Net hiér sal jy sien hoe ʼn inwoner met sy koei gaan wandel. Net hiér word byna als plaaslik geproduseer (behalwe sjokolade!). Net hiér het elke liewe inwoner een of ander versteekte, unieke talent. Net hiér is daar meer honde as mense by die plaaslike markie op ‘n Saterdagoggend. En net hiér sal jy wegstap met sybokhaarhandskoene, organiese druiwesap, ʼn briefie van jou aangenome donkie, die lekkerste chardonnay of MCC, pietersielie-pesto, grappa met ʼn lemoengeur, Bloody Mary-mengsel in ʼn ou Tabasco-bottel, handgemaakte seep, gedroogde olywe en ʼn hele paar nuwe vriende. In McGregor is daar letterlik iets vir elke smaak!

Dié dorpie met sy eiesoortige karakter, vriendelike inwoners en produktiewe gemeenskap, is versteek in die skilderagtige Robertson-wynvallei en is naby Roete 62, die langste wynroete in die hele wêreld! Dis dus vanselfsprekend dat bekroonde wynplase taamlik volop is in dié omgewing. Buiten die wynplase is daar egter nog soveel meer om te sien en ervaar, van fynproewersrestaurante, topklas-galerye, eksotiese toevlugsoorde, ʼn donkie-reservaat, plaaslike markies en ʼn hele paar feeste wat jaarliks in die omgewing gehou word (onder andere Wacky Wine van 4 – 7 Junie in Robertson). En dan het ons nog nie eers iets oor die akkommodasie gesê nie! Wow. 

Twee verteenwoordigers van die LekkeSlaap- en Travelground-span (ons Engelse susterwebtuiste) is deur McGregor Country Getaways genooi om vir ʼn naweek al McGregor se skatte te ontdek, maar ons het gou besef ʼn naweek is eenvoudig nie genoeg nie! Daarom is dit ook onmoontlik om die hele naweek in een blog-inskrywing op te som. Hiermee wil ons jou sommer net eers ʼn voorsmakie gee van hoe die ideale naweek in McGregor lyk! 

Eetplekke

McGregor en sy omgewing se eetplekke bied iets wat in elke besoeker se smaak sal val, van fynproewersmaaltye by Tebaldi’s, olyfprodukte by Villagers, ʼn fênsie ontbytbroodjie by Eseltjiesrus tot ʼn watertandlekker pizza gemaak deur ʼn bekroonde kok by Lord’s Guest Lodge.

Blyplekke

Ons was aangenaam verras met al die lekke blyplekke in McGregor op ons webtuiste verskyn! Ons was gelukkig genoeg om ʼn hele paar van dié lekke lêplekkies te besoek. Daar is iets wat elke sak en smaak pas. Hier kan jy kies tussen McGregor Country Getaways se selfsorgkothuisies in die dorp, ʼn luukse gesinshuis met ʼn groot tuin en swembad, ʼn swierige lodge-kamer by Lord’s Guest Lodge teen die Koningsrivierheuwels, ʼn tuinkothuis in die middedorp se salige toevlugsoord Temenos of ʼn gesellige tuin-eenheid op Tanagra Wyn- en Gasteplaas.

Wynplase

As ʼn oud-Matie is ek vertroud met en lief vir Stellenbosch se wynroete, maar die wynplase in dié omgewing was omtrent ʼn belewenis. Net soos ek dink ek het my gunsteling-wyn opgespoor, proe ek weer een wat my van plan laat verander! Elke wynplaas bied ook ʼn buitengewone ervaring wat elkeen besonders maak.

Doendinge

McGregor en die omliggende vallei sal jou dae lank kan besig hou. Buiten die lekker eetplekke en wynplase is daar heelwat ander dinge om te doen, sien en ervaar. Ons het ʼn lekke voorsmakie gekry van wat die omgewing aan besoekers bied en ons sal beslis moet teruggaan om die res te beleef.

Sjoe, dis klaar ʼn mondvol! Maar hou ons blog dop vir meer detail oor eetplekke, blyplekke, wynplase en doendinge wat jy moet beleef as jy McGregor of die Robertson-wynvallei binnekort gaan besoek. Ons het dit eerstehands ervaar en vertel jou van al die versteekte skatte wat hier skuil. Weereens dankie aan Mira Weiner by McGregor Country Getaways wat dié ongelooflike naweek moontlik gemaak het!

Dankie aan Expressions Photography en Darren Combrinck van DC Tours wie se foto's in die blog verskyn.