Doer in die Klein-Karoo skuil ’n dorp met baie hart, gawe mense, interessante diere, die allermooiste natuurtonele en ’n ryk geskiedenis. Oudtshoorn is bekend vir verskeie redes en LekkeSlaap het op ’n koue wintersnaweek ’n draai in dié Karoodorp gemaak om uit te vind waaroor die bohaai gaan. Ons het omtrent soos Karoo-royalty gevoel vandat ons daar aangekom het tot ons weer met trane in ons oë vertrek het. Kom ons wys jou wat ons alles in die Volstruisparadys aangevang het ─ ek het selfs ’n drukkie van ’n volstruis ontvang! 

Uitsig by De Zeekoe Guest Farm (Foto: Daniëlle Terblanche)

De Zeekoe Guest Farm is ons tuiste vir die naweek en is sowat tien kilometer buite die dorp op ’n bees- en lusernplaas. Die rustigheid omvou jou sodra jy deur die hek ry. Ons eerste indruk is ’n hartlike verwelkoming deur die vriendelike personeel en ons word dadelik na die knetterende kaggel in die lodge se gastesitkamer geneem. Vandaar beweeg ons na die luukse kamer waar ons vir die naweek soos koninklikes gaan bly! Die uitsig op die blou berge vanaf die balkon trek eerste my aandag en ek kan nie wag om later daar te ontspan nie. 

Dié plaas is bekend vir sy unieke meerkattoere wat soggens deur Five Shy Meerkats se ervare gidse aangebied word en ons beveel aan dat jy vroeg uit die vere klim om dié lede van die Skaam 5 van nader te aanskou. Jy het die geleentheid om buite te sit en van naby te kyk hoe dié oulike diertjies uit hulle gate kruip en hul dagtake begin soos die son oor die Karoovlaktes opkom. Daarná kan jy na die restaurant op die perseel terugkeer en aan ’n heerlike buffet-ontbyt smul. Daar is enigiets van kouevleis en kaas, tot pannekoek! Ons droom steeds oor die varsgebakte plaasbrood wat elke oggend op ons gewag het! Begin dan sommer om jou opwindende doendinge vir die res van die dag te beplan. 

De Zeekoe Guest Farm (Foto's: LekkeSlaap)

Jy kan ’n fiets op die perseel huur as jy teen dié tyd moeg is vir jou voertuig en die omgewing op ’n ander manier wil verken. Daar is ook verskeie plaaspaaie om te volg, bergfietsroetes vir kranige fietsryers en gaste kan die voetslaanroetes op die plaas aanpak of kanovaart wanneer dit lekker gereën het. Entoesiastiese voëlkykers is bederf met meer as 162 voëlspesies wat dié omgewing hul tuiste noem, so hou jou oë oop wanneer jy op die plaas rondbeweeg. 

En, wat is dan nou mooier as die Karoo se skitterende sterrehemel op ’n oop en helder aand? Hou die kennisgewingbord by ontvangs dop of vra sommer of daar ’n sterrekyk-sessie is wanneer jy by De Zeekoe Guest Farm kuier en bespreek dadelik. 

As jy ’n meer ontspanne naweek in gedagte het, is die spa op die perseel nét die plek vir jou. Jy kan na ’n verskeidenheid heerlike behandelings uitsien en soos ’n nuwe mens daar uitstap! Trek dan sommer dadelik jou sagte japon aan en ontspan verder op jou kamer se balkon of langs die swembad op die grasperk. 

Buiten die luukse kamers bied De Zeekoe Guest Farm ook selfsorg-houthutte langs die dam (die dam is tans leeg weens die droogte in die omgewing) en pragtige selfsorg-klipkothuise met hulle eie swembad. Dié eenhede is ’n paar minute se ry van die hoofhuis af en bied privaatheid.

De Zeekoe Guest Farm (Foto's: LekkeSlaap)

Hoewel jy vir dae lank by De Zeekoe Guest Farm kan wegkruip met sy hope doendinge, is ’n besoek aan Oudtshoorn nie volmaak as jy nie een van die volstruisplase in die omgewing besoek nie. Begin sommer jou Oudtshoorn-naweek met ’n besoek aan Highgate Volstruisplaas, die oudste volstruisplaas in die distrik, en doen een van hulle onvergeetlike volstruistoere! Tydens dié toer van sowat ’n uur leer jy interessante feite oor dié unieke voëls ─ byvoorbeeld, het jy geweet ’n volstruiskuiken se geslag kan eers na agtien maande bepaal word? Ek ook nie! Geraldine, een van die plaas se mak volstruise, deel graag drukkies uit terwyl die gids haar agter jou voer en jy kry ook die geleentheid om hulle met mieliepitte uit jou hand te voer. So, gaan vind ’n bietjie meer oor hierdie groot voëls uit en neem ’n paar kostelike foto’s saam met hulle. Daar is ook ’n lieflike koffietuin, restaurant en ’n winkel wat gesogte volstruisprodukte verkoop. 

Highgate Volstruisplaas (Foto's: Daniëlle Terblanche)

Gründheim Wines is op dieselfde grondpad as De Zeekoe Guest Farm en hulle wye reeks droë rooiwyn, soetwyn, likeur, brandewyn, witblits en gin is nét die ding om jou van binne af warm te maak. Dis beslis die moeite werd om van hierdie groot versameling by die proelokaal op die plaas te proe en hulle Black Mountain Karoo Flora Gin is een van my persoonlike gunstelinge. Maak gereed om met ’n paar bottels in jou kattebak daar weg te ry! 

Gründheim Wines (Foto's: Daniëlle Terblanche)

Wilgewandel Holiday Farm, op pad na die Kangogrotte, is sinoniem met Oudtshoorn en ek sal my eerste kameelrit hier as kind nooit vergeet nie! Daar is egter baie meer om te doen as nét kameelry op dié plaas. Kinders kan na donkiekarritte, ’n foefieslaaid, waterkarretjies, putt-putt, en trampoliens uitsien en daar is allerhande plaasdiere om te voer. Dít terwyl Ma en Pa by die restaurant iets lekker eet en ’n melkskommel drink. Moenie dié plaas verlaat vóór jy op een van die oulike kamele gery het nie. Dis ’n onvergeetlike Karoo-ervaring en ou Kaptein glimlag alte breed vir elke fotogeleentheid! 

Wilgewandel Holiday Farm (Foto's: Daniëlle Terblanche)

Wil jy jou dag op ’n hoë noot afskop? Dan moet jy beslis by Cango Caves Estate op dieselfde pad gaan Zipline! Daar is twee kabels langs mekaar sodat jy saam met iemand verby die prentjiemooi uitsigte kan snel en julle kry elk twee glybeurte. Jy het geen ervaring nodig nie ─ die gidse is daar om jou veiligheid te verseker. Die eerste kabel begin naby die Kangogrotte se ingang en is 180 meter van die tweede platform af. Jy stap dan so ’n entjie saam met die gidse tot by die derde platform wat 500 meter van die eindpunt af is. Moenie jou oë toemaak nie, die uitsig oor die Karoovlaktes is iets besonders! 

Cango Caves Estate (Foto's: Daniëlle Terblanche)

Daar is ook ’n restaurant en ’n koffiebrandery op die perseel waar jy ná die tyd jou kragte kan herwin. Of geniet ’n wyntjie op die stoep en kyk hoe ander waaghalse deur die lug gly. 

Vir iets ’n bietjie meer ontspanne, beveel ons aan jy gaan maak by Surval Boutique Olive Estate ’n draai. Dié pragtige olyflandgoed met ’n uitsig op die Swartberg is soos ’n oase in die Karoo en dis moeilik om te dink dat dit net ’n paar kilometer buite die dorp is. Hulle produseer heerlike olyfprodukte en gehalte-olyfolie wat jy kan proe ─ ons het onsself knuppeldik aan broodjies met olyfblatjang, -konfyt en -tapenade geëet. Jy kan ook ’n begeleide olyftoer op die plaas doen en meer oor hierdie interessante produk en produksieproses leer. En, as jy ná die proesessie steeds ’n leë kolletjie op jou maag het, kan jy by die elegante restaurant op die perseel aansit vir ’n onvergeetlike maaltyd. Die restaurant dien ook as ’n asemrowende trouvenue en daar is selfs ’n kapel op die perseel. 

Surval Boutique Olive Estate (Foto's: Daniëlle Terblanche)

Wie sou nou dink dat daar ’n bierbrouery in Oudtshoorn se berge skuil? Wel, daar doen! Thorny Creek Brewery and The Red Bus Café is ’n unieke brouery en restaurant tussen die berge op die George-pad soos jy Oudtshoorn verlaat. Olga is passievol oor die kos wat sy maak en gebruik net seisoenale, organiese produkte wat op die perseel groei, daarom verander die spyskaart gereeld. Elke item op die spyskaart lyk heerlik! Rob maak die boetiekbier op die perseel en bied ook ’n baie lekker en informatiewe proesessie aan. My gunsteling was die Amber Ale en daar is ook ’n Hazy Ale, IPA en ’n moutbier. Gaan kuier gerus by hierdie passievolle paartjie en ondersteun hulle poging om ’n ligter spoor op die aarde te laat! 

Thorny Creek Brewery and The Red Bus Café (Foto's: Daniëlle Terblanche)

Met so baie om te sien en doen moet jy beslis ’n hele naweek in Oudtshoorn vertoef! Daar is iets vir elke gier, of jy kan net in die stilte van die Klein-Karoo ontspan!

’n Spesiale dankie aan De Zeekoe Guest Farm vir hulle gasvryheid en Oudtshoorn Toerisme vir hulle beplanning en bederfies!

Hooffoto: De Zeekoe Guest Farm (LekkeSlaap