Smag jy na die geswoeg en gesweet op ’n lekker staproete terwyl jy jou aan die natuurskoon verkyk? Dalk ’n dagroete wat oor koppies kronkel, of ’n uitdagende bergroete wat jou ’n paar dae neem om te voltooi? As ’n mens aan Gauteng dink, is ’n staproete nou nie juis die eerste ding wat jy daarmee sal assosieer nie, maar jy sal verbaas wees ─  in dié blog wys ons jou ’n paar staproetes naby die Goudstad, waar jy ná ’n lang werksweek ’n bietjie asem kan gaan skep en die betonoerwoud vir ’n paar klipperige koppies, goudgeel grasvelde, blou lug en goeie geselskap kan verruil.

Korter roetes:

Sable Ranch Trails

Sable Ranch hiking
Foto’s: voorsien deur Sable Ranch

Sable Ranch is langs die R96 naby Hekpoort in die Magaliesberge, net sowat 25 minute se ry buite Johannesburg geleë. Ons stel voor jy bespreek sommer een van die troeteldiervriendelike gastekamers by Sable Ranch, sodat julle meer as een van die staproetes op die perseel kan verken én salig kan slaap. Die roetes begin sommer met ’n stewige opdraand op ’n pad wat met klip geplavei is en dan in ’n geskraapte voetpad met los klippe en sand verander. Bo-op die plato is daar wildkykskuilings vanwaar julle die uitsig, voëlspesies en wildsbokspesies op die plaas kan bewonder. Hou ook langs die pad jou oë vir die vuurpylaalwyn oop wat inheems in die Magaliesburg-omgewing is. 

Waar: langs die R96 naby Hekpoort
Afstand: Daar is ’n 5 kilometer-, 8 kilometer-, 10 kilometer- en ’n 12 kilometer-staproete.
Moeilikheidsgraad: matig tot uitdagend
Koste: R70 per persoon en R30 per kind
Bespreek: Bespreek verblyf by Sable Ranch.

Euphorbia Trail

De Wildt Adventure Trails
Foto’s: voorsien deur De Wildt Adventure Trails se Facebook-blad.

Dié roete is by De Wildt Adventure Trails op Schietfontein-plaas buite Brits in die voorheuwels van die Magaliesberge geleë. Die Euphorbia-roete is ’n kombinasie van ’n paar van die ander roetes op die plaas en is ideaal vir voetslaners en velddrawwers. Dit is nogal uitdagend, maar spog langs die pad met uitstekende uitsigte, pragtige rotsformasies, ongelooflike natuurskoon en ’n uitsig oor die Hartbeespoortdam in die verte. Die eerste deel is skaduryk, maar daarna teen die berg op kan die son nogal fel skyn, so onthou jou sonskerm, hoed en genoeg water. Maak dit sommer ’n naweekwegbreek, bespreek verblyf en kuier ná die staproete lekker om die braaivleisvuur.

Waar: by De Wildt Adventure Trails net buite Brits
Afstand: 18 tot 21 kilometer
Moeilikheidsgraad: moeilik
Koste: R100 per volwassene en R60 per kind
Bespreek: 082 777 9326 of info@dewildttrails.co.za

Bokkraal Waterfall Hiking Trail

Bokkraal Waterfall Hiking Trail
Foto’s: Bokkraal Waterfall Valley

Bokkraalplaas naby Zeerust spog met ’n heerlike staproete wat al langs die oewer van ’n sytak van die Maricorivier kronkel. Die troeteldiervriendelike roete begin by ’n klein waterval en neem jou deur grasvelde en ’n leiklipgroef. Op dié roete sal jy ’n rits watervalle, poele en rotsformasies sien en eindelik by die Tufa-waterval arriveer wat vorige stappers as die hoogtepunt van dié roete beskou. Die roete is nie te moeilik nie, maar verskriklik mooi, so stap stadig en geniet dit. Bespreek sommer ook verblyf by Bokkraal Waterfall Valley op die Bokkraalplaas. Daar is drie selfsorg-chalets en twee selfsorghuise, so nooi jou vriende saam en maak dit ’n naweekwegbreek om te onthou!

Waar: By Bokkraal Waterfall Valley naby Zeerust
Afstand: 15 kilometer
Moeilikheidsgraad: maklik tot matig
Koste: op versoek beskikbaar
Bespreek: Bespreek verblyf by Bokkraal Waterfall Valley.

Langer roetes:

Karee en Magalieskrans Hiking Trail

Rustig magalieskrans hiking
Foto’s: Rustig se Facebook-profiel

Net soos die naam sê, skuil die plaas Rustig in ’n stil area in die voorheuwels van die Magaliesberge naby Hekpoort. Bespreek verblyf by Mokoya Lodge, smul aan ’n stewige ontbyt wat ingesluit is, en kies lekker vroeg koers na die plaas toe, want geen stappers mag ná 09:00 wegtrek nie. Daar is ’n rits roetes op die perseel, maar ons beveel die Magalieskrans-roete wat twee dae neem om te voltooi aan. Die eerste dag stap jy 10 kilometer na die oornaghut, en die tweede dag stap jy 3 of 8 kilometer terug na die plaas. Dit is ’n skoon en goed gemerkte roete, met ’n paar uitdagende en steil gedeeltes waar jy jou storie sal moet ken. Onthou om genoeg water saam te neem en geniet die ongelooflike uitsig! Let daarop dat geen kinders onder 13 jaar op dié roete toegelaat word nie.

Waar: Hekpoort, Magaliesberge
Afstand: 13 kilometer en 18 kilometer
Moeilikheidsgraad: uitdagend
Slaapplek: Daar is ’n oornaghut met slaapplek vir agt, elektrisiteit, water, ’n stoof, braaigeriewe, eetgerei en breekware, en een sak houtskool.
Koste: R300 per persoon vir die 13 kilometer | R350 per persoon vir die 18 kilometer
Bespreek: 011 662 2611 of info@rustig.co.za 

The Summit Trail

The Summit Trail
Foto’s: Paul Barnard

Die Summit Trail kronkel deur die Kgaswane Natuurreservaat naby Rustenburg en is baie gewild, so maak seker jy bespreek vroegtydig! Slaap by Terra Casa naby die reservaat se ingang en begin die eerste dag so vroeg moontlik by die Witkruiskrans-kamp, want dit begin sommer met ’n steil opdraand wat moeilik sal wees wanneer die son al hoog sit. Die uitsig aan die bopunt is egter asemrowend en beslis die klim werd. Rus behoorlik by die Naga-oornagkamp en begin die volgende dag weer met ’n opdraand wat die kruin na Boekenhout Knop volg. Daarna daal jy tot in ’n kloof met rotspoele waarin jy lekker kan afkoel, voor jy weer tot op Bakenkop klim en dan eindelik weer by die Witkruiskrans-kamp arriveer. Op dié roete kan jy jou oë vir rotsformasies, swartwitpensbokke en die Tierkloof-rotspoele oophou.

Waar: in die Kgaswane Natuurreservaat naby Rustenburg
Afstand: 25,3 kilometer
Moeilikheidsgraad: uitdagend
Slaapplek: Witkruiskrans bied drie groot hutte, waarvan een ’n kombuis het, en die ander twee elkeen slaapplek vir ses het. Daar is ’n spoeltoilet en ’n emmerstort. Naga beskik oor twee slaapkamers, ’n spoeltoilet en ’n emmerstort, en bied ook slaapplek aan 12. Let daarop dat Witkruiskrans se braaigeriewe nie onderdak is nie.
Koste: R150 per persoon en ’n R40-ingangsfooi per volwassene
Bespreek: 014 533 2050 of kgaswaneadmin@nwpb.org.za

Wilde Sering Overnight Hike

De Wildt Adventure Trails
Foto’s: voorsien deur De Wildt Adventure Trails se Facebook-blad.

Dié roete is ook by De Wildt Adventure Trails buite Brits geleë. Die roete strek oor twee dae en begin op die eerste dag met 15,5 kilometer, wat uit ’n kombinasie van ’n paar van die ander roetes bestaan, en op die tweede dag durf jy die Dinaneni-roete van 11,5 kilometer aan. Die oornaghut is baie basies, so stappers moet asseblief hulle eie tent, matras, slaapsak, kookgerei, eetgerei, breekware en toiletpapier saambring. Die Bush Kitchen op die perseel kan op versoek braaipakke, piekniekmandjies en maaltye voorsien indien dit vooraf gereël word, so bespreek verblyf daar naby, steek ’n vuurtjie aan en sluit die naweek goed af.

Waar: by De Wildt Adventure Trails net buite Brits
Afstand: 27 kilometer
Moeilikheidsgraad: matig tot uitdagend
Slaapplek: Daar is ’n rustieke oornaghut met slaapplek vir 16.
Koste: R250 per persoon vir die roete en een aand in die oornaghut
Bespreek: 082 777 9326 of info@dewildttrails.co.za


Nooi jou vriende, bespreek verblyf en onthou jou hoed, sonskerm, stapstewels en genoeg water ─ die staproetes om Gauteng wag om verken te word!

Hooffoto: Bigstock