Die Kaap se somerwinde is vir sommige vakansiegangers nét te erg, KwaZulu-Natal voel soms soos ’n sauna sonder ’n deur en die wintervelde noord van die Vaalrivier is dalk net té vaal vir kranige kameramanne en -vroue. Só het elke streek maar ’n seisoen of twee wat minder vakansievriendelik is as die ander ─ of so het LekkeSlaap gedink voor ons Hogsback ontdek het. Dié hoekie van die Oos-Kaap spog met iets spesiaals in elke seisoen, van sonskyndae en donkergroen woude in die somer tot spierwit sneeu in die winter, met wynrooi- en okerkleurige herfsblare tussenin. Reis saam met ons na Hogsback en leer ’n bietjie meer oor die natuur, doendinge, eet- en blyplekke by hierdie immergroen bestemming.

 

Hogsback is in die hartjie van die Amatoleberge in die Oos-Kaap geleë en is veral bekend vir sy inheemse woude, reusagtige geelhoutbome, legio voëlspesies, watervalle, voetslaan- en bergfietsroetes, en perdrygeleenthede. 

Seisoene

Winter

Dié dorpie is bekend vir yskoue wintermaande en die kans is goed dat jy sneeu êrens tussen Junie en Augustus sal sien val. Bespreek ’n lêplekkie met ’n kaggel en pak ’n goeie bottel rooiwyn of sjerrie in. Dit klink mos nou snoesig!

A post shared by Shane Eades (@terrakhaya) on

Herfs

Kom baljaar tussen die goue blare en ruik die herfsreën wat die watervalle voed. Dié seisoen word behoorlik gevier by die Hogsback Autumn Celebration waar jy uitstappies na verskeie tuine, konserte, wynproe en praatjies kan geniet. Daar is ook ’n heerlike program vir die kinders!

Somer

In die somer wissel die temperature tussen 16 °C en 27 °C en die bome en velde is in groen getooi. Hogsback is dus ’n gematigde, skilderagtige somervakansiebestemming. So, trek aan jou baaikostuum, smeer sonbrandroom en gaan plons in een van die rotspoele.

Lente

In dié seisoen trek Hogsback sy beste baadjie aan en verras al sy besoekers met pragtige waspypies, proteas, geel irisse en klipblomme!

A post shared by Alex (@wolweaver) on

 

Voëls

Hogsback spog met ongeveer 150 voëlspesies. Hou jou oë oop vir die bruinkoppapegaaie, oranjelysters, rooibektiptolle, bosloeries, knysnaspegte en die witkoljanfrederik wat hier rinkink! Bespreek gerus ’n begeleide toer saam met voëlentoesias en -fotograaf Graham Russell as jy meer van dié pragtige geveerdes wil sien en leer.

Kontakbesonderhede: 045 962 1084 / 082 374 6583

Watervalle

Hogsback se gewildste watervalle is die Swaelstert-, Keteltuit-, 39 Trappe- en Madonna en Kind-valle en die meeste kan te voet of met jou motor bereik word. Pak sommer ’n piekniekmandjie, bring lekker leesstof saam en ontspan langs die water.

A post shared by I’M KEEN (@keenanmulvaney) on

 

 

’n Mens kan nie dié beeldskone bestemming besoek sonder om die natuur ten volle te beleef nie. Stapstewels en ’n perdrybroek moet definitief op jou onthoulysie wees.

Voetslaanroetes

39 Trappe en Arboretum:
Hierdie roete neem slegs 15 minute. Dit begin in Oak-laan en neem jou deur die arboretum tot by waterval.

Die Militêre Paadjie:
Die Militêre Paadjie van 40 minute is geskik vir beginners. Vanaf Redcoat-laan lei dit jou tot in die inheemse woud.

Madonna en Kind:
Dié roete is effens steil na onder toe indien jy die roete vanaf Wolfridge-weg neem. Daar is ook ’n langer roete vanaf Hoofweg. Albei roetes neem jou deur die inheemse woud.

Keteltuit:
Dié waterval kry sy naam by die sterk valleiwind wat die water onderskep en oor die rand van die plato terugwaai. Dit kan op verskeie maniere bereik word afhangend van hoeveel tyd jy het én hoeveel murg jy in jou pype het!

The Bluff:
The Bluff-roete neem ongeveer 45 minute en bied uitmuntende uitsigte oor die omliggende berge en dorpie.

Die Groot Boom:
Vanaf Hoofweg kan jy tot by die 800-jarige geelhoutboom in die inheemse woud stap. Hierdie roete neem een uur vir party en vyf ure vir ander.

Perdry

Die Amatole-omgewing is gemáák vir ’n saalsafari. Verken die pragtige berge en dale by Terra Khaya en Lowestoffe Country Lodge.

 

Hogsback Adventures

Hogsback Adventures is perfek vir avontuurlustige reisigers. Hier kan jy bergfietsry, abseil en boogskiet of jy kan ’n kombinasie-toer aanpak wat fietsry, abseil en voetslaan insluit!

A post shared by Heitor Pereira (@stinkpalm) on

 

The Fairy Realm

Op hierdie wandelpaadjie sien mens Patrick Smith se feetjie-beeldhouwerk. Verder is daar ook dammetjies, sagte varings, pragtige voëls en paadjies in die woud.

A post shared by Tristan (@tristanwainman) on

Eco Shrine

Eco Shrine is in 1995 deur die kunstenaar Diana Graham opgerig. Hier kan jy groot olieverfskilderye en mosaïekwerke aanskou wat kuns, natuur, wetenskap en heiligheid uitbeeld. Van dié werke het internasionale toekennings, soos die Green Dove-toekenning, ontvang.

A post shared by Karen Ross (@karen_ross15) on

 

Hiku Hikes

Beleef ’n Hiku Hike saam met die digter Silke Heiss waar jy vanaf die Swaelstertvalle se parkeerarea tot by die skilderagtige waterval self loop en langs die pad ’n gedigvoorlesing hoor en dan self die geleentheid kry om kreatief te raak met jou pen.

 

 

Maak gerus ’n draai by een van hierdie restaurante as jy heerlik wil smul:

  • Hogsback Inn | 045 962 1006
  • Butterfly’s Bistro | 045 962 1326
  • The Hog and Hornbill Pub & Grill | 073 600 4644
  • The Lighthouse Ranch | 045 962 1101
  • The Happy Hogs | 082 872 7705
  • Tea Thyme Restaurant | 045 962 1159
  • King’s Lodge Hotel | 045 962 1024

 

A post shared by Tails (@rat_tails) on

 

 

Athanor-Hogsback is gemáák vir natuurliefhebbers en avonturiers. Hier kan jy tot by die pragtige watervalle en voetslaanroetes stap, en dit is ’n lushof vir voëlkykers.

Dit was regtig die lekkerste blyplek van ons vakansie. As ons weer so ’n kans kan kry sal ons vir ’n week daar gaan bly. Alles is in die blyplek, pak net jou klere. Jy kan jou klere self daar was ook. Dis jou huis weg van jou huis en die mense daar is so vriendelik! Die omgewing is so rustig en skoon! – Schalk H.

The Edge Mountain Retreat bied die perfekte wegbreek omring deur tuine, voëls, wild, ’n labarint en voetslaanroetes.

Fantastiese wegbreek, ligging en uitsigte. Knus verblyf en die kos by die restaurant was uitstekend! – Willem I.

Bredon Self-Catering Cottage skuil op die randjie van ’n inheemse woud met ’n pragtige uitsig oor die Tyhume-vallei. Dié kothuis het knus kaggels as jy lekker saam met jou gesin of vriende wil kuier in die winter. Moet vir seker ook nie die Applegarth Kwekery en Tuin misloop nie.

Ons het ongelooflik lekker gebly. Ons sal vir seker weer gaan. Ons is omtrent bederf met wyn en genoeg hout vir die heerlike kaggels. Dit is die vriendelikste mense. – Melissa M.

Swallowtail Country Estate skuil tussen die magiese woude en natuurskoon van die Amatoleberge. Verskeie winkels, restaurante en voetslaanroetes is loopafstand van hier af.

Baie lekker gekuier saam met ons vriende, veilige, snoesige verblyf. Baie netjies. Sal sterk aanbeveel. – Tersia G.

Nibelheim Self-Catering Cottage is op ’n steilte gebou en word omring deur vrugte- en neutebome. Voëlliefhebbers kan uitsien na begeleide voëlkykuitstappies.

Ons gesin van 4 het die drie nagte hier in Nibelheim baie geniet. Die huis is baie goed toegerus. Die koue het ons glad nie afgeskrik nie. Ons het lekker kaggel gemaak en in ’n warm bed geklim met behulp van die elektriese komberse en genoeg warm water. Ons is voëlkykers en is tevrede met die hoeveelheid voëls wat ons hier kon sien. Ons sal vir seker hierdie lieflike plek kan aanbeveel. – Die Uys-gesin

Kies enige seisoen en bespreek jou lêplek in die wonderskone Hogsback!

Hooffoto: Hogsback deur kcxd (Flickr)