Daar is niks wat jou só lekker laat ontspan soos om langs die water te sit nie. Die kalmerende effek van ’n rivier wat kabbel of ’n dam met al sy voëlgeluide laat jou vinnig van die stad se geraas vergeet, en daarom het LekkeSlaap ’n lys van tien waterwegbreke naby Johannesburg en Pretoria opgestel sodat jy sommer binnekort in jou kar kan spring en uit die stad ontsnap. Laai sommer jou visstok ook in en moenie jou verkyker vergeet nie! 

Riverside Farm

Witbank

Net 24 kilometer buite Witbank wag Riverside Farm op julle. Dié troeteldiervriendelike selfsorghuis bied slaapplek aan agt gaste en is die ideale wegbreekplek vir ’n groep. Dit is op die oewer van die Olifantsrivier en die Witbankdam en het toegang tot ’n gedeelde sleephelling waar julle ’n boot te water kan laat. Daar is ook wild wat vrylik op die landgoed rondloop, so julle kan die natuurskoon op sy beste hier geniet. 


Zeekoelodge

Vanderbijlpark

As julle op soek is na ’n lekker visvangbestemming naby Johannesburg, dan is Zeekoelodge naby Vanderbijlpark nét die plek vir julle. Dié lodge bied verskeie selfsorg-eenhede van verskillende groottes, insluitend ’n tenthuis met direkte toegang tot die rivier. Julle kan kunsvlieghengel en baarshengel in die Vaalrivier en watersport geniet. 


Fly Fishing Paradise

Parys

Fly Fishing Paradise bied grasdakeenhede en houthutte op die Vaalrivieroewer naby Parys. Die grasdakeenhede bied selfsorggeriewe en elkeen lei na ’n stoep met braaigeriewe. Die houthutte is ook vir selfsorg toegerus en julle het toegang tot die gemeenskaplike swembad en houtvuurwarmbaddens op die perseel wat vooraf bespreek moet word. Troeteldiere is welkom indien dit vooraf gereël word. 


Parys Golf and Country Estate 2911

Parys

Is jy ’n gholfliefhebber wat op soek is na ’n rustige wegbreekplek buite die Goudstad? Parys Golf and Country Estate 2911 is ’n ruim en luukse selfsorghuis vir agt op ’n eiland op die Parys Gholflandgoed. Die landgoed grens aan die Vaalrivier en die huis se tuin lei na die rivier. Daar is ook ’n swembad op die perseel as julle nie in die rivier wil baljaar nie. 


Fish Eagle Log Cabin

Potchefstroom

Dié selfsorghouthut is ideaal vir agt gaste wat in die Vaalrivier wil gaan hengel of net vir ’n naweek uit die stad wil wegkom. Dit skuil op ’n plaas in Potchefstroom en die omgewing bied ongelooflike sterrekykgeleenthede. Die huis spog met ’n klipkaggel in die leefarea en hoofslaapkamer en maak van sonkrag en gas gebruik. Daar heers ’n rustige atmosfeer, so dis die ideale plek om af te skakel na ’n besige week. 


The River Cottage

Potchefstroom

Jy kan nie nader aan die Vaalrivier as The River Cottage kom nie. Dié selfsorgkothuis is geskik vir ses van julle en is aan die Vrystaat-kant naby Potchefstroom geleë. Die kothuis is baie netjies ingerig en spog met luukshede vir ’n ongelooflike wegbreek. Die stoep het braaigeriewe, ’n swembad en natuurlik ’n uitsig oor die rivier, en daar is ’n massiewe grasperk waar julle kan ontspan en oor die water tuur. 


Finfoot Lake Reserve

Brits

Bederf vir ’n slag jouself en jou geliefde en gaan kuier by Finfoot Lake Reserve langs die Vaalkopdam in Brits. Dié luukse lodge bied ’n verskeidenheid chalets, tente en ’n selfsorgvilla vir ’n groter groep. Daar is twee swembaddens, ’n lapa en ’n eetarea op die perseel en julle kan kanovaar, visvang en bootvaar in hierdie pragtige omgewing. Wildritte en begeleide staptogte is ook beskikbaar.


Twin Greens

Broederstroom

Hierdie luukse vakansiehuis is op die oewer van die gewilde Hartbeespoortdam en is die ideale plek vir ’n groep van twaalf! Dis op die Pecanwood Landgoed met ’n gholfbaan, ’n spa, gimnasium, staproetes, restaurante en tennisbane. Die ruim huis is baie gerieflik ingerig en spog selfs met ’n Jacuzzi. Julle kan ook julle troeteldiere saambring indien dit vooraf gereël word. 


Teen die Water

Vanderbijlpark

Teen die Water is die perfekte verblyf op ’n kleinhoewe naby Vanderbijlpark vir ’n groep van twintig gaste! Die huis is geskik vir twaalf gaste en die woonstel is geskik vir agt gaste. Die kombuis is met oorgenoeg kookgerei vir al die gaste toegerus en daar is ’n lieflike kuierarea met ’n kroeg, pooltafel, tafeltennis en ’n veerpyltjiebord. Daar is ook ’n lapa en braaigeriewe langs die rivier en ’n Jacuzzi met sitplek vir tien. Julle is welkom om julle eie boot saam te bring om die Vaalrivier te verken en vis te vang. 


River Lodge 33

Parys

Net ’n uur buite Johannesburg wag River Lodge 33 op julle. Dié pragtige selfsorghuis bied slaapplek aan agt gaste en skuil op die Vaalrivieroewer tussen Parys en Vanderbijlpark. Die groot stoep bied ’n lekker kuierarea met sonstoele, ’n swembadjie en braaigeriewe en daar is gemeenskaplike tennisbane op die perseel. 


Kry jou visstok, sonroom en hoed gereed en bespreek sommer vandag nog jou volgende wegbreek langs die water! 

Hooffoto: Zeekoelodge