Die Suid-Afrikaanse platteland is ’n skatkis vol oulike wegbreekbestemmings wat wag om ontdek te word. LekkeSlaap het tien blyplekkies opgespoor wat met spatsels blou in bekoorlike kothuisies so reg uit ’n sprokiesverhaal omgetower is. Hiér sal jou wildste sprokiesdrome bewaarheid word!

Francolin Cottage | Foto: LekkeSlaap.

In die hartjie van die kunstenaarsdorpie, McGregor, nooi Francolin Cottage se poeierblou voordeur ’n mens gulhartig binne — jy voel sommer soos Gouelokkies wat vir die eerste keer voor die Drie Bere se huisie te staan kom! Dié pophuismooi plekkie spog met ’n pragtige prieel op die voorstoep en ’n groot tuin waar die jongspan kan baljaar.

Francolin Cottage se lekker kuierstoep (links); Die prieel strek reg rondom die huisie (regs-bo); 'n Snoesige slaapkamer | Foto's: LekkeSlaap.

Francolin Cottage het slaapplek vir 6 gaste en is lekker naby al McGregor se besienswaardighede geleë. Dié dorp se Kunsroete is ’n kunsliefhebber se droom! Bespreek gerus ’n tafel by die Karoux Restaurant vir ’n smullekker maaltyd of gaan drink laataand ’n knertsie by die Old Post Office Whisky Bar.

Shades of Provence (Foto: LekkeSlaap).

Shades of Provence is ’n lieflike dorpshuis in Riebeek-Kasteel met ’n Franse kinkel. Nadat die eienaar, Clara, vir ’n rukkie in Frankryk was, het sy besluit om haar gastehuis in Suid-Afrika met ’n laag uitbundige geel verf op te kikker. Die giggelgeel mure en die blou hortjies pas mooi by Suid-Afrika se sonskyndae en helderblou lug.

'n Oulike sithoekie op die stoep (links-bo); 'n Gesellige kuierarea (links-onder); 'n Groot plaaskombuis vir bak en brou (regs-bo); Shades of Provence op haar beste (regs-onder) | Foto's: LekkeSlaap.

Dié sjiek huis het slaapplek vir 8 gaste in 4 en suite-slaapkamers en dis perfek vir ’n plattelandse gesinswegbreek.

Maak ’n draai by die Bar Bar Black Sheep Restaurant en snuffel in die Aitsa-tuisnywerheid rond vir plaasprodukte, varsgebakte brood en beskuit, en olywe van Kloovenburg en Het Vlock Casteel.

At 85 on Church | Foto: LekkeSlaap.

At 85 on Church lê in die tjoepstil Karoodorpie, Prins Albert. Dié prettige platdak-tuinhuisie is die perfekte plek om luilekker te kuier en eers van jou saai roetine te vergeet. Miskien is daar selfs ’n padda langs die swembad wat met ’n soen in jou sprokiesprins kan verander!

Kuier op die plaasstoep (links-bo); Krul voor die kaggel op (links-bo); At 85 on Church in haar volle glorie (regs-bo); Spierwit linne sorg dat jy lekker slaap (regs-onder) | Foto's: LekkeSlaap.

Die tuinhuisie het slaapplek vir 2 gaste, so dis die ideale plek vir ’n romantiese wegbreek.

As jy ’n soettand het, besoek gerus die Weltrevrede-vyeplaas vir vars, gedroogte en gebottelde vye. Dapper stappers kan Cape Nature se Bloukop-staproete naby Tierberg aandurf en lekkerbekke kan hul koslus by Simply Saffron blus. Kultuurdiere kan ook ’n draai by die Prince Albert Gallery maak om die skilderkuns, etswerk en keramiekkuns van Suid-Afrikaanse kunstenaars te bewonder.

Dunstone Manor | Foto: LekkeSlaap.

Dié elegante herehuis is tussen wingerde en ontwerperstuine op die Dunstone-landgoed in Wellington versteek. Die babablou hortjies en deurkosyne skep ’n stylvolle Frans-Provensaalse voorkoms wat jou sal laat voel asof jy in die Franse platteland kuier. Krul knus voor die kaggel in die Dunston Manor-sitkamer op en verdiep jou in jou gunsteling-storieboek of spog met jou bakvernuf in die begeerlike kombuis.  

Dunstone Manor se bekoorlike blou hortjies (links); Ontspan in die weelderige sitkamer (middel-bo); 'n Sjiek slaapkamer (regs-bo); Die Manor se kristalhelder swembad (links-onder) | Foto's: LekkeSlaap.

Dunstone Manor bied slaapplek aan 6 gaste, so jy kan al jou vriende saamneem om in die Boland te gaan kuier. Julle kan aan die bekroonde Dunstone Shiraz by die Stone Kitchen Bistro op die Dunstone-landgoed gaan proe of die straatjies van Wellington verken. Maak seker dat julle by The Perfect Place in Kerkstraat aandoen vir heerlike koek en tee of die Wellington Museum besoek waar eeue oue Afrika-geheime ontsluit word. Pak stapstewels vir die Bobbejaansrivier-staproete en gaan neem pragfoto’s van watervalle in die kloof.

The Boathouse | Foto: LekkeSlaap.
Ons almal droom van ’n huisie by die see en wat is nou beter as ’n witgekalkte vissershuis met ligblou deure en luike? The Boathouse in Jacobsbaai beloof om vlerke te gee aan jou seevakansie-drome! Die sondek is die ideale plek om te ontspan en die besonderse Weskus-sonsongergange te geniet.

Die romantiese solderkamer (links); Die sondek met 'n houttafel en -bankies (regs) | Foto's: LekkeSlaap.

Die huis is lekker groot met oorgenoeg plek vir 8 gaste, maar jy kan ook jou geliefde met ’n sprokiesagtige naweekwegbreek bederf en net die privaat solderkamer vir julle tweetjies bespreek.

Jacobsbaai is piepklein en lekker rustig, maar daar is heelwat doendinge in die omgewing. Gaan ry perd op die strand saam met Drikus Horse Trails of gaan eet vis en tjips by die Weskusplek Restaurant.

Jill Rose Geust House | Foto: LekkeSlaap.

Jill Rose Guest House is ’n skattige huisie in Dullstroom met ’n speelse atmosfeer wat vrye teuels aan jou verbeelding gee. Dis vars en vrolik in geel, blou en wit, en lyk amper nét so oulik soos Sneeuwitjie en die Sewe Dwergies se huisie in die woud!  

Die mooi badkamer met die blomme-teëls (links); Die Champagne Moments-kamer (regs) | Foto's: LekkeSlaap.

Dié huisie het slaapplek vir altesaam 12 gaste in slaapkamers wat lieflik versier is en een van die badkamers spog met pragtige geblomde teëls so rég uit ’n feëverhaal.

Dullstroom is natuurlik ’n paradys vir kunsvlieghengelaars! Terwyl die manne rondom die viswaters saamtrek, kan die vrouens gerus inloer by die Dimitrov Kunsgalery of Pickles & Things vir ’n heerlike koppie boeretroos.

Klaasvoogds Cottages | Foto: LekkeSlaap.

Aan die voet van die Langeberge lê ’n luukse vakansiekothuis waar jy rus vir jou siel sal vind. Wanneer jy die blouselblou skuifraamvensters van Klaasvoogds Cottages oopmaak, wag daar vir jou wonderskone uitsigte oor die Klaasvoogsvallei en jy sal vir dae lank op die stoepie kan sit en uittuur oor die wingerde.

Asemrowende uitsigte vanuit die sitkamer (links); Span heerlik op die voorstoep uit (regs-bo); Die ongekunstelde kombuis (regs-onder) | Foto's: LekkeSlaap.

Die kothuis het slaapplek vir 3 gaste en is ingerig met handgemaakte meubels en lieflike olieverf-skilderye.

Gaan verken die Robertson-wynvallei en besoek die Fraai Uitzicht Restaurant vir uitstekende fynproewersdisse of die Mabrin-plaas vir olywe en olyfolie. Die Breederivier is ideaal vir riviervlotvaart en jy kan ook gaan kyk hoeveel van die 250 voëlspesies jy op die Van Loveren-voëlkykroete kan gewaar.

Little Oak Cottages | Foto: LekkeSlaap.

Little Oak Cottage is ’n skilderagtige grasdak-kothuis wat in die mooie Greytonvallei skuil. Dié huisie is in ’n byderwetse blou baadjie getooi. Die plekkie lyk amper bedrieglik klein van buite, maar dis lekker ruim binne met tientalle oulike sithoekies.

Plons in die lekker swembad (links); Braai op die lieflike houtdek (regs-bo); Little Oak Cottage se oulike blou hortjies (regs-onder) | Foto's: LekkeSlaap.

Daar is net slaapplek vir 2 gaste, so dis die perfekte plek om gehaltetyd saam met jou gunsteling-mens deur te bring.

Huur ’n outydse fiets en gaan op ’n ontdekkingstog deur Greyton. Neem ’n blaaskansie by die bekende Heart & Soul Restaurant waar jy jou kan verlustig in vegetariese geregte of die Vias Deli vir koekies, sjokolade en koffie.

Fabulouse Beach Cottage | Foto: LekkeSlaap.

In Britanniabaai pryk daar die allerfraaiste wit-en-blou strandkothuis sommer naby die see! Fabulous Beach Cottage is keurig ingerig en met ligte kleure versier om ’n kalm strandatmosfeer te skep. Die breë stoep is ideaal vir vroegoggendkoffie en ’n glasie wyn saans.

Britanniabaai se skilderagtige strand (bo); Kuier om die houttafel op die stoep (links-onder); Ontspan in die sitkamer op 'n reënerige dag (regs-onder) | Foto's: LekkeSlaap.

Fabulous Beach Cottage het slaapplek vir 4 en is ideaal vir 2 paartjies wat saam Weskus toe gaan. Bespreek ’n tafel vir julle 4 by die Alegria Restaurant in St Helenabaai of pak ’n piekniekmandjie om op Britanniabaai se strand te geniet.

Witklip Guest Farm | Foto: LekkeSlaap.

Witklip Guest Farm is ’n ou plaaskothuis in die Swartland wat onlangs deur die eienaars, Möller en Ronelle, opgeknap en vir gaste ingerig is. Dié huis se pastelblou-voorkoms is geïnspireer deur ’n antieke blou-en-wit gestreepte blikkie wat Ronel by haar skoonma gekry het en ’n blou geblomde blikbord wat sy by haar ma geskenk gekry het. Dié items word vandag in die prentjiemooi Blou Kamer uitgestal waar jy amper so rustig soos Doringrosie sal slaap!

Die boma is ideaal vir 'n gesinskuier onder die sterre (links-bo); Elke sithoekie is sierlik ingerig (links-onder); Die Blou Kamer spog met erfstukke (links-bo); In die plaaskombuis is daar 'n vuurmaakplek (regs-onder) | Foto's: LekkeSlaap.

Dié plaaskothuis het slaapplek vir 8 gaste wat dit ideaal maak vir ’n familie-saamtrek. Julle kan gesellig om die boma-vuur kuier en julle aan die sterrehemel verkyk.

Witklip Guest Farm is sentraal geleë vir daguitstappies na Darling, Piketberg en Porterville. Jy kan inloer by die eklektiese The Marmelade Cat  en 4×4-entoesiaste kan die Heuningberg-roete naby Porterville aanpak.

Moenie op jou laat wag nie! Bespreek sommer nóú jou plattelandse wegbreek as dié bekoorlike blou kothuisies jou hart gesteel het.

Hooffoto: Francolin Cottage (LekkeSlaap).