Die naam Baviaanskloof, afgelei van die Nederlandse “vallei van bobbejane”, laat dié Wêrelderfenisgebied beswaarlik na ’n bestemming klink waar ek myself wil bevind. Maar tog is dié streek ook die tuiste van ongerepte natuur, nou klowe, kabbelende stroompies, steil bergpasse en groot, oop vlaktes oortrek met graslande wat van die Baviaanskloof ’n stukkie hemel op aarde maak. Sewe van Suid-Afrika se biome kom in dié kloof voor en dis ook hierdie diversiteit wat dit so ’n unieke bestemming maak.

LekkeSlaap het die top-verblyf en -besienswaardighede vir oud en jonk al langs die byna 200 km lange roete gaan soek sodat jou volgende gesinswegbreek in dié paradys niks behalwe pret is nie.

Vero’s Restaurant

View this post on Instagram

A post shared by Shannon ☯️ (@shanniebags) on

Vero’s se Restaurant lê eerste op die pad. Veronica Maganie het die restaurant, een van min eetplekke in die omgewing, in 2005 oopgemaak om haar familie te onderhou. Hiér kan jy die mae vul met ’n verskeidenheid heerlike roosterkoeke, nadat die opwinding van die eerste paar kilometer in die kloof die eetlus aangewakker het.

Tel: 044 923 1918

Kunsvlytwinkel

View this post on Instagram

A post shared by Riona (@rionaarjoon) on

Na jou besoek aan die restaurant kan jy oorkant die straat gaan loer na die unieke kunsvlytwinkel wat deel vorm van die Baviaans Gemeenskapsprojek. Die winkel, wat ook self ’n kunswerk is, verkoop kunsvlyt vanuit die hele Baviaanskloof-omgewing, tuisgebakte koekies, vars vrugte en groente, gedroogte vrugte, neute, en sommer nog baie meer. Dis die perfekte plek om iets spesiaal aan te skaf waarmee jy jou Baviaanskloof-wegbreek kan onthou.

Tel: 044 923 1918

Vyeboomwoud

View this post on Instagram

A post shared by Jolandie Strydom (@blomisa) on

Sewefontein Gemeenskapsplaas spog met ’n eeue oue vyeboomwoud. Jy kan die reuse bome gedurende ’n lieflike staproete gaan bewonder, maar dis nie al nie! Die plaas het ook 7 natuurlike fonteine wat jy op die staproete kan verken, en as daar bietjie asem geskep moet word, kan jy en jou gesin lekker piekniek hou by een van die vele pieniekplekkies langs die roete.

Tel: 049 839 1180

Bo-Kloof Guest Farm

View this post on Instagram

A post shared by Joni-Leigh Doran (@jonileighdoran) on

Hiér by Bo-Kloof is daar nie net lekker doen- en siendinge om jou en die kinders besig te hou nie, maar ook gerieflike slaapplek. Gaan verken die bergpaadjies en valleie op die rug van ’n perd, of durf die gewilde Waterkloof Staproete te voet aan met jou eie vierpotige “toergids” wat die omgewing by verre die beste ken ─ Skollie, die hond.

Tel: 044 923 2192

Babes se Winkel

View this post on Instagram

A post shared by SVR (@sarahvr9) on

Babes se Winkel is een van 2 tradisionele winkels in die hartjie van die Baviaanskloof en dit dien ook as Studtis se poskantoor en die plaaslike boere se landboumark. Kom kuier by Babes en Gustav Nortje se winkel en jy sal jou in die vyftigerjare bevind. Ten spyte van sy ouwêreldse gevoel, verkoop die winkel vars produkte teen redelike pryse. As jy iets by die huis vergeet het, is Babes se Winkel die plek waar jy dit vervang. Drink sommer ook ’n koppie tee in die tuin langsaan voor jy weer die pad vat.

Tel: 011 646 8634

Baviaanskloof Guest Cottages

View this post on Instagram

A post shared by Stefan Temmingh (@stefantemmingh) on

Vir diegene wat op soek is na iets effens meer opwindend is daar ’n bergfietsroete van sowat 3 km na die “Koppie”, ’n staproete van sowat 2 km na die eeue oue rotstekeninge en nog ’n 2 uur lange staproete na “2 Klowe”. Nadat jy die omgewing platgestap of -gery het, kan jy jou moeë kop neerlê in een van die lieflike kothuise beskikbaar op die perseel.

Tel: 087 700 3551

Bavijaans Padstal

View this post on Instagram

A post shared by Maryke De Villiers (@marykedevilliers) on

Jy sal dié oulike padstal sommer by Baviaanskloof Guest Cottages vind. Kom geniet ’n heerlike ontbyt of ligte middagete voor jy jou ys, hout en blikkieskos aanvul en die pad verder aandurf. Wenk: As jy kontak met die “buitewêreld” moet maak, kan jy hiér internet-koepons koop.

Tel: 087 700 3551

Damsedrif Gasteplaas

View this post on Instagram

A post shared by Dewald Oppermann (@dewaldoppermann) on

As jy hou van ’n plek met ’n interessante geskiedenis kan jy gerus by Damsedrif Gasteplaas gaan aanklop. Daar is tientalle doendinge om op die plaas te geniet, soos fietsryroetes, 4×4-roetes en ’n voetslaanroete na die Damsedrif Kloof. Doen jouself ’n guns en gaan maak ’n draai by die Campbell Monument wat gebou is ter nagedagtenis aan dié wat nie die vloed van 1916 oorleef het nie. Damsedrif is ook die ideale blyplek om jou besoek aan die Baviaanskloof af te sluit. Hier kan jy lekker uitrus voor jy weer die pad in Patensie se rigting aandurf.

Tel: 049 839 1026

Let asseblief op die volgende:

* Permitte om die Baviaanskloof Wêrelderfenisgebied binne te gaan is by die ingangshekke te koop.

* Daar is wilde diere in die gebied – wees asb. versigtig.

* Daar is geen selfoonsein nie.

* Maak seker jy het genoeg kontant by jou – daar is geen kitsbanke nie en kaartgeriewe is slegs by sekere blyplekke beskikbaar.

* Daar is geen vulstasies in die Baviaanskloof nie – maak jou tenk in Willowmore of Patensie vol.

* Indien jy selfsorgverblyf verkies, maak seker jy het genoeg kos- en drinkgoed.

* Dit neem sowat 8 ure om deur die Baviaanskloof te ry, maar dit is beslis die moeite werd om jou besoek oor ’n paar dae uit te strek.

Daar het jy dit! As die Baviaanskloof nie op jou emmerskoplysie is nie, is dit hoogtyd dat jy dit byvoeg en jou volgende wegbreek in dié asemrowende, ongerepte Wêrelderenisgebied deurbring. Loer gerus hieronder na nog van ons top-blyplekke in die kloof:

Vaalwater Bush Camp | Duiwekloof Lodge | Baviaanskloof Adventure Camp | Die Skoolhuis

Hooffoto: Baviaanskloof Adventure Camp (LekkeSlaap)