Is jy ’n fynproewer van formaat? Of net iemand wat lief is vir smullekker kos in stylvolle restaurante? LekkeSlaap wys jou dié week ’n rits restaurante regoor die land waar jy kan aansit vir ’n smaak-ervaring wat jy nie sommer sal vergeet nie en waar jy óók in styl kan oornag!

Dié restaurant is in die Atholplace Hotel and Villa in SandtonGauteng en is vanjaar aangewys as die beste restaurant in Johannesburg. AtholPlace Restaurant is omring deur tropiese bome en bied uitsigte oor die prentjiemooi tuin en swembad. Jy kan canapé’s en ’n heerlike glas wyn of boetiekbier in die knus biblioteek geniet voor jy aansit vir die driegangmaaltyd. Dié spyskaart verander saam met die seisoene om ’n unieke ervaring met elke besoek te verseker. Die restaurant maak ook so ver moontlik van vars, plaaslike produkte gebruik.

As jy trommeldik geëet is en jy nie lus het om huis toe te ry nie, kliek gerus hier om by die hotel oor te slaap

________________________________________________________________________________________

Die spyskaarte by Camp Jabulani in  Limpopo verander daagliks. Kosjer- en halaal-maaltye kan gereël word en daar is opwindende vegetariese opsies. Camp Jabulanie se sjefs hou daarvan om persoonlik met hul gaste te gesels en bied daarom self die spyskaart aan die begin van die aand aan. Dié restaurant is ook bekend vir hul bekroonde wynversameling. So probeer gerus ’n bottel lieflike Kaapse wyn in die bosveld! Boonop kan jy eerstehands kennis maak met die sjefs se geheime en tegnieke tydens die kookklasse, wat hier aangebied word.

As jy ’n paar glase wyn wil geniet, bespreek sommer hier om by Camp Jabulani te oornag. 

________________________________________________________________________________________

Fusion Boutique Hotel se fynproewersrestaurant, Saskia, is vernoem na die kunstenaar, Rembrandt van Rijn, se vrou en muse. Hier kan jy jou verkyk aan moderne weergawes van tradisionele Rembrandt-skilderye, terwyl jy aan hemelse fusion-disse smul ─ elkeen op sigself ’n sappige kunswerk! Probeer die heerlike lams-, hoender-, of beeskerrie ─ die vleis is van ’n baie hoë gehalte en word plaaslik geproduseer. Die restaurant is ook bekend vir sy unieke crème brulee, wat bestaan uit ses sopieglase, elkeen met verskillende jellie-likeure aan die onderkant en bedek met crème brulee.

Kliek gerus hier om ’n kamer in dié kunssinnige hotel te bespreek.

________________________________________________________________________________________

Soos meeste Italianers, glo La Dolce Vita by die La Dolce Vita Guest House dat kos die taal van die liefde is. Buiten ‘n heilsame Italiaanse ontbyt, bied hulle ook ‘n romantiese driegang-kersligete met Belgiese sjokolade en Italiaanse koffie. As jy nog méér romanse soek, bied hulle ook ‘n privaat eet-ervaring met sagte lig en klassieke musiek. Konferensies en privaat partytjies kan hier gehou word waartydens die hoofsjef sy beroemde Italiaanse buitelug-tafel bied. Op ’n Sondag kan jy ’n sonsondergang-bootvaart met versnaperings en ’n kersligete op die Hartbeespoortdam tussen die Magaliesberge geniet.

As jy jou geliefde wil bederf, kliek gerus hier om ’n  pragtige kamer by die gastehuis te bespreek.

________________________________________________________________________________________

Orange Restaurant by Loerie’s Call Guesthouse in Nelspruit is al met meer as 12 toekennings vir voortreflikheid en uitnemendheid bekroon. Dié restaurant bied skilderagtige uitsigte oor Nelspruit se middestad bo van ’n heuwel af. Geniet ’n mengeldrankie op die dek voor jy  ’n dekadente maaltyd in die fynproewersrestaurant gaan nuttig. Dié restaurant is spoggerig met vollengte glasvensters, en swart, wit en spatsels goud op die mure. Orange Restaurant is van Maandag tot Saterdag vir middag- en aandete oop en bied ’n volledige à la carte-spyskaart.  

As jy na ‘n aand van heerlike kos en wyn by dié gastehuis wil oorslaap, kliek gerus hier om ‘n kamer te bespreek. 

________________________________________________________________________________________

Hiér in Kaapstad se alombekende One&Only kan jy die legendariese sjef, Nobuyuki “Nobu” Matsuhisa, se enigste restaurant op die kontinent beleef. Nobu vermeng innoverende, klassieke Japanese kookkunstegnieke en maak gebruik van Suid-Afrikaanse seekos en inheemse speserye.

Op sy beurt verwelkom Reuben Riffel paartjies en families, ook by die One&Only, en slaag hy daarin om die Suid-Afrikaanse gees en trots vas te vang in sy eerste stedelike restaurant, Reuben’s. Dié restaurant het ’n gesofistikeerde, dog gesellige brasserie-atmosfeer en die geregte bevat die opwindende kombinasie van plaaslike geure wat jy van een van Suid-Afrika se mees geliefde sjefs sal verwag. Reuben’s se sjarme betower die kulinêre sy van die siel en jonk en oud word hiér ewe veel bederf.

Ná al die liplekker disse sal jy beslis nie wil huis toe gaan nie, so kliek gerus hier om ’n aand in die bekende One&Only oor te slaap.  ________________________________________________________________________________________

Dié deftige restaurant by die Tomjachu Bush Retreat is net oop vir gaste wat by die hotel tuisgaan, funksies en op spesiale versoek. Hulle bedien viergangmaaltye en gebruik plaaslike produkte, asook produkte wat op die plaas gekweek word ─ soos heerlike heuning, kruie en groente. Jy kan ’n lieflike aandete onder die sterre nuttig of piekniek langs die water hou. Probeer hul impala-pastei, tuisgemaakte brood of see-engel.

Hiér kan jy ook ’n salige nagrus geniet, so kliek gerus hier om jou blyplek in die bosveld te bespreek.

________________________________________________________________________________________

Die Quarterdeck Restaurant by The Portswood bied Indiese kookkuns en Kaap-Maleise versierings. Daar is ’n mengeldrankie-kroeg, waar jy aan ’n  verskeidenheid drankies kan teug. Die hoofsjef is bekend vir sy Chef’s Feast, ’n driegangmaaltyd met gewilde disse op die spyskaart wat deur Mark gekies is. Dié maaltyd beloof ’n smaak-ervaring wat Maleise kookkuns se unieke geure na vore bring. Jy kan vooraf ’n skemerkelkie by The Link Bar in die restaurant geniet, met lieflike uitsigte op Tafelberg en die hotel se indrukwekkende tuin.

Kliek gerus hier as jy jou eet-ervaring wil afsluit in een van die mees gesogte hotelle in Kaapstad.

________________________________________________________________________________________

So, maak jou gereed vir ’n maaltyd voorberei deur van Suid-Afrika se bekendste sjefs. Sluit dan dié heerlike ervaring af met ’n nag of twee in een van die gesogte hotelle, gastehuise of lodges op die perseel.

Hooffoto: LekkeSlaap