi mag nie gevra word nie en dit mag nooit ’n museum genoem word nie. Volgens hom sou dorpsmense en besoekers die woord ‘museum’ met stowwerigheid en nikshede assosieer. Met dié het hy dit ’n sentrum genoem en enigeen in die dorp of elders kon enige items aan die sentrum skenk. Soos tannie Louisa verduidelik: “Op die ou end het alles en nog wat hier aangekom. ’n Absolute roesemoes van goed. Dit maak dit ’n wonderlike plek van ontdekking.”

Dié sentrum is inderdaad ’n plek van ontdekking en ons het omtrent gereis na die verlede. Wat ’n bederf is dit nie om die kuns van name soos Thomas Bowler, Jan Volschenk, Johannes Meintjes, Irma Stern, Maggie Loubser, Gregoire Boonzaaier en Erich Mayer op een plek te aanskou nie — en dis maar net ’n paar name. By dié sentrum leer ons nie net oor die totstandkoming van die dorp nie, maar ook die groter streek, provinsie en land. Tannie Louisa se kennis en stories is van onskatbare waarde en maak dié toer net soveel meer verrykend. 

Die eerste Oekraïnse museum in Suid-Afrika

Het jy geweet Suid-Afrika se enigste Oekraïnse museum is in Riversdal? Ons ook nie! Die museum vorm deel van die dorp se jeugprogram en is ook op dieselde perseel as die jeugsentrum. Die geboue is mooi helder geverf en die eerste ding wat ons oplet is ’n nuwe boompie wat op 24 Augustus 2020, die Oekraïnse Onafhanklikheidsdag, deur die ambassadeur van dié land geplant is. Ons loop deur ’n vertrek propvol vlae, nuusuitknipsels, tradisionele kleredag, speelgoed en foto’s van die Oekraïnse uitruilstudente wat Riversdal besoek het. Dié projek se doel is om wedersyds studente bloot te stel aan ’n nuwe kultuur en land. Met die huidige situasie in Oekraïne, staan die projek vir eers stil, maar die sentrum is steeds ’n goeie plek waar jy jou kennis oor die land kan opskerp en die jeugprogram kan ondersteun. Skakel die toerismeburo vooraf om ’n besoek te reël.

Die heel eerste Oekraïnse museum in Suid-Afrika.

Die Makadas-trein op die plein

Mooi in die middel van die dorp pronk ’n indrukwekkende stoomlokomotief. Dié trein rus al sedert 1981 in Riversdal toe dit van Laingsburg af arriveer het. Ná die Laingsburg-vloed daardie jaar, kon die stoomlokomotief nooit terugkeer nie. Jare later is die trein na die plein geneem en vandag kan besoekers dié stukkie industriële vakmanskap van nader bestudeer. 

Die Makadas-trein het net voor die Laingsburg-vloed in Riversdal arriveer.

Kuns en kultuur

Hessequa-kunsroete

Dis te verstane dat kunstenaars van regoor die land die stilte en asemrowende natuurtonele waarmee dié area spog, kom uitsoek. Riversdal is propvol kunstenaars en dit is juis om dié rede dat die Hessequa-kunsroete geskep is om mense bloot te stel aan die kreatiwiteit wat in die streek steek. Dié roete strek deur die hele Hessequa-streek, sowel as die Eden-distrik, en ’n handige padkaart met QR-kodes wat elke kunstenaar en hul handewerk omskryf, kan jou op die reis neem. Van olieverf, naaldwerk, beeldhouwerk en metaalwerk tot juweliersware, fotografie en pottebakkery ─ hier is iets vir enigeen wat graag wil hê die kreatiewe gogga moet byt. 

Pret en pottebakkery by The Cat’s Paw Pottery

Ons is gretig om ons hande ’n bietjie vuil te kry en woon ’n pottebakkeryklas deur Robyn Learmonth van The Cat’s Paw Pottery by. Robyn se unieke pottebakkery word deur katte en hulle manewales geïnspireer. Sy stal gereeld by kunsfeeste en markte uit en haar kenmerkende kattekuns is moeilik om te mis. Ons oe en aa lekker oor die kreatiewe manier waarop sy katte se koddige persoonlikhede met klei en verf uitbeeld. 

Robyn Learmonth van The Cat’s Paw Pottery se pottebakkery is geïnspireer deur katte en hulle manewales.

Met ons voorskootjies aan spring ons in en begin ons eie bekers maak. Dit is moeiliker as wat dit lyk, maar met Robyn wat ’n hand bysit en haar eie huiskat wat vir ’n bietjie inspirasie kom kuier, verloop dié proses seepglad. ’n Pottebakkeryklas is ’n lekker manier om ’n bietjie te ontspan en jou kreatiewe kant te vind, so skakel gerus vir Robyn om een van haar klasse by te woon. 

Pret en plesier in die natuur

Jy kan nie aan dié streek dink sonder om die indrukwekkende Langeberge en ongerepte natuurtonele voor jou te sien nie. Hessequa, wat ‘mense van die bome’ beteken, is dus ’n gepaste naam vir ’n streek wat jou bekoor met sy lowerryke landskappe. 

Sleeping Beauty-berg

Sleeping Beauty lê op die berg met haar voete na links en haar kop wat op ‘n ‘kussing’ rus. Jy kan haar sien deur na haar lang, mooi wimpers te soek.

Die mooiste vrou in Riversdal is natuurlik Sleeping Beauty wat elegant bo die dorp op die berg rus. Die Sleeping Beauty-berg, met haar gevoude hande en lang wimpers, kan vanaf die meeste plekke in die dorp gewaar word, maar jy kan haar ook van nader aanskou deur die Sleeping Beauty-voetslaanroete vanaf die tolhis op Garcia’s-pas aan te pak. 

Garcia’s-pas

Die beste manier om ’n area te sien is natuurlik van bo af. Die Garcia’s-pas is 11,7 kilometer lank en bied panoramiese uitsigte oor Riversdal en die omliggende area. Ons was stomgeslaan deur die majesteuse berge, heldergeel kanola en grasgroen lande net waar jy kyk. Daar is genoeg plekkies om langs die pad te stop, so maak seker jou kamera of selfoon se battery is gelaai en laat waai met die foto’s. ’n Mooier agtergrond vir jou gesinsfoto gaan jy nie sommer kry nie!

Die Garcia’s-pas is 11,7 kilometer lank en bied panoramiese uitsigte oor Riversdal en op die omliggende berge.

Korentepoortdam

Die indrukwekkende Korentepoortdam is ook op ons lysie van plekke om te sien. Dié dam is so mooi dat ons sommer twee keer daar gaan draai! Die Korentepoortdam word deur die mooiste bome en berge omring en op ’n windstil dag lyk dit amper onwerklik van waar ’n mens op die oewer staan, die landskap perfek gereflekteer in die dam. 

Van visvang en kanovaarte tot dam-ski vir die meer avontuurlustiges, jonk en oud kan hul gate uit geniet by die Korentepoortdam.

Korentepoort is net so ’n entjie buite die dorp en alhoewel ons dit in die winter besoek, kan ek net dink hoeveel pret en plesier dié dam waterliefhebbers in die somer gee. Van visvang en kanovaarte tot dam-ski vir die meer avontuurlustiges, hiér kan jonk en oud hul gate uit geniet. Vir dié wat graag langs die dam wil wakker word, is daar rustieke huisies op die oewer wat vir selfsorg toegerus is en met lekker braaigeriewe spog.

Iets te drinke en te ete

Trends Café

Trends Café poog om ’n unieke, gesonde element na bekende, sowel as eksotiese disse te bring.

As jy lus is vir plaaslike kos met ’n fynproewersstyl, dan móét jy Trends Café in Mitchell-straat besoek. Dié restaurant is sentraal in die dorp en bedien ontbyt en middagete, sowel as aandete op Donderdae en Vrydae. Moonyeen Stander en Lumari van der Vyfer is aan die stuur met Lumari wat in die kombuis ’n kunsvorm van kook maak. Trends poog om ’n unieke, gesonde element na bekende, sowel as eksotiese disse te bring. Die poké bowl is ’n heerlike dis ryk met kleure en geure en die lamborek was uitsonders met die sagste lamsvleis in filodeeg.

Ons beveel die poké bowl en lamborek aan.

Moenie van die koffie vergeet nie! Trends gebruik Brothers-koffiebone en hul koffie is net wat jy nodig het voor jy die res van die dorp verken. Gryp sommer ook ’n stukkie tuisgebak op pad uit! 

Ikigai

Ikigai bedien heerlike koffie en lekker vars, plaaslike disse.

Ikigai is gerieflik langs die N2 geleë. Dié koffiewinkel se naam beteken “’n rede om te bestaan”, met ander woorde, die rede waarvoor jy opstaan in die oggende. As koffie die ding is wat joú in die oggend aan die gang kry, skryf Ikigai se naam neer, want dié plekkie het ’n besonderse atmosfeer en die lekkerste, varsste koffie. 

Die vars vrugtesap en mozarellakaas-en-biltong broodjie is uit die boonste rakke!

Wees egter verseker dat Ikigai meer as net ’n koffiestop is. Dit spog met unieke, stylvolle dekor, ’n spyskaart met vars geregte en ’n versameling handwerkprodukte van plaaslike kunstenaars en besighede. Ons geniet heerlike, vars vrugtesap, ’n slaai propvol groente en ander lekker dinge, en ’n geroosterde toebroodjie met biltong, mozarella-kaas en ’n uie-marmelade wanneer ons hier draai — dit proe soos nog!

Baleia Wines

Baleia Wines se proelokaal is net so ’n entjie buite die dorp, langs Bali Trading. Wynmaker Gunter Schultz vertel ons meer van Baleia se storie en sy unieke benadering tot wynmaak — dít alles langs ’n kaggelvuurtjie wat heerlik knetter. 

Baleia Wines is net so ’n entjie buite die dorp en spog met heerlike wyne en ’n lekker proelokaal.

Baleia beteken walvis in Portuguees en die naam werk mooi saam met die kelder se storie. Gunter verduidelik dat die wingerde in die St. Sebastiaanbaai-area geplant is en dié area is bekend as die walviskleuterskool van Suid-Afrika. Die ligging bied ook wingerde wat deur klipharde grond en steen moet groei en deur koue, stormagtige weer sterk moet staan. Die resultaat is iets wat ek nog nooit ervaar het nie — vir iemand wat haar lewe lank in die Kaapse Wynlande woon, dink ek dit sê nogals baie!

Baleia Wines se Tempranillo en Vinhos Rochas is sterk aan te beveel en dié wyn weerspieël die mineraliteit van die wyn se terroir.

Ons wynproe is informeel en vol geselsies oor die area en sy vriendelike mense. Gunter vertel ons van die eksperimentele wyne wat hy al in die kelder se amphora- en terracotta-potte laat verouder het en dis duidelik dat dié wynmaker ’n ingebore passie het. Ons proe die hele Casa de Baleia-reeks en word selfs met ’n proe van die Limatados-reeks bederf. Die Chardonnay en Deborah Rosé is ’n gunsteling vir almal, maar die Tempranillo en Vinhos Rochas is iets werklik besonders en weerspieël mooi die mineraliteit van die wyn se terroir. Hulle is só geliefd, ’n paar bottels kom sommer saam terug Kaap toe. 

Hiér moet jy jou skoene kom uitskop

Videira-on-Mitchell

Videira-on-Mitchell is ’n knus kothuis wat sentraal in Riversdal geleë is.

Ons is gelukkig genoeg om dié plekkie as ons tuiste tydens ons besoek aan Riversdal te hê. Meer sentraal kan jy beslis nie kry nie, en die selfsorgkothuis is stapafstand van so te sê die hele dorp af. Sy moderne afwerkings en mooi dekor, sorg dat dié kothuis ’n gerieflike tog huislike atmosfeer het. Daar is twee en suite-slaapkamers, ’n klein sitarea en ’n kombuisie waarin jy maaltye kan voorberei. Selfs die fynste detail is aan gedink en ons het niks tydens ons verblyf gekort nie. Die elektriese komberse was heerlik vir koue aande en Trends Café is sommer net oorkant die pad as jy lus kry vir ’n soetdingentjie of ’n vinnige koffie. 

Oudebosch Mountain Escape 

Oudebosch Mountain Escape bederf jou met ’n rustige wegbreek in die berge en jy kan selfs kleinwild sien.

Die naam sê alles. Oudebosch Mountain Escape is jou toevlug in die berge waarna jy al vir maande soek. Die eiendom is net so ’n entjie se ry vanaf die Korentepoortdam en bied die allermooiste uitsig op die berge, oor die fynbos en die wild wat daar wei. Die stilte raas behoorlik en die swembad en bomabraai het my laat wens dit was somer. Verblyf is in chalets beskikbaar wat goed vir selfsorg toegerus is en elk ook hul eie braaiplek en uitsig op die berg het. Ons sien kleinwild op ’n heerlike wildrit. Die springbokkies pronk al te oulik vir ons en die sebra is glad nie skugter vir ’n fotosessie nie!

Vir ’n stadsjapie is die stilte van Riversdal vreemd, maar heerlik, en die plattelandse vriendskap en gasvryheid los iets by my wat ek weer wil najaag. Ons kuiertjie is kort en die lang lys van dinge in Riversdal om te sien en te doen, vereis beslis meer tyd. Ons kan met vertroue sê dat dié dorp ver meer as net ’n naam op ’n bord langs die N2 is. 

Voor ons die pad huis toe neem, stop ons by Riversdal se nuwe muurskildery by die dorpsbiblioteek. Dié helder skildery deur Marilise Lombard, ’n plaaslike kunstenaar, bied die perfekte plek om ’n kiekie of twee te neem.


Vinnige feite

Kruideniersware: Pick ’n Pay en Spar

Toerisme: Hessequa Toerisme

Korentepoortdam: Toegangsfooie vir dagbesoekers 

Hessequa Art Route: Selfbegeleide toer met pamflette wat by die Julius Gordon Africana-sentrum beskikbaar is. 

Baie dankie aan Riaan Malan van Hessequa Toerisme vir die reëlings, die Old Jail Coffeeshop, Trends Café en Ikigai vir heerlike etes, en Lindi Joubert van Videira-on-Mitchell vir ons verblyf.

Alle foto’s: Adriëtte Le Roux en Nina Fouché


Lees ook:

Só bly jy besig in Stilbaai

Reis na gister: Die Albertinia Hotel en ander verhale

Hessequa: Die Tuinroete sonder die skares