Klipmure wat meer as ’n eeu oud is, ’n skatkis vol staaltjies wat daaragter skuil en ’n spyskaart wat by enige toprestaurant kan kers vashou ─ dís wat jy by die Albertinia Hotel kan verwag! Die son trek al water toe ek en Schalk Albertinia binnery. Die dorpstrate is verlate so op ’n Vrydagagtermiddag en ons besluit om eers rond te snuffel voor ons by die hotel inklok.

Dié Tuinroete-dorpie se NG Kerk vang dadelik die oog en ons vind uit dat dit in 1904 voltooi is nadat die bou daarvan deur die Anglo-Boereoorlog onderbreek is. Albertinia is dan ook na ’n eertydse leeraar, ds. Albertyn, vernoem wat diep spore in die gemeenskap getrap het.

Ons maak ’n draai by Albertinia se gholfklub wat uit 1929 dateer en een van die enigste gholfbane in Suid-Afrika is wat sandsetperke het. Boonop is dit hiér waar die Suid-Afrikaanse kampioengholfspeler, Louis Oosthuizen, se verhaal begin en die gholfklub het ’n bruggie op die negende putjie na hom vernoem nadat hy die Britse Ope verower het.

Van buite is die Albertinia Hotel ’n tipiese hotel op ’n klein dorpie.

Dan hou ons voor die Albertinia Hotel stil ─ ’n versteekte enkelverdiepinggebou wat met die eerste oogopslag nie noodwendig aan ’n hotel herinner nie, maar die uitnodigende binnehof met ’n buitelug-eetarea en beskutte stoep laat jou onmiddellik tuis voel. Ons stap die ontvangsarea binne en ontmoet vir Ingrid wat ons help om in te klok en ons ons kamer gaan wys. Die hotelkamer bied alles wat ’n mens tydens ’n naweekbesoek benodig en ek skakel dadelik die waaier aan om die Tuinroete-hitte effens draagliker te maak.

Dis hier, in die hotel se eetkamer, waar ons die aand aan die heerlikste maaltye weglê.

Ná ’n lang dag op die pad vanaf Stellenbosch en ’n opwindende wildrit by Garden Route Game Lodge, is ons nogal honger en ons reël met Ingrid om aandete in die hotel se eetsaal te nuttig. Om 19:00 is ons alleen in die eetsaal ─ ’n gesellige vertrek met ’n kaggel en tafels wat elegant gedek is. Country-musiek speel in die agtergrond en dra by tot die ouwêreldse atmosfeer wat orals in Albertinia te bespeur is. Ek het verwag dat die spyskaart uit ’n paar tradisionele disse sou bestaan, maar tot my groot verbasing bied die hotel iets van alles ─ van knoffelslakke, kerrievis en ’n biltong-en-bloukaasslaai tot allerlei pizzas en selfs ’n kinderspyskaart. Schalk besluit om die eisbein met fynaartappel, patat en sous te probeer en ek bestel ’n mandjie met samosas, Chinese rolletjies, hoendervlerkies en skyfies. Die kos word vinnig bedien en ons smul soos konings!

Die hotel se kroeg, Koringdraai, is een van die plekke waar jy die dorp en hotel se staaltjies kan hoor.

Ons loer ná aandete by Koringdraai in en bestel drinkgoed. Dié hotelkroeg het ’n lekker lang toonbank waarop jy jou elmboog met ’n bier in die hand kan laat rus ná ’n dag se swoeg en sweet. Die dorp se geskiedenis versier die kroegmuur en die kroegman vertel ons waar die kroeg se naam vandaan kom ─ ek gaan dit egter nie hier verklap nie, jy sal maar self moet gaan hoor! Ons geniet die drankies en hou die Superrugbywedstryd saam met ons medekroeggangers dop. Dan oorval die vaak my en ek besluit om te gaan inkruip ─ Stilbaai wag immers die volgende dag!

Saterdagoggend is ons vroeg uit die vere en ons vat die R305-afrit na Stilbaai waar ons die dag gaan deurbring. Ons reisplan is propvol en sluit palingvoer by Blombos Museum, ginproe by die Inverroche-distilleerdery en ’n besoek aan Kasselshoop Cheese en Oudewerfskloof in.

Dis al donker toe ons weer die R305 na die Albertinia Hotel neem. Die ervaring in Stilbaai sal my altyd bybly, veral weens die Stilbaai Toerismeburo se puik reëlings, die gasvryheid waarmee ons ontvang is en die herinneringe uit my kinderdae-vakansies op dié kusdorp wat opnuut in my hart kom nesskrop. Ná die besige dag is ons egter te moeg om weer in die kroeg te kuier en dis reguit droomland toe vir ’n salige nagrus terwyl ’n reënbui die aarde afkoel.

Die hotel se ontbythoekie bied houtstofie-hitte en ’n heerlike buffet-ontbyt.

Sondagoggend bederf Ingrid en haar span ons met ’n volledige ontbyt ─ spek, eiers, roosterbrood, vrugte, koffie en vrugtesap. Die ontbythoekie is deeglik voorberei en ons kies ’n tafel teen die venster om die oggendsonnetjie te benut. ’n Sestal gaste sluit ’n rukkie later ook aan om ontbyt te geniet en die eetarea word in ’n geselligheid omtower.

Ons eet klaar en het uiteindelik ’n oomblik om rustig deur die hotel se aandenkingsboeke en versamelstukke, wat in die ontvangsarea uitgestal word, te blaai. Ingrid het Vrydag vlugtig na oom Jantjie ─ die dorp se oudste inwoner ─ verwys en uit die boeke kry ek ’n beter blik op wie dié oom nou eintlik is: Jan Gabriel Horn, gebore 1923, is ’n oudjoernalis en vandag steeds ’n aktiewe lid van die Albertinia-gemeenskap. Hy het verskeie versamelboeke vol koerantberigte en kortverhale uit sy pen aan die hotel geskenk en titels soos Alledaagse Vroue Bestuur, Die 16 Wonders van Albertinia, Vloek van Boesmanskloof en Oom Wollie se Affêres vang my oog.

Die vriendelike Ingrid op haar pos by die ontvangstoonbank.

Die tyd vlieg terwyl ek met my neus in die boeke sit en om 10:00 moet ons groet. Ek het egter nêrens iets oor spoke in die hotel raakgelees nie en net voor ons uitklok, knoop ek eers ’n geselsie met Ingrid aan om uit te vind of daar wel ’n verlore siel of twee in die hotel woon ─ haar antwoord laat ’n koue rilling langs my ruggraat afgly. “O ja, beslis ─ hier dwaal ’n hele paar!” Sy vertel ons van ’n gereelde gas wat ná sy eerste besoek weier om weer in ’n spesifieke kamer te slaap omdat dit glo “te besig” is. Die verhaal van ’n paartjie wat ’n huis op die dorp wou koop, maar ná hulle ervaring in die hotel besluit het om eerder elders eiendom aan te skaf, laat my hare behoorlik rys. Ingrid vertel ook van haar eie ervarings wanneer sy iemand in die kombuis hoor werskaf, maar sodra sy daar kom, is daar niemand nie. Dan is daar die verhaal oor gaste wat alleen in die eetsaal was en die hotelbestuurder ná ete bedank het vir die aangename mense wat saam met hulle geëet het. (Was ons Vrydagaand werklik die enigste gaste in die eetsaal?!)

Die indrukwekkende uitsig vanaf die staproete na die Kaap St. Blaize-vuurtoring.

Op daai aardige noot klok ons uit, maar die Kaap lê nog ver en ons skuif die roete huiswaarts eers opsy. Ons klim op die N2 in Mosselbaai se rigting en vyftig kilometer verder hou ons in dié gewilde vakansiedorp stil. Die klam seelug kleef aan ons gesigte en ons gewaar die vierkantige wit Kaap St. Blaize-vuurtoring wat bo die Indiese Oseaan uittroon. Ons besluit om litte los te maak deur die steil kranstrappe na die grot en vuurtoring, wat uit 1864 dateer, aan te durf. Ek is egter nie heeltemal op dié uitstappie voorbereid nie en my plakkies gaan nie die mas opkom nie. Gelukkig is daar verskeie uitkykpunte onderweg en ons gaan staan by die volgende een om te kyk hoe ’n adrenalienvraat die nuwe een kilometer lange kabelgly-avontuur oor die ontstuimige see beproef ─ dis beslis nie vir sissies nie!

’n Buiteaansig van die Bartolomeus Dias Museumkompleks.

Al die stories oor toeka se tyd laat ons soos ontdekkingsreisigers voel en in hierdie geval is daar net één plek om te besoek ─ die Bartolomeus Dias Museumkompleks! Ek was self nog nooit hier nie en ons koop kaartjies vir die volledige toer. Ons stap deur die museum se hoofgebou en merk ’n klompie muurskilderye van destydse slawe aan wie die maande van die jaar as vanne toegeken is toe hulle eeue gelede in die Kaap voet aan wal gesit het. Die mini-akwarium trek ons aandag en hiér sien ons ’n reuse-krap en reënboogvisse wat grootoog na ons loer.

’n Oulike vissie in die museum se akwarium blaas vir ons soentjies.

Die museumbesoek se hoogtepunt is egter die Bartolomeus Dias-gebou waar ’n replika van dié Portugese seevaarder se skip, die Dias Caravel, uitgestal word. Dias het in 1488 om die mees suidelike punt van Afrika gevaar om ’n alternatiewe roete na die Ooste te vind en het Mosselbaai in die proses ontdek. Ons bestyg die skip soos matrose van ouds en die houtvloerplanke kraak met elke tree. Daar is ’n steil houtleer waarteen ’n mens kan opklim om die boot se agterkant te verken en ’n nóg steiler leer wat onder na die kajuit lei. Hiér kan jy sien hoe die matrose se slaapkwartiere en kombuis gelyk het, maar engtevreeslyers moet liefs versigtig wees!

Die hoogtepunt van ’n besoek aan dié museum is die replika van Dias se karveel.

Op pad uit staan ons ’n oomblik by die beroemde posboom stil ─ ’n melkhoutboom wat meer as vyfhonderd jaar oud geskat word en vermoedelik die boom is waaronder Portugese reisigers boodskappe vir mekaar gelos het.

Die Blue Shed Coffee Roastery net voor die reënbui uitsak.

Ons sluit ons Tuinroete-toer met ietsie soets by Blue Shed Coffee Roastery naby die museum af. Dié selfhelp-koffiewinkel is woelig en die motreëntjie wat onverwags begin neersif, dwing almal om binne te sit. Ek laat nie die kans om aan ’n stukkie suurlemoentert te knibbel verbygaan nie en Schalk het sy oog op ’n sny aarbeikaaskoek.

Binne in die helder restaurant lê ons aan aarbeikaaskoek en suurlemoentert weg.

Vader Tyd wag egter op niemand nie en ons moet die pad huis toe vat. Ons ry weer deur Albertinia en is skielik in die middel van ’n wolkbreuk ─ ’n natuurverskynsel wat dié area al lank broodnodig het. Die koeler weer maak die lang rit makliker en ons laat ’n naweek vol soete herinneringe in die truspieëltjie met die wete dat ons sal terugkeer.

So, wanneer jy weer op die N2 klim en inderhaas deur Albertinia onderweg na jou vakansiebestemming op die Tuinroete jaag, druk jou voet ’n bietjie swaarder op die rempedaal en kyk rond ─ dié aalwyndorpie is beslis nie net ’n deurry-plek nie.


Baie dankie aan die Albertinia Hotel se personeel vir al die bederf ─ ons het dit terdeë geniet om daar tuis te gaan!

Hooffoto en alle ander foto’s deur Schalk Schreuder.